jump to navigation

Verhale van die Kotskoets 3: Nagte op die berg Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Done deals.
add a comment

Daar is ‘n klomp goed wat ek jou van die Kotskoets kan vertel – hoe hy geen heater of selfs ‘n waaier ingehad het nie en hoe ek paar keer amper gevries het in die laat nagte op pad terug van klas af in Potch tot by die huis in Klerksdorp in die winter.

In alle geval, die Kotskoets het ook sy redeaming qualities gehad. Die ding was só klein en lig dat hy maklik op plekke gegaan het waar ander karre nie kon nie. Omdat hy smal was, het hy op nou plekkies ingekom. Verder het hy ook baie ruimte gehad en die cargo-mat wat agter in was, het baie punch gevat. Daar was wegsteekplek vir bottels en goed waar die agterseats sou wees, so daar was omtrent altyd iets snaaks onder die flap te kry….

Anyway – waarvoor die Kotskoets half beroemd geraak het, was om ander mense, hoofsaaklik inskiklike dames, tot op ‘n koppie naby ons losieshuis te vat sonder sukkel. Daar het mens nou diep dinge gesels en wyn gedrink en die liggies en soms die sterre ook gekyk tot laat die nag. Soms het dit baie lekker geraak. Die Kotskoets het só deel van ‘n hele paar avonture geword.

Die aand toe ek en Andy die pad huis toe twee keer moes loop en teen die koppie terug.

Een ander aand het ek met die ding in ‘n gat geval en die twee girls by my moes hom help uitlig terwyl ek die bestuurwerk doen. Dit het glad nie gehelp dat ons al drie op daardie stadium hele paar bottels wyn in had nie.

Een keer het ek en een ander girl só vasgeval met die kotskoets dat hy later tot teen sy kant in ‘n diep sloot was, en ons moes gaan hulp soek het om weer die kar los te kry – baie embarrassing. Die hulp kom toe van ouens wat ons by ‘n kroeg ontmoet. Ek los die girl by die bar en ek en die ou gaan haal die kar uit die sloot. Teen die tyd dat ek terugkom, lag al die dronk mense vir my en ek is ‘n legend oor my planne met die girl op die berg.

Dis egter vir sulke aande waarvoor die Kotskoets die beste kar ooit was. Hy het nie krag gehad nie, hy het nie styl gehad nie, hy het nie eers ordentlik werkende vensters of selfs ‘n fan gehad nie, maar ek het van die beste tye in my lewe in die Kotskoets gehad.

Verhale van die Kotskoets 2: Ongeluk Mei 21, 2009

Posted by oomherman in 1.
1 comment so far

Soos vroeër vertel, het ek ‘die Kotskoets’ gekoop met ‘n lening van United daardie tyd. Woes trots op my eerste kar en daar is ‘n oulike meisie wat ek al lank in die oog het. Ek bel haar en hoor van uitgaan payday se aand. Ja, dis reg.

So gesê, so gemaak. Laai haar op, op die aand wat die eerste aftrekorder van my salaris afgaan vir my eerste kar. Sy sit langs my, ek gedra my mooi en ons besluit so ry-ry waarnatoe ons gaan vir aandete. Ons sit nog so by ‘n rooi robot, toe hoor ek iewers agter my tires skree nou soos varke wat verwurg word. Ek had net tyd gehad om in die spieël te sien hoe twee Ford-Cortina voorligte dip soos die ou briek aanslaan – hopeloos, hopeloos te laat.

Die Ford tref ons met ‘n moerse slag van agter af, Hy stamp ons in die kar voor ons vas, wat wegjaag. Nou is dit ‘n f$%op. Ek kan niks sien nie – my bril is weg. Die meisie is half verslae. Ons het altwee ons koppe hard teen die voorruit gestamp. Ek soek my bril. Ek klim uit die kar om te kyk wat aangaan. Agter my staan die Ford en pie sy bodily fluids die hele pad vol. My kar het ‘n identiteitskrisis – van agter lees hy nou Ford, van voor Volkswagen, en teen die kante Corolla. Die ligte is uit, die agterdeur werk nie meer nie, die bonnet het ‘n baie prominente knop, of daar iewers dalk ‘n supercharger wegkruip. Altwee die sitplekke het vir die res van die kar se lewe so half skuins agteruit gelê. Ai! Ek loop paar keer om die kar – in skok en verslae. Elke keer as ek by my deur verbyloop, steek ek my kop by die deur in en vra die girl my twee standaard vrae vir die aand:
‘Is jy OK?’
‘Ja.’
‘Waar is my bril?’
‘Ek weet nie.’

