Armystories 3: Chris en die 9 biertjies December 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.6 comments
Ek het vir Chris al lank voor ons armydae leer ken op Landsdienskampe in die Noord-kaap. In die army het ons mekaar op van-terme leer ken, so as ek hier sy naam gebruik, behoort dit voldoende beskerming van sy identitiet te wees. In ieder geval, ons het mekaar al paar jaar geken teen die tyd dat ons army toe gaan, maar ons was nou nie boesemvriende nie.
Ek vermoed Chris het maar baie soos ons grootgeword – daar was nooit sprake van die kinders wat drink in die huis nie (nie wat ma-hulle van weet nie) maar, as jy eers bietjie groter is, het Ma jou probeer tafelmaniere leer deur bietjie wyn op die tafel te sit Sondae. So basies het jy nie veel drank te siene gekry in jou ouerhuis met die grootwordslag nie. Chris was van ‘n plaas daar naby Hopetown se wêreld as ek reg onthou. Dit gebeur toe ook so dat ons in dieselfde battery en dieselfde ‘bungalow’ by Potchefstroom se artillerie brigade opeindig.
Nou ja, dinge gebeur en ‘basics’ was nie die beste van tye nie, maar dis nodig en dit maak jou fiks en sterk. Na ’basics’ mag jy 2 biere per persoon per aand by die kantien drink. Die soldy is bitter skraps, maar ons kry tog kansie om soms te gaan – gewoonlik eenmaal ‘n maand net na betaaldag. Toe gebeur dit een aand so dat iemand opmerk: “Maar Chris verjaar mos vandag?!” Dis net so ‘n maand na ‘basics’ op ‘n Saterdagaand en ons het toevallig onlangs geld gekry, so ons paar vriende van Chris gaan saam met hom ‘n bier drink by die kantien.
Ons tree mooi aan in 2 x 3 formasie voor ons bungalow en een van ons dril die ander af tot voor die kantien. Daar tree ons uit en stap in. Elkeen koop sommer met die instap sy kwota van twee biere en ons gaan agter uit, waar daar bankies en bome is. Sit en gesels lekker. “Lekker verjaar, ou Chris” en als en als… Toe kry een ‘bright spark’ die idee dat, omdat hy niks vir Chris vir sy verjaarsdag gekry het nie, Chris maar sommer sy tweede bier kan kry. Natuurlik doen almal anders om die tafel dieselfde. Nou begin die vermeende vinnige partytjie lyk na ‘n speletjie, want Chris erken sommer ruiterlik dis meer drank as wat hy in sy lewe saam gesien het. Voor hom staan egter nou 9 Castles met sy naam op.
Tot sy ewige krediet doen Chris die eerbare en hy begin by die bier naaste aan hom. Dis al na 6-uur en 9-uur moet ons terug wees by die bungalow vir roll-call. Chris slaan die een Castle na die ander weg terwyl ons hom luidkeels aanmoedig. So net na 8-uur is Chris klaar, maar nou het ons ‘n probleem. Ons held staan nie meer so lekker nie en hy loop nog minder oortuigend. Ons loop-sleep-dra vir Chris die amper half-kilometer terug bungalow toe.
Terug by die bungalow, het ons egter toe eers ons hande vol met Chris – toe die Castletjies nou mooi getrek het, kan jy sê. Chris tree hom voor die eerste bed wat hy sien aan en verklaar raserig dat hy nou gaan slaap – die eienaar van die bed se protes ten spyt. Die ou steier, maar hy vertel vir almal wat wil hoor, en paar ander: “Dis my bed en my kas en my trommel en my rugsak, en ek slaap net hier. Nou raak ons bekommerd, want dis duidelik dat die klong regtig stukkend is. As Chris se kos nou uitval gaan ons die gemors moet skoonmaak, en ons het al genoeg bungalows gepolish soos dit is. Ons hardloop met Chris tot in een van die vier cubicles onder in die bungalow. (Die ouens wat die 64-man ‘opman’-styl bungalow ken, sal weet hoe dit lyk, maar dis basies twee lang gange met beddens teen elke muur en die stort- en toiletgeriewe aan een punt en vier kleiner, meer privaat kamers {cubicles} aan die ander ent.) Ons is in die cubicle aan die onderent – hier sal dit makliker wees om skoon te maak as Chris opgooi. Ons maak Chris staan voor die bed en sê hy moet gaan slaap. Chris gee die bed een kyk en besluit dat wat hy eintlik nou wil doen, is piepie. Hy begin met sy overall se knope peuter. Ons kliek wat gebeur en hardloop weer met om aan die arms deur die bungalow tot bo en maak hom voor die krip staan.
Nou moet ek eers verduidelik dis winter in Potchefstroom. Dit raak bitter koud, soos wat ek al elders verduidelik het. Omdat almal se drag buite dieselfde moet lyk, dra jy iets onder jou overall vir die koue. My eie ma het vir my lekker Thermal Underwear gekoop by die Wollie-winkel, maar meeste ouens het sommer net sweetpakbroeke onder hulle overalls aangehad.
Ons staan met Chris voor die krip. Hy vroetel met die knope aan sy overall. Teen hierdie tyd het ons troppie al ‘n mooi skare om ons wat dié petalje gadeslaan, want Chris is nie bekend as ‘n raserige ou nie. Uiteindelik kry hy die knoop los en hy reik binne sy overall in om die nodige te doen om te pie. Dis daai tyd dat Chris die swart Bear International sweetpakbroek onder sy overall se toutjie uithaal en met die ding mik en laat skiet. Chris gee skiet en hy pie die pie van ‘n bierdrinker wat die eerste keer die aand die seël breek. Hy gooi sy kop agteroor van pure verligting. Hy leun later op sy arms teen die muur. Chris is salig onbewus dat totterman nog knus in sy broek sit en dat hy môre sal moet overall, bootse en sweetpakbroek was. Chris pie en hy pie. Dit loop teen sy bene af, in sy bootse in en later weer uit. Hy pie hom sopnat. Toe hy klaarmaak, toe gee hy so ‘n windmaker skud en sit die toutjie mooi terug waar hy vandaan kom. Ek en die ander lê op die grond en rol soos ons lag, want nou is daar geen keer nie.
