Die Blom van Laingsburg en ‘n skaap genaamd Besie Junie 27, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
3 comments
Paar jaar terug gaan ek en my groot maat CLR af Laingsburg toe om te help opmeet aan uraanmyne daar. Die rede is ‘n lang storie, maar ons is op pad soontoe. Ons ry met my Opel uit Pretoria en bly die eerste nag in Kimberley oor, sonder enige merkwaardige insidente.
Die volgende oggend vra ek vir C of hy wil ry, want ek het ons nou al tot hier gebring en Laingsburg is nog vêr. Ja, sê hy. OK, sê ek. Daar gaat ons. C ry die kar baie mooi, en op ‘n stadium sê ek vir hom: “Teen hierdie spoed gaan ons seker more iewers in Laingsburg aankom” Fout A. Van daar af het ons die onnerkant van 150 omtrent nooit weer gesien nie. Op Beaufort, net ‘n klein rukkie later, moet ons stop, want die petrol is op. Die Opel se kezos maak so: “pieng, pieng, pieng” nes ‘n mouterbaaik s’n.
Ons gaan verder en kom in Laingsburg aan. Boek by die enigste hotel in, reg langs die stasie. Ons verken die plek so bietjie want ons is mos nou “van die stoep af losgeketting”, kan jy sê.. Baie vinnig besef ons dat hierdie avontuur die risiko loop om van korte duur te wees. Die kort storie is, daar is 3 kroeë op Laingsburg en drie vakante poste vir ‘barman’ – een in elke kroeg. Waar het jy dit al gehoor – ek dag dis dors wêreld hierdie? Ons bied onmiddelik aan om die barman-pos by ons eie hotel tydelik te vul. Sien, my maat C het immers ervaring en ek sal sommer die eerste klient wees. Hulle willie en ons maak toe maar ‘n ander plan. Die naaste geel apteek is net oor die straat en ons kry proviand. So, die somtotaal van 37 minute na ons aankoms, is die Grand Tour van Laingsburg klaar (ingesluit die golfbaan, waar die kroeg ook toe is) en ons is terug in die hotelkamer met ‘n redelike voorraad drinkgoed. Ons kyk krieket op die tv en sorg vir die dors.
Dit was later die middag toe ons agterkom dat daar nou ‘n gespelery en goete aangaan iewers naby. Mense lag en skree. Ons gaan stel ondersoek in en dis waar ons ‘Die Blom van Laingsburg’ ontmoet – langs die groen swembad waar die kinners in speel. Wie sy is en hoekom sy in die hotel bly saam met die kinners, maak nie saak nie. Dis nie haar kinners nie, sy pas hulle net op. Sien, die saak staan so: Laingsburg het ‘n skool met ‘n koshuis, maar daar is asbes in die koshuis – orals, so die koshuis word uitgebreek en ‘refurbish’ Dus, die kinners en die ‘oppas-tannie’ bly in die hotel, saam met die bouspan wat aan die koshuis breek en bou. (Almal wat op hierdie stadium al “Outer Limits: Episode 23″ -gedagtes kry, maak julle vas – dit raak erger… )
Die Blom van Laingsburg is ‘n pragtige nooi, en gou gesels ons erg lekker. My maat C en ek trek die hele local bende bymekaar want, as die hotel een ding wel het, is dit ‘n mooi pooltafel wat omtrent nooit gebruik word nie. So ons speel pool en kuier met die mense. Die plaaslike pool-kampioen is ook die barman/ ontvangspersoon/ skakelbord beampte, so die poolgames word soms onderbreuk.
DIt raak etenstyd in die hotel en ons word almal eetkamer toe geroep. Ons bestudeer die spyskaart met opregte ywer, want die dag was lank en ons is honger, hoewel nie meer so erg dors nie… Na lang bepeinsing kom die pool-kampioen/barman/ontvangspersoon/skakelbord-persoon daar aan – nou in die rol van kelner, en neem ons bestelling. In sy eie woorde: “Ons het net skaaptjops, skaapnek-potjie en steak. Die steak is op en ek sou nie die potjie aanbeveel nie” ”Nou maar skaaptjops dan, asseblief”, sê ons.