Ek kry uiteindelik die bril en voel toe gemakliker. Die ou in die Ford is so getrek soos ‘n brastrap – hy staan met moeite regop. Die polisie, wat gou op die toneel was, merk dit skynbaar nie op nie. Anyway – gedane sake. Ek leen iemand se selfoon, wat daardie dae nog baie skaars was, en bel my pa om ons te kom haal.

Die girl en ek sit nog so op die sypaadjie en wag, toe hoor ons ‘n helse geraas nader kom. Dis die geloei van ‘n brandweerlorrie – die grootste, rooiste lorrie wat Kimberley het. Hulle kom met ‘n helse vaart om die draai (die ongeluk was omtrent net 2 blokke van die brandweerstasie) en jaag tot tussen waar die twee gebuigde karre staan. Vinnige woordewisseling met die Polise en, siende dat daar nie regtig werk vir hulle is nie, spring twee van hulle af met besems en vee die stukkende ligte van die pad af. Dit gedaan, 20 sekondes later, en daar trek die lorrie weer, sirenes steeds op volle volume. Ek lag só dat ek alles vergeet van die kar en my penarie met die girl en dat ons tydelik gestrand is.

My oorle swaer het later lang dae spandeer om die kar weer reg te maak – daar was nie geld vir panelbeaters nie. Ek het ‘n ander een op ‘n speelgrond by ‘n kerk gevind en hom by die kerk gekoop vir parte om myne reg te maak. Ek het ‘die Kotskoets, wat toe sy naam selfs nóg meer gestand gedoen het, vir jare so gery, totdat ek my eerste nuwe kar gekoop het.

Verhale van die Kotskoets 1: Koop Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Done deals.
add a comment

Die ding met die trek uit Kimberley na Klerksdorp het half vereis dat ek ‘n kar moes hê. Tot op daardie stadium in my lewe het ek myself oortuig ek kan eenvoudig nie ‘n kar bekostig nie. Ma se kar ry nog lekker, dankie. Met dié dat ek toe nou wil trek en gaan swot en goed, was daar egter nie ander uitweg nie. Nou is die kar ‘n bekommernis, want my kantoor in die nuwe dorp en my blyplek is etlike kilometers uitmekaar. In alle geval, ma kom tot die redding. Sy kom eendag tuis en sê daar is ‘n ou by die werk wat ‘n ou karretjie van sy ma het wat hy wil verkoop.
Watse kar?’

‘‘n Toyota.’

‘Watse Toyota?’

‘Ek weet nie’

‘Hoeveel soek hy?’
‘R 3,500.’
Wat ek waar moet kry?’
‘Maak ‘n plan.’

Sy was natuurlik reg. Ek sou nie hierdie keer wegkom van kar koop nie. Ek gaan leen geldjie by die bank. Persoonlike lening vir R 5000.00. Daarmee kan ek die kar koop, nuwe bande opsit en dalk ander los goed doen wat nodig is.
Ek gaan sien die ou by sy huis. Hy wil nie graag byt aan die deal nie – hy is maar erg oor die karretjie, maar ons ruil geld vir kar en dáár gaat ek. Die ding het ‘n eclectic mix van bande op en ry nêrens met twee wiele in dieselfde rigting nie. Daar is nie handvatsels vir die deure nie – ek het hulle gefabriseer uit stukke flatbar en swart geverf. Daar is nie ‘n waaier of heater nie. Daar is net twee airvents – een aan elke kant, met twee settings – oop of groot oop. Geen agterseat, ens, ens ens.  Vier versoolde bande van Dion’s sien toe na die ry – min of meer. Jy hou altyd sommer so 4 of 5 petrolfilters aan – ek het gereeld met verstopte filters gaan staan. Maksimum spoed (aangedui) ooit bereik was amper 120 – teen die bult af by Stilfontein. Ek kan lank praat om uit te gesels oor die kar, oor alles wat poef was en alles wat my jammer maak dat ek hom ooit verkoop het, maar dis was my eerste kar. Ek dink dit het my vriende die somtotaal van 4 minute gevat om die ding ‘die Kotskoets’ te doop. So, for better or for worse, ek het die Kotskoets.