Daardie aand is nog steeds waarskynlik die meeste wat ek nog vir een ander mens gelag het. Ons het later vir Chris weggevat en op die kaal staalbedjies in die cubicles laat le, waar hy salig geslaap het tot die volgende oggend. Een ou het sy stem vermom en vir Chris “Ja” geskree by roll-call die aand. Chris het nooit getraak om vir ons te kom vra wat gebeur het nie. Net kom Omo leen om sy klere te was en paar Disprins vir die koppie. Ek dink nie hy het mooi verstaan hoekom hy oornag ‘n legende in die bungalow geword het nie.
Stoepstories: Hoe om ‘n ‘wendyhouse’ te skuif. December 15, 2008
Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.Tags: Afrikaans
6 comments
Ek het baie jare gelede besluit ek wil eendag in Pretoria bly. Dis sommer net omdat my neef dit laat lekker lyk het. Teen die tyd dat ek van die platteland af Centurion toe getrek het, was dit kwalik nog die Pretoria wat ek die eerste paar keer gesien het, maar hier was baie vriende en ek bly sommer gou baie lekker.
Ook sommer vinnig soek ek huis. Werk vir die Staat daardie tyd, so die pryse lyk baie hoog, maar ek knyp oge toe en koop. Koop ‘n bitter klein gehuggie vir ‘n plaas se prys, voel ek. Bly sommer gou lekker daar. Volgende op die agenda is vrou soek en nie te lank nie, of daar is toe die een spesiale persoon wat sommer oorbly/inkruip en nooit weer weggaan nie. Nou maak ek en aspirant-mamma huis en tuin. Speel lekker huis-huis.
My ou huisie is bitter klein, (89vkm) maar ek het ‘n redelike tuintjie en een van die min townhouses in Centurion waar jy ‘n hek het en met jou kar (en ‘n paar ander ) in jou erf kan inry. Die tuin is pragtig en ons bly lekker, maar in my hart verlang ek nog steeds na die plaas wat ek nooit sal hê nie. Oplossing? Ek gaan koop vir my ‘n tuinbankie sodat ek en mamma soggens ons koffie en beskuit op die stoep wat nie bestaan nie, kan nuttig en die dag in oënskou neem. Die EEN stukkie troos in hierdie treurmare is dat ek ‘n pragtige doringboom op my plasie het – net eenvoudig die beste ding van die hele huis en tuin. Ek is mal oor doringbome.
Dis toe ek eendag só sit en uitstaar or my gronde (wel, die 2 meter tot by die silex-heining) dat ek besef maar dié wendy-huis, wat half standaard is vir townhouses met geen stoorplek nie, staan in die beste koelte op my plaas – onder die doringboom. Sommer opsluit maak ek ‘n plan om die wendy te skuif en gras te plant sodat ek self onder my doringboom kan kuier. Mamma stem saam dis ‘n plan en ons bereken hoe dit gaan werk. Ons kry ander plek vir die wendy en ek ry dieselfde naweek nog ‘railway sleepers’ met my kar aan – hulle hang sommer so halfloaf uit die ‘boot’ uit. Nie poefie sleepers nie – B-graad goed – ek soek nie vrottes wat net gaan inmekaarsak nie, maar ek wil ook nou nie planke saag vir ‘n kroeg nie. Nou om die wendy te skuif, en dis hier waar die storie sy draai maak. Sien, ek reken toe ek sal sommer die wendy (‘n kleintjie) met die pik lig aan sy een hoek, dan die ander hoek, en dan drie teerpale kry en die ding rol na sy nuwe staanplek soos op die manier wat Discovery Channel reken die Egiptenare het die piramides gebou. Jy sit net elke skoot die paal wat nou net agter uitgerol het weer voorin, en daar gaat jy – kan nie moeilik wees nie.
Net daar steek mamma viervoet vas. Néé, kry professionele mense om dit te doen. Jy gaan die wendy breek. Nou hoekom sal ek my eie wendy breek? Toe sy sien hierdie argument wen geen veld nie, toe kom my gesondheid by die agterdeur langs by die gesprek aan – jy gaan jou rug seermaak. Hulle het allerhande toerusting en goeters and gaan dit sommer maklik doen. Ek wil nie – ek weeg nou die R 90 se drie teerpale op teen klomp geld wat iemand my gaan vra vir iets wat ek self kan doen. Die stryery hou so 2 dae aan. Uiteindelik gee ek kop en ek begin rondbel. Daar is paar ouens wat die ding kan skuif, maar net een ou wat reken hy kan dit sommer die volgende oggend doen. Hy vra R 800. Ek knyp my ogies weer baie styf toe en sê: “Ja, kom maar” So met die praat saam vra ek hom of hy sy toerusting in my erf sal inkry en die wendy gelig kry sonder om my boom te beskadig? “Nee, Meneer. Dit sal nie ‘n probleem wees nie.“
Die volgende more is ek en mamma vroeg op – haal die laaste paar goedjies uit die wendy en maak koffie. Ons sit op die half-stoepie op my tuinbankie en gesels oor hoe lekker dit gaan wees as die wendy weg is onder my boom en hoe ek hoop hulle nie my boom gaan seermaak nie. Ons praat ook oor watter soort masjien hulle gaan aanbring om die wendy te skuif en hoe dit werk.
Praat nog so, toe stop die ou daar met so klein Bantam bakkie. Hy en een ander knaap – altwee sulke maeres. My moed sak in my skoene – hulle masjien het gebreek en hy kom my net vertel hy gaan dit eers na Krismis doen. “En nou?” sê-vra ek. Nee, hulle kom die wendy skuif. OK, sê ek – hulle is duidelik sterker as wat hulle lyk. Dis daai tyd toe die kleiner knaap die drie teerpale agter van die bakkie afhaal, laat mamma besef nou moet sy hier keer, want toe bokspring ek van pure verontwaardigdheid. Die lae donner !!! Dit was ook seker nie sy skuld nie – hoe moes hy nou weet daar is klaar ‘n kleintjie dood aan wendy’s beskadig en teerpale rondrol op hierdie plaas? Daar pak die twee van hulle die wendy. Lig die een hoek mooitjies op, soos wat ek laaaankal in my geestesoog gedoen het. Sit die eerste paal in – toe die ander drie hoeke en die tweede paal, toe die derde paal, en dáár gaat hulle… Die wendy kreun en kraak en ek staan en spoeg en vloek in die kombuis en mamma kyk liewers anderpad. Hulle spook so kwartier en toe’s hulle klaar. “Dit sal R 800 wees, dankie Meneer.”
Ja, dankie vir jou ook, Hokvark. En ‘n ekstra spesiale dankie Mamma vir die rug uitspaar en die geld wegblaas. Ons het seker vir twee dae nie gepraat nie oor die wendy-ding voor daar weer vrede oor die plaas gekom het.