In alle geval, na ete raak dit al later en ons sit op die stoep en stories vertel, dis omtrent die most happening ding in Laingsburg, so 2-uur op ‘n Dinsdagoggend een April.
Nou, dis toé dat die Blom uitkom met die stories van wie sy is en waar sy al was. Sy kom van Sutherland af. Daar het sy op haar broer se plaas gehelp skape melk om kaas te maak. Nou, ek weet nie wie van julle weet nie, maar skape se melk het 34% of iets meer bottervet in as beesmelk, so mens gebruik minder daarvan om dieselfde hoeveelheid kaas te maak – facinating. So, ek ken iemand wat al skape gemelk het en kaas van die melk gemaak het. Verder is daar op die plaas ook ‘n groot skaapooi wat omtrent 12 liter melk op ‘n keer gee – met ‘n uier soos ‘n sokkerbal – hulle noem die skaap Besie. “Hallo, Ja – hier is Besie my skaap, Rottweiler my papegaai en Kokketiel, my hasie.” Nie bietjie confusing nie.
Ons het baie lekker gekuier daardie aand, en ek en die Blom van Laingsburg het soms daarna nog gesels oor die foon. ‘n Baie opregte mens, wat nog die tyd maak om die mooi om haar raak te sien. Daar in die skaduwee van Kakkerlak se Berg (dis regtig die naam van die berg) het ek ‘n juweel van ‘n mens ontmoet – een wat net ‘by the way’ skape kan melk.
Ek en C het lank oor die storie gepraat en uiteindelik besluit dat sowat van vroeëns daar nie meer veel in die wêreld oor is nie. (Een wat skape kan melk, vark kan slag, en met daai Massey-Fergusons met die twee nou voorwielietjies wat so bymekaar sit, reguit kan ploeg deur ‘n mielieland)
Hierdie wêreld is vol interessante mense – en ek dink elkeen van hulle het ‘n storie wat wil uitkom, onder die regte omstandighede. As ons net die moeite doen om ons soms los te skeur van die TV en die ander, groter moeite doen om te luister, is die stories nog daar.
H
My vrou en die spinnekop Junie 24, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
1 comment so far
As ek hierdie storie behoorlik vertel, sal dit baie lank vat, want ek sal moet begin by hoe my vrou ‘n gawe persoon is. Dan sal ek moet verduidelik hoe sy ook maar werk en ons nie tussen ons mal is oor huishou nie. Verder sal ek moet verduidelik dat sy die soort persoon is wat, as sy my eenkeer gevra het om iets te doen in of om die huis, en ek doen dit nie, sy dit sommer self sal doen. (Ek maak gewoonlik agterna reg en skoon waar sy klaar is vir my straf omdat ek nie die eerste keer geluister het nie.) Die ander deel van die agtergrond is dat ons altwee niks van spinnekoppe hou nie.
Kyk, ek erken ruiterlik ek hou niks van spinekoppe nie. Die goed het te veel oë en ek kan nooit seker wees sommige van hulle kyk nie vir my nie. Ek mind nie soveel ander tipes goggas en diere nie, maar spinnekoppe is my dood. Ek kry sulke rillings by my rug af wat my onstabiel maak en ek wil sommer skielik kamerverlaat. Anyway – ek en spinnekoppe – eish !!!
So gebeur dit die dag dat ek en die waaif huis skoonmaak. Ek is op vloerewas en sy is op vacuum duty. Dis toe dat sy die wyfie Black Widow spinnekop in haar netjiese klein web in die hoekie bo die deur ontdek. Nou, na die oorspronklike skrik verby is, hou my vrou koel kop en sy maak die meeste van die afstand tussen haar en die spinnie – sy gebruik die stofsuier en suig sommer die spinnekop web en al op. Goed.
Nou raak sy bekommerd, want dalk is die spinnekop nie dood nie. Sy is dalk nou net opgesuig, hare deurmekaar en klere vol stof, en dalk bietjie ‘afgewater’ Met die drogbeelde van “black widows with a mind for revenge” en spinnekoppe wat met hulle bloedbelope, stowwerige oë die huis rondstrompel op soek na ons, besluit Mamma om sommer seker te maak en die blik Doom in die stofsuier se keël leeg te maak, sommer so terwyl die masjien nog loop. Dis min of meer op hierdie stadium wat ek op die petalje afkom…..en myself geregtelik bekaas.