Die Kotskoets. 'n 1976 Toyota 1200cc Panelvan. Geen agterseats, geen niks.

Die Kotskoets. 'n 1976 Toyota 1200cc Panelvan. Geen agterseats, geen niks.

Losieshuisverhale 3: Rotte maak dit amper glad nie Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
1 comment so far

Andy, die ou met wie ek die losieshuiskamer gedeel het, het ‘n groot wit rot gehad wat saam met ons in die kamer gebly het. Die ding het ook eintlik net nominaal in die kamer gebly, want hy was deur die dag glad nêrens te sien nie. Waar hy sy toilet-dinge gedoen het, weet geen mens nie, maar dit was beslis nêrens in die kamer nie. So, dit was maklik om met die rot huis te hou. Hy het in die aande, as ons retire, sommer net iewers skielik verskyn, die aand saam met ons gekuier en in die oggend was hy weer weg. Die rot het nooit ‘n naam gehad nie – dit was net ‘die rot’.

Met dié laat ons so begin wyn drink het saans, was dit half logies dat die rot ook moes saamdrink. Ons het vir hom ‘n Coke-bottel proppie vol gegooi in die aande en dan drink hy saam met ons wyn. Lekker. Hy het meeste aande paar mannewales uitgehaal, maar een aand het jy op die vloer tussen ek en Andy se beddens aan die slaap geraak. Die ou was seker moeg. Toe Anél inkom om nag te sê of seker om vir ons te sê om stiller te wees, toe trap sy op die rot. Ons was baie bekommerd oor ons groot vriend se welstand, maar die ou het dit met mannemoed gevat. Hy was so twee aande weg en ons was regitg bekommerd laat hy iewers loop vrek het, maar die derde aand was hy maar weer daar.

Ek wonder wat van Andy se losieshuis-rot geword het? Andy het voor my uit die losieshuis getrek, en sover ek weet het die rot nie saam getrek nie. Die rot was egter toé al weg.

Losieshuisverhale 2: Vrinne maak dit beter Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

Ek het eers in die losieshuis saam met iemand ‘n kamer gedeel. Dit het, om die minste daarvan te sê, glad nie lekker gewerk nie. Toe betaal ek die tannie meer en bly vir ‘n rukkie op my eie. Toé knyp die geldjie weer en ek trek saam met iemand anders in. Wat ‘n groot verskil kan een persoonlikheid maak! In ou Andy het ek nou opsluit ‘n boesemvriend gevind. Ons het klomp goed saam gedoen. Altwee is heeltemal kar en bike bedonnerd. Altwee kyk girls, druk girls en compare notes agterna, altwee eet lekker en altwee lees graag. Ons altwee kan met goeie herinneringe oor ons armydae praat. Altwee is heeltemal bereid om belt vaster te trek as die geld nie die maand loop nie en ons deel stuff.

Andy het ‘n baie lekker kar gehad. Ons het sommige weke geld gehou om naweke plekke heen te ry en goed te verken – soos lugskoue en ander plekke waar onnodige hoeveelhede petrol in die jag na spoed verbrand word. Eenkeer Kimberley toe om by my ma-hulle te kuier vir die dag – sommer net en omdat ons geld vir petrol min was, het ons stadig gery – Kimberley toe teen 90km/ur. Die halftenk vat ons soontoe en terug.
Die ander keer het ons met die Kotskoets op die berg wyn gesit en drink en toe ons terugkom was die wiel pap. Die kar se spaarwiel was gesteel so ons moes die wiel afhaal, indra dorp toe, laat regmaak, en terugdra teen die koppie uit na die kar toe, aansit en weer terugry. Ons was pootuit en het baie laat daai nag by die huis gekom.