So, as jy ooit die nood kry om ‘n wendy te skuif, kry drie teerpale en doen die ding en kry klaar – vat dan R 700 en koop vir jou etlike kaste bier en sit in die koelte en hou partytjie vir al die geld wat jy vir ‘n goeie saak geblaas het. Jy kan vir almal vertel jy het hierdie fantastiese raad op die internet nagevors…..Séla.
- Beste boom-koelte + wendy = poef
- 3 mooi nuwe sleepers vir die wendy om op te staan.
- Ja, so kom dit my toe oor…. kon dit self gedoen het!
- Die wendy opgedollie met ‘n nuwe laag of 2 timberseal
- Plek onder die boom met gras en ’sightscreen’
First impression: The 2009 Yamaha V-Max December 11, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: English
add a comment
Last night, on my way home from a meeting in ‘the deep south’, I stopped by Linex Yamaha in Randburg to have a look at the new V-Max. I only noticed the low-key announcement on their website the day before, but I made a mental note to go if I could make it – turns out I could…
I arrive at Linex around 19:30 and there are many cars and bikes around outside, which is unusual for this time of night. I park and almost drop the Suzuki after putting the sidestand neatly into a stormwater drain. Control re-established, I work on composure and stroll inside as if nothing happened and hope that no-one saw anything. I need’nt have feared – they are all transfixed by DaddyMax. I reckon there are about 60 or 70 people around and the atmosphere is tense with lively excitement. Linexs’ guys have put 3 V-Maxes on display under a simple light scaffold arrangement and the effect is to isolate the bikes in the space of the shop by bathing them in white light from all angles.
I approach the V-Max nearest after I stand back for a few minutes to let other guys mount the beastie and I try to overhear what the conversations are about. The new V-Max is a sight to behold. Let me put this to you bluntly – the V-Max does not leave any opinions divided. Whether you love it or hate it, the visual impact will burn your eyeballs. From the signature double-barrel V-Max airducts, which are now finished in brushed metal, to the polished covers and the really mean tail-end, the V-Max oozes attitude like never before. The V-Max has always been a bad-ass ride. V-Maxes are for people who are genuinely too mean for Harleys. The V-Max is the ultimate I-don’t-give-a-shit ride. The first generation V-Maxes set this trend but I feel that the later incarnation was somehow stylistically sort of a half-breed. It was like it wanted to grow up but still aiming to please the bad-asses and somehow that message got lost in translation. This new machine is very different and yet is unmistakably a V-Max – even from afar. That signature “don’t mess with me“- look is back by the truckload. It just looks even meaner and very, very well put together. The overwhelming impression, once you are over the mean appearance, is that all the components look well finished, well put together, and the whole machine exudes an air of quality and attention to detail. The esteemed gentleman’s bad-ass ride then? Well, I don’t know yet.
I get a turn to sit on the thing and I weigh it between my legs. (This bike weighs 310 kg dry) It feels as if the centre of gravity is very low in the bike and it feels remarkably light for it’s girth. It is not a Bus-King, width-wise, but you do know you are on a big machine. I start the bike and it rumbles to life. The trick display under the small brushed chrome screen on the tank says: “Time to ride – this is V-Max” Now, I don’t know who thought that one up, but I am left cold by this little quip. You don’t need to tell V-Max riders quasi-cool slogans, dude! They Know… Once the engine starts, this area turns into the displays for temperature and fuel. When you shut it down, this message zone tells you bye with: “Till next time” Cheesy.
With the motor running, I notice that it feels remarkably smooth for a big-bore V-four. (This V-Max makes 200 horses!!!) Sadly, we do not get to ride the V-Maxes tonight. I take some crappy photos with my cellphone and curse myself for not having a proper camera here. Other details I notice about the bike are the black anodised-finished forks, not upside down, but with radiallly mounted brake calipers. The brake rotors themselves are of the gigantic ‘petal’ variety. The bright shift indicator to the north-east of the centre-stage tacho and the quality and comfort of the seat grab my attention. This bike really sits very comfortably and my Average Joe 5′6″ finds everything right at hand, sitting upright and not reaching for anything. The gun-metal coloured exhausts on each side look slightly short and bulky, but just right on this bike. The stubby tail with it’s massively bright LED brake lights is also finished very well, though I overhear some guys say that the plain black plastic and orange indicators do not look right and fit poorly with the quality appearance of the rest of the bike. The concessionary perch for the pillion is just that – a concession. I suspect it will not see much use for anything longer than it takes for your passenger to lose bladder control, anyway. The engine and short X-type trellis braces between the two cylinder banks and the top reach of the frame looks like its all anodised – the quality of the finish is that good. The whole bike’s colour is not quite gunmetal, but not quite black nor a very dark bronze – it’s a fantastic mix of the lot. Typical V-Max, there is a lot of black around, too.
The key is a trick bit. The key blade itself is stock standard, but it sits at the far end of an odd-shaped bathplug. When you insert it into the ignition, it looks, from the seat, like a rotary switch you would find in the aircon controls of a Toyota Yaris or a Renault Megane, i.e. a big plastic blob. It’s operation is straightforward – turn to start, push to lock/remove. The assembled crowd agree unanimously that this key will never fit into any known pocket by virtue of being such an odd shape. No – this funky key fits into it’s own special holster, which a dude in a Linex Yamaha shirt tells me is inspired by a Samurai sword & scabbard. I am not convinced – it still looks like you are putting your key in a big black shotglass, complete with neckstring-loop, for those difficult mornings after the Buffalo….. These guys really think of EVERYTHING!!!
I can only speak for what I saw so far, but I think the new V-Max looks vastly better than the old one and it feels like a quality ride. Again, the overwhelming impression is one of quality and attention to the finest details.
I find myself wondering out loud if the bold, top-drawer design and execution of the new V-Max was inspired or at least emboldened by the massive success of the B-King. A huge biker-dude in his full colours next to me says: “Well, the V-Max WAS first.” I decide he has a good point and make my trademark exit stage left - swiftly and deceptively quietly.
Now for a test-ride…..