Na lang verduidelik, vra ek vir mamma om asseblief saam met my Mythbusters se episode van die vacuum jet engine te kyk – net vir verwysing.
Sela
My boetie Lucky – episode 1 Junie 23, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
4 comments
Ek is die oudste van 3 kinders, en almal wat die gesinnetjie ken, kyk my ma nou nog gereeld half ongelowig in die bek om te kyk of sy nog gereeld haar tande skeer…
Dit het soms maar woes gegaan maar, op ‘n manier, het ek en my boetie oorleef. Nou, hy is ‘n karakter met ‘n hele klomp hart en goeie bedoelinge, en dis gewoonlik daar waar die moeilikheid altyd begin het. Ons noem hom “Lucky”, en met baie goeie rede…
Die een betrokke dag toe ons baie jonger was (ek was nie by nie, maar ek het alles in technicolour stereo gehoor na die tyd) is hy en my sussie blykbaar op hulle fietse in ‘n park naby die huis. Soos wat hierdie dinge gebeur, is boetiegoed op die randsteen van ‘n hoê muur, waarvandaan hy nou beplan om te ‘ramp’ tot in die volgende bedding – ‘n goeie 5/6 meter weg… Niks te veel moeite vir Boetie om vir Sus te beindruk nie. Hy neem ‘n lang aanloop, trap die fietsie tot die ketting so sing, en met ‘n kreet van “Nou gaan jy iets sien wat jy nog NOOIT gesien het nie !!!!!” (Ek dink dit vertaal rofweg in “BANZAI!!!!”) trek ou Lucky deur die lug. Nie te vêr nie, maar met ‘n sierlike boog, en land in die grondpad laat die kluite, bloed en speke kan jy sê alles ewe vêr spat.
Nou, om ‘n lang storie kort te maak, toe Lucky die volgende aand by die skool se prystuideling die wisseltrofee vir Noodhulp ontvang, toe brul ons huisdokter van die lag, want Lucky se gips is nog lekker vars…
Die uitdrukking: “Nou gaan jy iets sien wat jy nog nooit gesien het nie” vertaal vandag nog in ons familie min of meer direk na: “staan bietjie terug, ek beplan om nou k@k aan te jaag”
Dis maar soos dit is…
Die Vader seën ons weer moedeloos vandag Junie 23, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
1 comment so far
Jy moet ‘n boeremens wees om hierdie te verstaan:
Om een of ander rede reën dit altyd nuwejaar in Centurion. Nou, nog lank voor ekself in Centurion (laaste buitepos van die Afrikanerdom) kom bly het, het ek altyd oor nuwejaar by vriende kom partytjie hou daardie tyd.
Dit gebeur toe ook een nuwejaar so dat ons in ‘n groot groep sit en planne maak oor waar ons vandag gaan braai, want dit lyk vir die 8ste dag in ‘n ry na reën, dat die een tannie met ‘n groot sug opmerk: “Ja, Nee. Die Liewe Vader seën vir ons weer moedeloos vandag…“
Nou ja. Sowat van seën dat mens nie jou ander seëninge geniet kry nie, het ons immers ook al beleef.
Sal ons ooit tevrede wees?
‘n Gesanik oor die Padadministrasie: ‘n opmerking Junie 23, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
add a comment
Het julle al opgelet hoe funny mense is as dit by ons paaie kom? Hoeveel keer ry jy saam met iemand en hulle kla or die toestand van die paaie? “Hierdie pad is so in sy m@#r in..” ”Die Minister van Vervoer se naam is “Slaggate Potholes….” ensomeer?
In alle geval, het julle al hierdie selfde mense gesien as die pad wel die dag herstel word, en hulle moet by die tydelike Stop-teken wag vir 20 minute of so? Dan is die hel behoorlik los – hoe durf hulle?
Hoekom doen mense dit? Die Vader seën ons weer moedeloos vandag…..