As mens onder sulke onstandighede saamleef, dan ontwikkel jy sommige klein rituele. In die aande, as almal anders wat nog leer gaan swot of uitgaan, dan is ek en Andy na ons kamer toe. Andy pak sy ekstra aandete (wat Anél vir hom gedeps het by die tannie) uit en eet eers klaar. In die eerste week van die maand, stap ons dan winkel op die hoek toe en koop vir ons elkeen ‘n liter Coke. Dis ons bederf vir die aand. Elke aand rustig sit en Coke drink en gesels lang sinne oor hoe cool ons eendag gaan lewe – baie soos die army, mind you… Die tweede week van die maand deel ons die Coke, want nou sit ons geld bymekeer om die Coke te bekostig. In die derde week koop ons elkeen “koei-Coke”. (Melk wat jy per liter uit die tenk koop en sommer in die Coke-bottel gooi.) In week vier deel ons die liter melk ook – volgende week is weer pay-kry se tyd.

Dit het lank so aangegaan tot ek die een maand die bright idée kry dat, vir die prys van paar bottels Coke, kan ek vir ons ‘n lekker cheap boks wyn koop. Ek dink dit was daai tyd iets soos R 29,99 by Checkers vir 5 liter. Nou sit ons die kan wyn in die hangkas en dan tap ons sulke klein glasies elke aand uit. Dit het lekker gewerk. Andy se rot het ook sommer sy deel wyn gekry.

As jy in die losieshuis bly, is jy natuurlik basies altyd honger – dis half jou base state. Jy is of minder honger of meer honger, maar heeltyd honger. (ook nogal soos in die army) Ek en Andy was die meesters van eet specials op die dorp. Dinsdae aande is eat-as-much-as-you like special by Pizza Perfect of iets. Woensdae is two-for-one chicken burgers by Barcelos, en so aan. Elke uittog was ‘n groot avontuur, want daar was altyd nog ouens van die losieshuis wat ook wil saam. Soos die aand toeons in die ou agter ons vasreverse het – met my kar hierdie keer – omdat die 4 girl in die agterseat kastig ‘army-outjies’ gesien het en ons vir hulle moes gaan soek.

So maak mens soms heeltemal per ongeluk lekker pêlle. Ek onthou nie eers meer die helfte van die goed wat ons nog gedoen het nie, maar daardie tye was van die min highlights in die losieshuis.

Losieshuisverhale 1: Só spaar mens Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

So paar jaar in my werkende lewe in (ek dink dis heeltemal te romanties om dit as ‘n loopbaan te bestempel) besluit ek dat dit wat ek nóu doen, ek nie vir nog baie langer wil doen nie. Ek kry ambisie. Dammit – klink na werk. In alle geval, ek doen aansoeke, voer onderhoude, maak groot besluite en vul vorms in dat dit bars. Nie volle 5 maande later nie, het ek ‘n universiteit, toelating, voorlopige vrystelling op grond van ouderdom (ek het dalk al genoem dat ek in my skooljare beter goed gehad het om te doen) en ‘n beurs en sommer werk in die naaste dorp waar ek al hierdie dinge gelyk kan doen. Daar is nie geld vir net swot nie, so ek moet werk, maar ek wil nie vêr van die oulike meisie wat ek ontmoet het, bly nie – ons gaan dit laat werk, ek is mos immers Sup(H)erman.

Nou moet ek nog net blyplek kry, dan is ek gewax. So trek ek Klerksdorp toe. Pa ken mense van sy werksdae daar, en hulle beveel ‘n losieshuis by ‘n tannie aan. Ek sal haar naam en die straat nie noem nie, want ek is redelik seker sy het nog die plek.

Ek ry Klerksdorp toe, ontmoet die tannie, betaal deposito’s en reël vername dinge. Nou is ek gewax. Pak my Kotskoetsie op die gegewe dag na lang, tranerige afskeid van die meisie en ry soontoe. Nou vir insettle. Daar is ander kinders ook in die losieshuis – 9 om presies te wees, behalwe die tannie se eie kinders en nog twee in die karavaan op die agter grasperk. Lekker – maters. Ek deel ‘n kamer met ‘n ander ou. Ek het getrek met alles wat vir my kosbaar was. My kamera, my Hi-fi en paar stukkies klere. Daar is plek vir alles in die losieshuiskamer. Gou leer ek dis nie so ‘n goeie plan nie. Na ‘n week een is die helfte van my CD’s weg, die ander klomp beskadig, my Hi-fi het ‘n ‘ongelukkie’ gehad en die kamera is, ter wille van oorlewing, vir alle praktiese doeleindes buite bereik verpak.