I am posting a picture, and at the same time I apologise for the rubbish quality:

V-Max at Linex
There is some more information, technical specifications and much better pictures on this lekker site:
http://www.motorcyclespecs.co.za/model/yamaha/yamaha_v%20max%2009.htm and also some information on Linex Yamaha’s site, here:
FORA Charity Run December 9, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: Afrikaans
1 comment so far
Die hele ding het begin toe Trudi van Bikeline motorfiets versekering my na FORA se charity run toe genooi het. Ek weet wat jy dink: “Wie de hel is FORA?” FORA is die akroniem vir Friends Of Rescued Animals. Baie soos die SPCA, gee hierdie mense vir honde, katte en ander verwaarloosde diere kos en ‘n plek om te bly. Heeltemal anders as die SPCA, kry die diere nie net 2 weke of so om eienaars te kry en dan is dit bokveld toe met Flaffie nie – FORA se mense glo die diere kan bly leef. Nou, in beginsel, stem ek met hierdie siening saam. Ekself kan dit nie oor my hart kry om my eie hond na die ‘happy hunting grounds’ toe te stuur nie, so ek het eerder R 11,000 vir rugoperasies betaal. Dit vat egter nie ‘n rocket surgeon om uit te figure dat die klomp brakke en katte jou vinnig uit die huis gaan vreet nie. Vandaar toe FORA se oproep op die bikers van Roodepoort en omgewing om hulle te help om geld in te samel om kos te koop. Ook anders as die SPCA, kry FORA geen finansieële hulp van die staat nie.
So, ek gaan die arme diertjies red deur op my bike rond te ry – klink na ‘n wen-wen tipe plan. Ek gaan koop ‘n groot sak hondekos, want dis wat hulle vra, en ek saal my ysterperd op. Dis vêr van Centurion Roodepoort toe en ek is nie presies seker waarnatoe ek moet gaan nie, maar ek maak afdrukke van die kaart en kyk op Google Earth waar die plek is, sodat ek die koordinate in my GPS kan sit. Met dit alles gedaan, spring ek baie vroeg weg om seker te maak ek kom nie laat nie.
Ek vat die N14 (R28) Krugersdorp/Randfontein toe. Ek ry lekker en druk die bike so bietjie want die pad is baie stil 6-uur in die oggend. Paar windgatte met Subaru Impreza’s en Golf GTI’s kom verby my – en ek ry self heelwat vinniger as wat wettig is.
Ek kom in Randfontein aan en draai in die rigting wat ek my verbeel die plek is. So vêr, so pynloos. Dis nog baie vroeg, en die GPS sê die plek is net 2 kilometer weg, so ek stop by die McDonalds vir die verpligte Sausage & Egg McMuffin. Lekker. Na die koffie voel ek ook sommer beter en die ergste vaak is nou eers oor.
Ek volg die GPS tot by die plek, ‘n kroeg so half tussen die ligte industrieële gebied en woon-area van ‘n uitbreiding genaamd Princess. Wonderlik, dink ek so op my eie. Ek wonder na watter prinses hierdie plek vernoem is, want ek vermoed sy kon nie te erg gevlei gevoel het deur hierdie benaming nie. In alle geval, die kroegie lyk cool genoeg. Dis aan die voorkant van ‘n groot erf. Agterin dieselfde erf is ‘n huis wat ek aanvaar die eienaar se woning is. Die kroeg self is betreklik klein en die oorweldigende tema van die décor, is: “allerhande ou stront wat van die Railway se workshop gegaps is” Kwaai!
Daar is omtrent 5 ander bikes toe ek daar aankom, so daar gaan my kans om ‘n fashionably late entrance te maak. Ek groet die mense en almal praat ons taal, so dit lyk OK. Sommer vinnig vra die organiseerder, Charmaine, my om te help om die sakke hondekos wat reeds daar is, uit die kroeg te skuif, want daar moet plek gemaak word vir die kostafel. Dit klink alles nog of dit in my beste belang is, so ek help gretig.
Die kos is geskuif en ek is dors. Soek ‘n koeldrank, want ek dink ek moenie drink as ek verder gaan bike ry nie. Goed met net twee wiele val sommer om – selfs as jy nugter is. Ek maak myself gemaklik en sit op die stoep terwyl ek kyk hoe die ander bikers met verdrag aankom. Daar is sommer vinnig baie bikes en ‘n hele verskeidenheid mense. Die bikes self wissel van ‘n voos ou Suzuki 250 tot ‘n splinternuwe BMW R1200GT – met matching his and hers Motorrad helmet’s – nogal. Die organiseerders stel ‘n tafel op waar almal kaartjies kan koop om in te kom – die geld gaan alles vir die FORA honnehys. Agterin die plaas slaan FORA self ‘n gazebo op om speelgoed en ander kakketjies te verkoop en natuurlik die donasiekas te sit.
Ek vind myself later die oggend by ‘n tafel saam met ‘n ander dude en 2 girls van Bikeline – dieselfde mense wat my hiernatoe genooi het. Elkeen by die tafel het ‘n storie en ek luister gretig. Die een is ‘n verkoopsman vir bike satellite tracking goeters. My bike het klaar een, sê ek vir die ou. Die ander een voer in haar spaar tyd diere by die Krugersdorp dieretuin – by haar leer ek baba-leeus eet soyamelk, olie en ander goed. Die ander girl het, toe sy net 13 jaar oud was, vir ‘n hi-jacker in sy moer gestuur en sy wys ons die letsels van die plekke waar hy haar toe geskiet het. Ek wil nog so dink dat my ma my gewaarsku het teen chicks soos hierdie toe ek besef dat (a) ek haar pa kon gewees het en dat (b) sy waarskynlik groter ‘alies’ as ek het. Sjoe!
Charmaine join ook op ‘n stadium die gesprek en sy vertel hoe sy net paar jaar vantevore uit die tronk ontslaan is waar sy beland het nadat sy haar aanvaller doodgeskiet het. Nog cooler! Nou hang ek mos saam met regte bikers uit – hierdie is die soort dudes wat ek om my gaan nodig hê as die kak spat. Hel, die girls hier sal meeste ouens in Centurion se gatte skop met drie vingers aan een hand terwyl hulle kalm ‘n Black Label se doppie met hulle oog afskroef soos daai chick op die TV.
Daar kom nog baie mense aan. Hulle slaan ‘n springkasteel vir die kinders op en dit begin lekker raak. Ons klompie by die tafel sit en kuier lekker. Later sê die ouens ons moet regmaak vir die group ride – dis nou almal wat saamry van die kroeg af na die plek waar die honde en katte bly. Ons gaan die kos en geld wat ons ingesamel het, daar afgee. Ons saal op en een girl sê sy wil saam met my ry. Ek is nog maar nervous met die lift op die bike, maar ek maak my hart sterk. Hoe sal mens leer as jy nie leer nie? Sy klim op en ek ry baie bedaard saam met die ander ouens tot by FORA se perseel.