Al hierdie dinge vat ek half in my stride – ek het in die army geleer om met moeilike mense saam te leef. Wat my egter van meet af ondergekry het, was die eindes waartoe die tannie sou gaan om geld te spaar en só meer uit die losiesgeld te kry. ‘n Paar voorbeelde sal dit goed illustreer:
•    Daar is ‘n streng tyd-limiet aan jou stort-tyd in die oggend. 5 minute max – ons is klomp Christen-mense onder een dak en hier is net een geyser. Dis nog fine – ek het in die army ook kort gestort.
•    Die menu is nie so sterk uigebrei soos ek in ma se huis geëet het nie. Lewerkoekies, wat ek nou nog haat, is daagliks op die spyskaart en as ek patats nooit weer sien nie, is dit te gou.
•    Die tannie sit spykers in die gras want die kinders ry oor haar grasperk. Ook net eenkeer gedoen.
•    Die ander kinders steel gereeld my kar vir joyrides. (Die Kotskoets het maklik met ‘n teelepel gestart as jy nie die sleutel kon kry nie) Toegegee – nie die tannie se skuld nie.
•    Die tannie meng die margarine met kookolie om dit meer te maak. (kookolie was nog goedkoop daardie tyd) Dit smeer ook makliker, en die smaak bly in jou mond tot lank na lunchtyd, wanneer jy by die hoekkafee ‘n stuk olierige vis koop om die smaak weg te dryf.
•    Daar is gate in die teelepeles geboor sodat jy nie te veel suiker vat nie.

Ek het nie lank lekker daar gebly nie – ek het nou nog ‘n groot weerwil aan so blatant probeer goedkoper lewe en dit op ander mense uithaal. Ek relish nou nog elke lekker kos-ietsie wat ek eet, in pure celebration van my vryheid en (tot hede, touch wood) afskeid van losieshuislewe.

Armystories 5: Van Robocop, woer-woere en jou ratpack Mei 20, 2009

Posted by oomherman in Done deals.
1 comment so far

Ons het ‘n bevelvoerder in ons groep gehad wat die hele army-ding baie ernstig opgeneem het. Hy het altyd so hiper-paraat en kiertsregop geloop – só regop dat ons hom ‘Robocop’ gedoop het. Hy het net soos Robocop nie sy arms en bene beweeg soos ‘n normale persoon nie – hy het baie snaaks geloop. Anyway – Robocop het homself nie te veel met die troepe se daaglikse doen en late ingemeng nie, maar as hy het, het ons gebars. Hy was nou nie die top tipe people person nie.

Die eenkeer in die Bloubos, is ons alweer besig om te leer oorlog maak. Kleinkaliberwapens hierdie keer. KKW vir kort en verskoning om op jou moer te kry vir lank. Anyway – ek is die trotse tydelike ‘pa’ vir ‘n 60 mm patrollie-mortier. Dis lekkerder as die LMG, dink ek, want hy maak BAIE makliker skoon. So, ons is in die bos en ons leer mortiere skiet. Dis mos maklik. Jou nommer 2 – die ou wat die mortiere aangee, draai die fuse so fire-safe-fire en dan praat julle spesiale sinne met mekaar. Deur dit alles het jy nou klaar die mortier se voetstuk mooi vasgetrap, die afstand geskat en gemik. Hy gooi die mortier in, jy buk mooi agter die ding en dan trééék die mortier so sierlik deur die lug en ontplof tipies met groot geweld en baie stof en klippe iewers daar voor. Lekker. Dis iewers deur hierdie oefening waar Kaptein Robocop my gewaar waar ek ietwat te naby na sy sin oor die mortierbuis buk met die skoot. Hy storm nader en klap my teen die helmet en  los agter die mortier weg.
‘Troep!’
‘Ja, Kaptein!’
‘Wat maak jy?’
‘Ek weet nie, Kaptein’ (sien ‘standaard army antwoord’ elders)
‘Ek kan dit sien, ja! Jy buk te laag oor daai mortier!’
‘Ja, Kaptein’
‘Weet jy wat gaan met jou gebeur?’
‘Nee, Kaptein’
‘Jy gaan nog so dink jy skiet, dan haak daai mortier aan jou staaldak vas en dan trek jy soos ‘n f$%^en woer-woer hier agter die mortier aan!’

‘Ja, Kaptein’  (‘n klein proes-laggie glip op die stadium onwillekeurig uit my mond terwyl my linker breinlob die image baie grafies vir my skilder en die ander breinlob bitter hard vir hom probeer verduidelik dat nóu nie die regte tyd is nie.)
‘n Kort woordewisseling volg en Herman is op ‘n impromptu program wat ek dink hulle noem ‘rapid pedestrian deployment’ om die hele Bloubos te voet te verken dieselfde middag nog.

Tydelike kamp in die bos met Ratels en die bloekoms

Tydelike kamp in die bos met Ratels en die bloekoms

‘n Ander dag is ons weer in die Bloubos – besig om te leer têrries skiet. Dit gaan lekker. Ons leer van Rondom-Verdediging. Dis nou so dat, as die Samil of Ratel of wat ookal stop, dan gooi jy jou knibbel–ietsie eenkant, vlie hier uit met jou gun en goet, breek een helfte van jou ledemate halfpad af op pad uit, slaan die grond laat jou ribbes kraak  en, iewers deur hierdie harwar, worry jy oor ouens wat die Samil gaan skiet. Wat de hel? Die ding is dan supposedly bullet–proof? Hoekom kan ek nie net binne sit en my rum & raisin energy bar klaar eet nie? No worries – ons leer van rondom-verdedig. Nou jaag ons deur die bosse, die karre stop en dan vlie ons telkens hier uit met die groans en krake wat maar kom, gewere wat per ongeluk soos tentpenne in die grond geplant raak, en ander komiese interludes tot die hoof ernstige saak van oorlog maak.

Robocop het hierdie storie so gestaan en gadeslaan en toe besluit dat ons só poef lyk dat hy persoonlik sal moet ingryp. Toe ons weer land en eers al ons belongings bymekaar staan en maak voor ons begin worry oor têrries, toe roep hy ons nader.
‘Troepe! – kom hierso!’
Ja, Kaptein!’
(troepe tree aan)
‘Val uit en kom kyk hier!’
‘Ja, Kaptein!’
(Troepe drom om Kaptein saam. Kaptein sak tot op sy een knie in ‘n rare vertoning van gewrigsfunksie)
‘Hoekom doen ons rondom-verdeging, troepies?’
‘Ons weet nie, Kaptein!’ (standaard army antwoord – help nie om slim te probeer nie – hy gaan jou anyway nou vertel)
‘Want hier, agter die bosse (teken met ‘n stok in die grond) is ‘n klomp rowers wat jou wil skiet! Hoekom wil hulle jou skiet?’
‘Ons weet nie, Kaptein!’
‘Want hulle wil jou ratpack eet…’
Almal doodstil. Herman giggel onbeheerbaar want alweer is sy linker breinlob besig om vol Technicolor prente te teken van die têrrie wat op my koue lyf sit en deur my ratpack pick, net om te ontdek ek het klaar die energy bar geëet. Lekker stupid voel hy nou.
Kort woordewisseling. Herman is alweer op die ‘rapid pedestrian deployment’ om poste haste die Bloubos uit ‘n heel ander hoek te verken. Ek was nooit in my lewe voor of na die army so fiks soos in hierdie tyd nie.

Armystories 4: Van wagstaan en brandslaan Mei 20, 2009

Posted by oomherman in Done deals.
add a comment

Ek het al in vorige verhale vertel hoe koud dit in Potch raak. Dis, naas Colesberg, die koudste plek waar ek ooit enige tyd spandeer het. So, oor naweke, moet ons troepies wagstaan. Wagstaan is totale rubbish. Dis ‘n armykamp, hel! Die groot vrae wat by jou behoort op te kom is; (a) wat gaan iemand hier steel? en (b) wie gaan dit waag? Miskien benader ek hierdie vrae in hindsight bietjie ligtelik, maar werklik, ouens, wagstaan is soos die 100% nommer 1 tipe mors van enige regdenkende persoon se tyd. In alle geval. Ons staan wag.