Ons klim af en almal staan vir ‘n klein rukkie in die son en wag sodat die hele groep kan opdaag. Die biker-dude sê sy ding en die FORA tannie sê dankie – baie kort, informeel en onseremonieël – ek is geweldig beindruk. Ek haat lang, sinnelose, boring speeches. Al wat nou nodig is, is: “Dankie vir die kos – die brakke vreet ons uit die huis uit” en dan sê die ander ou: “Disse moerse plesier” Klaar. En so was dit ook – my ou hartjie sing van vreugde vir al die gespaarde woorde en tyd. Die tannie bied aan dat ons die diere kan besoek en ons drom by die hekkie saam om in te kom. Ons drentel tussen die rye en rye hokke deur en kyk vir die brakke en die brakke kyk vir ons. Wat is daar om te sê? Ek waardeer verskriklik baie dat daar mense op die aarde is wat so iets elke dag kan doen, maar dis nie ek nie. Ek voel half pateties dat ek net een sak hondekos gebring het – hierdie ouens het soveel meer nodig. In totaal het ons meer as ‘n ton hondekos afgelaai en vir FORA se mense so amper R 10,000 gegee, maar dit sal nooit genoeg kan wees nie.
Behalwe die honde is daar nog klomp katte ook. FORA bied skuiling vir meer as 400 honde en 100 katte. Ek stap vinniger hier deur en vind die pad uit.
Ons is almal maar stillerig toe ons uitkom. Ek dink almal voel die bittere nood van die diere en die mense wat hulle probeer help.
My passasier saal op en sy skimp dat ons bietjie vinniger moet ry. Ek is egter nie in die luim vir truuks nie en ek ken ook nie die pad terug so goed nie, so ek ry redelik bedaard.
Terug by die kroeg, gaan die partytjie nou in alle erns begin. Ek drink nog paar koeldranke en eet ietsie voor ek die pad terug vat. Die hele ding met die honde het my gemoed maar half gekniehalter en ek het nie lus vir partytjie hou en nuwe maatjies maak nie. Ek gaan huis toe en speel met my eie honde, wat ek self deesdae bietjie afskeep. Charity begins at home, after all…
Fotos van die dag se verrigtinge is op Trudi se blog by: http://trudibikergirl.multiply.com/photos/album/50/FRIENDS_OF_RESCUED_ANIMALS_TAZZ_DEVILS_MCC_CHARITY_RUN
Traveller’s tips December 9, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: English
add a comment
America:
- “Sausage” is what we would call a ‘patty’ – they mean sausage meat (flavoured mince) – usually pan-fried and flat just like a hamburger patty.
- “Biscuit” is not the proper word for a cookie like your scottish Aunt Josephine taught you – it is more like a large, flattish muffin or scone as we know it and is usually served at breakfast. It is soft, of fine texture and sweetish, dry and about the colour of custard inside. To be avoided if you expect your breakfast to last you through the day.
- “Half-and-half” is a mixture of two types of milk – presumably sheep and otter. Seriously, though – half-and-half is mixed full cream and skimmed and is close to our low fat variety. It is the closest you will get to full cream as we know it anyway.
- Don’t take US$ 100 bills – they are too large to change just anywhere and people are suspicious of them, like you are a drug dealer or something equally wicked.
- You can get your coffee at any Starbucks in well over 60 varieties, but it is simply impossible to order just a cup of filter coffee with full cream milk and sugar. It does’nt exist in America.
- When having a conversation with someone, they are likely to say: “I got’cha” It means the same as our ‘uh-huh’, i.e.: “I follow your conversation and please continue.”
- If you order “mixer drinks” – these are things like whiskey and soda or brandy and coke, – you will be given a straw and a stirrer with it. Now, experienced drinkers will know that this is one of the easier ways to get hammered. In America, however, of you shun the straw, you are considered an alcoholic.
- The ‘brandy’ available in America is rubbish.
- Stay away from Yukon Jack.
Angola:
- Take the right passport and at least enough money to buy a visa – if you can get the ambassador to bail you out. Failing that, take plenty food and water, a soft cushion and some reading material – you will be in the airport building detention ‘lounge’ for quite some time. (It helps if you can develop an affinity for pineapple flavoured soft drinks beforehand.)
- Also, bring your allergy tabs if you are allergic to seafood and your blood pressure meds if you struggle to use salt – you will need it.
- Don’t haggle for the price of food items in the market – it is considered very rude indeed. Haggling for the precious ivory statuettes made from poached animal horns is, however, de rigueur.
Australia:
- Stay away from the Golden Beach on Schoolies. There are more cops than those hot young bodies you are looking for and you will probably get arrested.
- You cannot, under any circumstances, have a drink and a smoke at the same time and in the same place – anywhere. To be formally ‘inside’ a bar or other establishment where drinks are served, you have to be no more than 2 steps from the nearest exit. To smoke, which you may not do inside anywhere, you must be more than 5 steps away from the exit or entrance to any building. Now, to you and I, this leaves about 3 steps of no man’s land – where you are not taking a lot of risk either way, but can still legally do both. This rule is strictly enforced – beyond 2 paces you are out of the pub and must put your drink down inside, and within 5 paces you are smoking in the pub. Don’t try it – you’ll be asked to leave –regardless of how good you’ve been up till now.
Belgium:
- You will get along fine in Afrikaans – they understand it, but people will treat you with disdain. They are all snobs anyway – their idea of fun is probably suicide.
- Do have some Belgian waffles with all the trimmings and do buy chocolate from the many artisanal chocolatiers – it’s utterly worth it, though the price is perfectly indicative of the quality.
- Do not drink the heavier varieties (dark beers with more than 10% alcohol per volume) of their vast selection of local beers with your dinner. These will fill you right up and you will not do the food justice.
Chile:
- When you order steak in a restaurant, you get just that – steak. Oh, it’s usually very well prepared and it will not disappoint on the flavour front, but the plate will look rather empty without the trimmings that we are used to here in SA. It is much better to order the bistec a lo pobre (Poor Mans’s Steak) – this comes with chips, salad and often a fried egg and some vegetables = much better value.
- The fresh salmon offerings are usually very well prepared and probably some of the best seafood anywhere in the world.
England:
- Do try some Steak and Guiness pie in a pub. It is usually a hearty meal that won’t set you back too much and will last you the day.