As jy wagstaan–diens trek, dan het die army vir jou klomp ekstra spesiale bederfies opgeline. Die eerste is dat jy jou kos mag saamvat. Die kombuis maak die wagte se kos voor die tyd en jy laai die hotboxes saam met jou op die Samil op pad wagpos toe. Lekker – nou hoef jy nie te wag vir kos nie. Probleem is as jy die eerste skof trek. Sien, die ander ouens is nou los en dis vroeg die aand. Hulle het nie nodig om te wag vir kos nie, so hulle help hulleself. As jy nie skep VOOR jy op wagduty gaan en jou dixies vol kos saamvat nie, gaan jy vanaand honger slaap. Verder gee die army jou dan regte bullets ook vir die wagstaan. Lekker – nou moet die vyand net kom laat ek die helsems kan skiet. Hel, sommer iets wat net roer in die bosse sal doen. Ek, opperheld van die bo-Potch. Ha!

Ons held, heavy GV voor die bungalow in Potch

Ons held, heavy GV voor die bungalow in Potch

Terug tot by koudkry en wagstaan. Om een of ander rede, as jy by die kamp se hoofhek staan, staan jy outomaties dubbel skofte – dis 4 ure aaneen. Trek jy die midnight shift – van 12:00 – 04:00 en dis winter, dan bars jy. Daar is nie ‘n aapjas of onderbaadjie of vessie of thermals hierdie kant van die poolgebied wat jou warm hou nie. Miskien sal die gelooide vel van ‘n seeleeu of ysbeer help, of dalk die sagte, warm lyf van ‘n Eskimo se vet vrou, maar ek betwyfel dit. Ek het dit net eenkeer oorgekom, en ek onthou dat my voete so geswel het in my boots dat ek nie my tone kom wikkel nie.

‘n Lekker deel van wagstaan is dat jy tyd kry om by jouself te wees. Jy dink sommer enige goed, maar meesal hoe lekker dit gaan wees om weer huis toe te kan gaan. Wat ookal, ek het nie halfpad soveel stront uitgedink soos my makkers nie.

Ons staan nog so wag by die ammunisiedepot in die Bloubos by Potch een nag, toe daar die reuk van rook oor die nagwind aangedryf kom. Ek en my 3 makkers is toevallig op skof. Ons deel op in twee groepe van twee – een groep loop kloksgewys om die dump en die ander anti-kloksgewys. Elke half-sirkel ontmoet ons mekaar, compare notes oor die bôggerol wat ons sopas gesien het en bevestig dat alles nog tot vervelens toe rustig is. Die een rakker, wat verewig daarna in my opinie een van die natuur se ‘sonskynkinders’ sal wees, is aan die ander kant van die ammo dump. Dis verseker meer as ‘n kilometer se stap rondom die ding. Soos wat ons dit getime het, is dit omtrent 4 minute se vinnig stap vandat ons die rook ruik totdat ons op die petalje afkom. Dié ou het ‘n bynes in die boom net buite die ammo dump opgemerk en het besluit om die heuning daarin te soek. Daarvoor het hy los droë gras gevat en dit aan die brand gesteek. Dit was nie lank nie, toe hy besef dat hy nou ‘n kooltjie, grassie of iets laat val het. Teen die tyd dat ons daar aankom, was daar al klaar so kwart rugbyveld aan die brand, en die wind is redelik sterk. Onthou dat hierdie nou oop veld naby ‘n groot ammunisie-opslagplek is. Voorts is dit ook dieselfde veld waarin die skietbaan is, en daar is baie ammunisie wat nie ontplof het soos dit op die boks adverteer nie. Man, was dít nou ‘n storie. Dit was 11:00 die nag. Teen 04:00 die volgende more, was die hele kamp wakker en ons slaan steeds brand soos ons kan. Water bunkers kom oor die bult, troepe wat klere gewas en uitgehang het deur die nag is vir ons die moer in, want die roet is orals, en orals hardloop mense rond en skree op mekaar.

Die laaste brand wat hieruit voortgespruit het, is eers meer as 2 dae later geblus.

Pa ry die bees dood Januarie 20, 2009

Posted by oomherman in People / Mense.
6 comments

Pa het op Witpoort grootgeword. Witpoort is ‘n bitter, bitter klein dorpie so amper halfpad tussen Leeudoringstad en Wolmaransstad. Om te sê daar is niks nie, is om niks orals lelik te beledig. Die dorpie het in die 1990’s eers elektriese krag gekry.

Ouma het vir baie jare nadat pa weggetrek en self sy gesinnetjie begin het, nog op Witpoort gebly. As kinders het ons dus ook die plek leer ken en baie kattekwaad daar aangevang, soos Lucky wat deur Oupa se staldak geval het en ekself wat etlike veldbrande persoonlik gestig het. Met die gebrek aan elektrisiteit, het ons as kinders geglo Witpoort is die plek in die wêreld waar al die duisternis bymekaar kom om die kerse bang te maak.

Zoom back tot die tyd toe pa self laaitie was op Witpoort. Hy het sommer baie maatjies gehad en hy vertel ons gereeld van die twak wat hulle aangejaag het. Een van sy meer kleurvolle verhale is die keer toe hy en klein Johnny Hudson die bees doodgery het.

Nou, om ‘n bees dood te ry is op sigself gewoonlik redelik traumaties en kan selfs dodelik wees. Wat Pa se storie soveel beter maak, is dat hulle dit met ‘n fiets gedoen het. Ja, ‘n trapfiets en Ja, ‘n hele bees.

Sien, Witpoort het net een teerstraat – so ‘n lange wat reg deur die middel van die dorp loop. Die straat kruis ‘n klein stroompie min of meer reg in die middel. Weerskante van die stroom is die pad redelik steil na beide kante teen die bult op. Aan die een kant van die pad is die winkel, en aan die ander kant is die dam met die leidam en leivore van daar af deur die dorpie se landerye. In die middel, waar die pad die Wolwespruit kruis, is daar gemeenskaplike weiveld vir die dorpie se lewendehawe.

Pa en die Hudsons het die dag by die dam gespeel en teen die middag se tyd begin dit reën en hulle moet huis toe gaan. Twee van hulle klim op die fiets, want Johnny Hudson het nie ‘n fiets gehad nie, so hy sit op die handvatsels voor en pa lift hom huis toe – aan die ander kant van die dorp.

As jy by die dam se hek uitkom, is daar nou ‘n lang afdraend tot in the middel van die dorp se hoofstraat en dan weer opdraende tot by die huis se afdraai. So, uit die aard van die saak trap jy laat dit bars teen die afdraende om soveel as moontlik momentum vir die opdraende te kry. Veral as jy iemand lift, anders gaan jy sukkel.

Pa en Johnny het al baie gelift en hulle het die balans-ding lekker onder beheer. Pa trap dat hy bars, die fietsie sing soos hy loop en toe hy mooi op spoed is – toe loop die beeste van onder die brug en die weiland af reg oor die pad. Klein Johnny Hudson skree, maar pa sien te laat en hy tref die kalf reg in die blad. Daar lê Pa, daar lê Johnny Hudson en daar lê die kalf. Pa en Johnny spring op en gryp die fiets en jaag huis toe.

Dis eers twee dae later dat die oom wie se bees dit was, by die winkel kom verneem het of iemand gesien het wie sy kalf doodgery het, want daar is nie briekmerke of iets gewees nie. Die kalf se rib is afgery en het deur sy long gesteek en die ding het basies net daar gevrek. Pa en die Hudsons het maar stilgebly, want daar was nie geld om mense vir dooi beeste te vergoed nie en Oupa sou sy gatvelle afgetrek het – net vir ‘n ‘opening bid’

Nou ja, nie baie ouens het al beeste met fietse doodgery nie.

Why you should study history Januarie 12, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

It took me a long time to learn to appreciate history for what is was. History is the story of what ordinary people like you and me did in extraordinary circumstances. Their responses, considering their circumstances, are almost always reasonable or at least understandable.  

The popular counterargument to the study of history is usually that: ‘the problems of the present cannot be solved by the same thinking that created them...” This implies, of course, that the study of history is a useless waste of time insofar as it’s application to present conditions are concerned.  

On the contrary, however, and taking recent world events as a barometer, I reckon the study of history becomes ever more important. Why? Well, history is the study of people, and people remain forever just people – (a) they make the same mistakes over and over and (b) they also react the same way when problems arise.

This then, is the value of history. The future holds very little surprises insofar as human response to great triumph or great adversity is concerned.