Poland:
- Do make the effort to find and try traditional polish cooking. Not recommended for those with heart conditions, pacemakers, cholesterol problems, diabetes and suchlike. There are Chicky meals at the McDonalds.
- Do try some of the better local vodka’s that Poland is famous for. Belvedere or Chopin, if you can. Do drink it like the Polish do – straight and ice cold, with only a sip of Coke every now and then. After you lose most of the feeling in your tongue and cannot feel your throat, it’s much better.
Thailand:
- Eat some local food as soon as you arrive – that way, your gastric system “flushes” and you spend only one night on the loo. (You can think of it as ‘detox’ if it makes you feel better) After that, you’ll be fine. Trying to stop any of this with Imodium, Buscopan or BismoPep is just prolonging the agony. Get it over with.
- Don’t, under any circumstances, drink the water.
- Learn to use the special ‘hunching’ toilets – you will have to, sometime.
- No toiletpaper is free – carry spares.
- McDonalds and KFC are available freely, but don’t order chips as you would back home – they don’t have. You will get it with rice. Colonel’s secret blend of herbs and spices? No – more like sticky ribs coating.
- Do not drink too much Chang beer – you will get a hangover of the size that need’s it’s own postal code.
Toyrun 2008 December 8, 2008
Posted by oomherman in Done deals.Tags: Afrikaans
4 comments
Jy sien, ek is ‘n leerling biker. Toe ons jonger was en ek begin krap het vir ‘n motorfiets toe al my pêlle bikes gekry het, het Ma altyd gesê ons kan bikes kry die dag as die goed safetybelts inkry. Nou ja – niks fifty’s vir niemand met die grootword-slag nie. Ek dink dat, soos baie ander dinge, ons later die goed explore wat ons nooit as kinders gehad het nie as ons die geleentheid kry.
Ek het wel soms my vriende se bikes gery as daar kans was. So het ek Jonna se AR50 paar keer gery, ons het paar keer met Bloulig se 50 geval in die mynhope en ek het ‘n moerse scary trip saam met Franks op sy 1300 gehad toe ons al uit die skool was. Ek het ook laat een aand een van Lucky se pélle se MB-50 sit en oorverf nadat ek met die ding geval het. So, ek het wel bike gery, maar ek sou my eerste pogings nou nie ‘n oorweldigende sukses bestempel nie.
Die netto resultaat is dat ek ‘n ewige vrees vir bikes het. Ek is baie, baie bang vir die goed.
Ek bly 40 kilometer van die werk af en teen Februarie hierdie jaar het ek genoeg gehad van die verkeer en die petrolprys. Na lang redekawel met die vrou, koop ek ‘n klein fietsie om mee te leer. Dit gaan alles goed en teen November het ek my behoorlike lisensie en ‘n groter, nuwe bike. Tot dusver betreklik pynloos. Ek is al paar keer in die verkeer getref deur ouens wat nie kyk voor hulle van baan verander nie, maar ek bly nog tot dusver bo.
Toe die Toyrun dus hierdie jaar weer kom, en ek het vir die eerste keer in my lewe ‘n behoorlike bike, toe MOES ek net eenvoudig gaan. Mamma gaan saam.
Ons pak die dag baie lig – basies net ‘n kamera en hoede – brêkvis by McD’s en laai die pienkvoet by ouma af vir die dag. Ek maak die speelgoed aan die fiets vas sodat almal kan sien ons is toyrunners en die res van die speelgoed gaan agter in die topbox.
So klim ons op die bike en ry Brightwater Commons toe in Randburg. (Ek dink nog steeds dis ‘n poef naam vir die Waterfront) Op pad is daar heelwat ander bikers en almal waai vriendelik. Ek moet bieg ek was heel verbaas met Mamma wat ook saamspeel en saam waai vir die ander. Ek vermoed sy geniet heimlik die bietjie ekstra aandag.
Ons kom in Randburg aan en die marshall van die Harley club laat ons eers wag totdat hulle bende die plek kry, wat hulle nogal ‘n rukkie vat. Vir mense wat nie die pad ken nie, is hulle heel arrogant, dink ek so by myself. Nadat hulle die verkeer vir etlike minute opgehou het, kom almal by die Commons aan en ons parkeer. Daar is al die vorme van bikers te siene. Van gewone ouens soos ek wat net werk toe en terug ry, tot die serious biker–Harley-gangster-moenie-vir-my-kyk-nie–of–ek-moer-jou-once tipe dudes. Daar is tot laaities met pitbikes wat saamry. Almal het presente vir die arm kinders gebring. Schweet.
So tussen die rook en petroldampe en geraas deur, kom daar ‘n rot oor die pad gebokspring na veiliger plekke anderkant die bikers teen die bult uit. Die vrou lag haar gat af, want die rot lyk half nervous en ek dink sy voel dié sentiment is nie onvanpas so tussen al die petrolkoppe saam nie.
Toe die Harley bende nou eers almal mooi hulle sit gekry het en hulle marshalls voor in die ry kan kom staan, toe blaas hulle die toeter en ons kan almal die onmeetbare voorreg hê om hulle te volg. Ons ry maar stadig en ek voel half trots dat ek die bike teen loopspoed of minder beheer kry sonder om eendvoet te loop én met mamma agterop. So kom ons uiteindelik by die freeway en die cops is daar om die verkeer te stop – schweet van hulle. Een ou op ‘n bike wat obviously onlangs geval het, kom teen moerse spoed langs ons verby en voer ‘n sierlike ‘stoppie’ by die robot uit. Die cops lyk ook impressed.
Ons is op die freeway en baie ander bikers sluit by die groep aan. Daar is letterlik duisende bikes. Langs ons is ouens met hulle laaities agterop die bikes en ek dink onwillekeurig dat my eie pienkvoet dit ook sal geniet as sy die dag groot genoeg is.
Ons ry soos wat meeste groot groepe voertuie ry – almal ry met verdrag vinniger en vinniger totdat een hou nervous raak en die briek vat-vat. Dan stop die hele spul, so jy ry effektief in sulke groot tsjortse aan. Ry-stop-ry-stop.
Uitendelik kom ons by Nasrec se afdraai aan en van hier af gaan dit amper meer bedaard. Ons parkeer en haal die speelgoed af. Nou loop soek ons die toy dump. Kry die plek en gooi ons speelgoed op die hoop saam die ander – bitter min seremonie aan die hele affêre, maar dis immers nie waarvoor ons hier is nie.
Nou verken ons die stalletjies met bikes en bike goeters, maar eers kry ons bloedig warm. Daar is ‘n knaap wat roomys verkoop en ons stop daar by hom. Ek koop ietsie klein vir mamma en my gewone favourite orange sucker vir myself. Niks Magnums of sulke luukse goed nie. R26.00, dankie. Die lae bliksem!! Ons is hier vir liefdadigheid en hy buit ons blatant uit. As daardie selle twee roomyse meer as R10.00 op die straat gekos het, het ek hom in sy moer gestuur! Vark! Nou ja, beggars can’t be choosers, I guess. Maar ek bedoel; Hel, man! Ek weet dis vir liefdadigheid en alles, maar ek vermoed hierdie jakkals se liefdadigheid begin en eindig sommer by homself. Lekker shortcut gevat, né?
Ons loop en eet stadig aan ons duur roomyse. Ons drentel deur die stalletjies en ek kyk bike goete terwyl Mamma self mik vir ‘n lekker baadjie, want sy het nie een nie en ek vermoed daar is effe van ‘n trek agterop die bike.
Later is ons geld opgekoop aan R10.00 koeldranke en ons is verveeld want daar is nie juis ander maatjies om saam te speel nie. Verder is dit steeds bloedig warm en ons klere is gekies vir die wind, nie die stilstaan in die son nie. Ons kontant is op en om by Nasrec ‘n OTM te kry, is soos om plein koffie in Starbucks te koop – dit gebeur nie. Na nog bietjie rondloop en goed kyk, besluit ons om te verkas. My work here is done and all and all.
Op pad uit, loop ons by die ‘Christian Stuntmen’ of iets verby. Dis soos dudes wat dissipels is deur stunts op hulle bikes te doen. Ek dink ek het in Efessiërs of iewers van hierdie lot gelees…. Anyway – ons wil bly om te kyk, maar hulle het obviously nie te goed beplan nie, want toe moet hulle eers toestemming by die Nasrec safety dudes kry om hulle stunts te doen- en die skare wag – en dit was aand en dit was more – die tweede dag. Tien punte vir die boodskap, dudes, nul vir beplanning.
Ons besluit om maar eerder na die bikes te kyk op pad uit, want die hele Nasrec parkeerterrein staan vol fantastiese fietse – van ouer classics en nie-so-classics nie, tot nuwe ongelooflike fietse waaroor ek net kan kwyl.
Ons saal op en ry terug huis toe. Dis nou vêr van hier af en daar is nie weer ‘n stop tussenin soos op pad hiernatoe nie. Ek ry redelik stadig, want my fietsie brul onder ons gewig. Ek en Mamma is nie juis lightweights nie.
Nou kyk, my vrou slaap maklik in ‘n voertuig – baie maklik. Soms, voor die baba, sou ons sommer middernag lus raak vir roomys of iets en gou garage toe ry (veral toe daar ‘n Woollies by die garage oopgemaak het) vir lekkernye. Ek het altyd gespot dat, as ek haar garage toe vat vir ‘n roomys, ek haar moet wakker maak om te vra watter soort? Mamma slaap sommer maklik as die wiele draai.
Dit is ook seker redelik vervelig agterop die fiets want die scenery verander ook nie baie nie, maar ek het wragtig nie verwag dat my vrou actually aan die slaap sou raak nie – nie agterop die bike nie. Ek ry nog so, toe voel ek net hoe leun sy nou al swaarder en swaarder teen my rug! Sy slaap wragtag! Ai, ai, ai!! So much vir my ‘wild en exciting’ image.
Een Toyrun dus gewax. Ons het dit baie geniet, maar sal volgende jaar seker meer geldjie vat om koue goed te koop, en ook dalk by ‘n groep aansluit voor die tyd sodat ons maatjies het by die plek en meer kan kuier.
Altyd vir ‘n goeie saak en soms selfs wakker bly vir die hele performance….
Beskerm: Reisverhale: My eerste dag in Amerika December 8, 2008
Posted by oomherman in Done deals.Tags: Afrikaans
Enter your password to view comments
Ma red die voëltjie December 8, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
add a comment
Ma gee altyd vir allerhande goeters om. Soos vir kinders met seer knieë en dogtertjies met seer harte en vriendinne met siektes en sulke goed. Ook vir diere.
Kleintyd wou sy blykbaar vreeslik graag met haar ouboet se groot fiets ry. Die feit dat die fiets hopeloos te groot vir haar was, het haar glad nie getraak nie. Ouboet wou egter nie, en sy dêps toe eendag die fiets terwyl hy nie by die huis is nie. Ry lekker rond, maar sukkel, want nou moet sy haar een been deur die raam van die fiets steek en so ‘half-loaf’ ry. Sy is nie lank genoeg om ordentlik bo-oor die fiets te pas nie. So sy sukkel maar sy ry lekker rond. Enigeiemand wat al so fietsgery het sal weet wat die ding, met al jou gewig eenkant, baie makliker na jou kant toe draai as ander kant toe. As jy wél ander kant toe gedraai kry, draai jy nie maklik terug nie.
Maar ma ry lekker rond. Kom paar draaie teë, maar maak hulle sonder moelikheid. Toe sien sy egter op die sypaadjie ‘n ou klein voëltjie wat se vlerkie seergekry het of iets. Ma se hart laat haar nie toe om verby te ry nie, en sy stop om die voëltjie op te tel. Sy gaan hom huistoe vat en versorg.
Nou is ma terug op die fiets. Voëltjie styf in een hand vasgehou en been deur die raam. Sy kom sy na paar probeerslae weg en ry terug huistoe. So op pad is daar ‘n draai verkeerde kant toe. Ma mik-mik, maar kry nie gebriek nie en maak ook die draai net genoeg om die rantsteen min of meer reghoekig te tref. Dáár trek die fiets en dáár trek ma, maar sy los die voëletjie nie. Toe die stof gaan lê en ma oor die ergste pyn is van maermerries wat bloei en knieë met skrape, kyk sy ook na die voëltjie, of liewer dan toe eks-voëltjie, wat sy heeltyd styf in haar hand vasgehou het. Blyk dat sy toe met die vallery effe stywer as betaamlik vasgehou het en daar druk ma toe die voëltjie laat die tannepasta by sy boude uitkom…
Voëltjie is by Liewe Jesus en ma se hart is baie seer, want sy het maar net probeer help.
Toe nou nog net met die stukkende hart en stukkende knieë die stukkende fiets verduidelik…..
Die ander keer toe ons die kar omgegooi het November 21, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: Afrikaans
add a comment
Dis belangrik om hout te hê as jy gaan vuurmaak. Nog meer belangrik is dat jy die hout gaan haal om vuur mee te maak. Die feit daar daar reeds ‘n mini-berg hout reg langs die braaiplek lê, is total irrellevant. Houthaal is ‘n tradisie en is ‘n hoogs belangrike manne-bonding-experience-spansport waartydens jy enige verskeidenheid van wonde kan opdoen wat jou baie simpatie by die girls vir ten minste die res van die naweek gaan kry. Hierdie en ander gedagtes maal in ons koppe rond tussen die brandewyn deur toe ons die middag by die dam sit en visvang. Nie dat ons iets vang nie. Die wind waai so erg, ons kry basies nie die lyne in die water nie.
So gesê, so gedaan. Ons pak op en ry huis toe. Laai die visgoed af en al wat man is, is op die bakkie om hout te gaan haal. Dis hoog somer en bloedig warm in die ou Wes Transvaal.
Ek en R, die drywer, ry voor in die bakkie en my boetie en neef is agterop. Dis plaas, so ons traak nie en gou is die hemde ook uit in die warm son. Later lyk dit lekker op die bakkie en ek klim sommer so in die ry deur die venster agterop. Ons ry immers vêr van ander mense se paaie op ‘n tweespoor pad in die veld en glad nie vinnig nie. Ry lekker agterop die bakkie – sing en gaan tekere.
Volgende oomblik is daar ‘n vurk in die pad met dik sand. Ons ken die vurk, maar die drywer nie. Ons het vroeër die dag dieselfde pad gery en die afdraai gevat, so die drywer ken net daardie pad, maar ons is hopeloos te vinnig vir die draai. Toe ek die bakkie hoor ‘terug-gear’, toe kry ek sommer daai gevoel van as daar iets met hoë spoed op pad na ‘n ‘fan’ toe is en jy kan dit sien kom…..
Ons rol die bakkie en die drie van ons trek soos vrot velle deur die lug. Lucky en my neef land verder in die veld, maar ek kom nie weg nie en die bakkie rol bo-oor my met ‘n hop wat effektief my lewe red. As die ding enigsins anders gehop of geland het, het hy bo-op my kop geland en ek was bokveld toe. Toe ek opstaan, het ek brandmerke op my vingerpunte soos wat ek die ‘propshaft’ vasgegryp het toe die bakkie bo-oor my kop verbykom. Verder het ek nie ‘n vel aan my gat nie, want ek het darem die ergste val gebreek met my aansienlike agterent.
Die bakkie lê op sy kant. R steek sy kop by die bakkie se ruit uit en verklaar dat ons nou amptelik in die kak is. Ons ‘tiep’ die bakkie weer regop en ry huis toe – die deure nou toe deur middel van ‘n lekker stuk nylontou aan die twee binneste handvatsels.
In nabetragting, is dit seker die gevaarlikste ouderdom in jou lewe – daar wanneer jy wettig mag drink en wettig mag bestuur, (hoewel nie altwee gelyk nie) maar nog nie werklik enige sin vir verantwoordelikheid geleer het nie.
In ‘n verdere bewys van sy eie ‘indestructability’, het Lucky net die volgende maand weer in ‘n ander bakkie gerol…. Ons Ma was grys laaaaaank voor sy 40 geword het.
Die Karoo November 21, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: Afrikaans
add a comment
Ek was nooit baie in die Karoo nie. Ek het in jonger dae dit altyd gehaat as mense sê ek lyk soos Coenie de Villiers – ek het ook daai knaap en sy musiek nooit verstaan of waardeer nie. Dit het een betrokke warmbloedige persoon geneem om my te laat stil sit en besef dat Coenie se musiek actually heel skaflik is, en die herinneringe wat ek aan daardie tyd het, het my op ‘n keer self in Coenie se musiek laat belê. In ieder geval, die draai by Coenie kom maak sy stop hier by gedagtes aan die Karoo. Ek kan nie anders as om die twee altyd met mekaar te vereenselwig nie. So, ek was nooit in die Karoo soos ‘n Karoo-mens nie, maar ek kan heeltemal verstaan hoekom mense ‘snaaks’ raak oor die plek. My eie vrou, stadskind gebore, het al blykbaar daar deurgery en bemerk – ‘maar hier is dan niks nie’ (met ander byvoeglike naamwoorde) Meer onlangs, toe die familie van heinde en verre opruk na Oudtshoorn vir my boetie Lucky se troue, het my neef ook die geleentheid gebruik om die familie die Karoo te wys. Sy telleurstelling was skynbaar net so groot oor die niks.
Die ding met die niks is dat dit meesal ‘n kwessie van perspektief is. My vrou, stadskind, sal jou sommer maklik vertel watter dinge haar ‘landscape’ beter maak. Die Foschini by Brooklyn is nader aan die Edgars en die baba-klere afdeling is links as jy uit die coffee shop met die lekker kaaskoek kom…. Hoe is dit anders as die subtiele verskille en ‘nuances’ wat Karoo-mense in hul omgewing opmerk? Ekself het altyd waardeer hoe my pa, wat op sy tyd ook baie dae in die veld spandeer het, klein dinge opmerk waarop ons dorpskinders nooit ingestel was nie. Klein uilnessies op die grond, waaroor ons eenvoudig sou geloop het as hy nie gekeer het nie, of voëltjies in die veld wat op ‘n sekere manier uitwys dat daar letterlik ‘n slang in die gras is. Dis vir my amazing, maar dis een van daai ‘carburettor’ probleme – ek weet dis daar, maar ek hoef nie te weet hoe dit werk om die kar te laat ry nie.
Dit alles is ‘n lang manier om te sê dat ek, hoewel ek seker nie die Karoo of sy mense kan verstaan nie, of selfs ooit daar kan bly nie, tog kan verstaan hoe mens jou landskap leer ken en herken. Dis iets wat ingeleer word. Met ‘n onlangse besigheidstrip na Beaufort-wes, het ek weer besef dat mense daar op ‘n heeltemal ander skedule as ons in die groot dorp werk. Ja, hulle praat ons taal, maar hulle verstaan ander dinge as ons.
So, Coenie, hoe verduidelik ek dat ek nie presies verstaan wat jy bedoel nie, maar tog weet waarvan jy praat?








