Pa ry die bees dood Januarie 20, 2009
Posted by oomherman in People / Mense.6 comments
Pa het op Witpoort grootgeword. Witpoort is ‘n bitter, bitter klein dorpie so amper halfpad tussen Leeudoringstad en Wolmaransstad. Om te sê daar is niks nie, is om niks orals lelik te beledig. Die dorpie het in die 1990’s eers elektriese krag gekry.
Ouma het vir baie jare nadat pa weggetrek en self sy gesinnetjie begin het, nog op Witpoort gebly. As kinders het ons dus ook die plek leer ken en baie kattekwaad daar aangevang, soos Lucky wat deur Oupa se staldak geval het en ekself wat etlike veldbrande persoonlik gestig het. Met die gebrek aan elektrisiteit, het ons as kinders geglo Witpoort is die plek in die wêreld waar al die duisternis bymekaar kom om die kerse bang te maak.
Zoom back tot die tyd toe pa self laaitie was op Witpoort. Hy het sommer baie maatjies gehad en hy vertel ons gereeld van die twak wat hulle aangejaag het. Een van sy meer kleurvolle verhale is die keer toe hy en klein Johnny Hudson die bees doodgery het.
Nou, om ‘n bees dood te ry is op sigself gewoonlik redelik traumaties en kan selfs dodelik wees. Wat Pa se storie soveel beter maak, is dat hulle dit met ‘n fiets gedoen het. Ja, ‘n trapfiets en Ja, ‘n hele bees.
Sien, Witpoort het net een teerstraat – so ‘n lange wat reg deur die middel van die dorp loop. Die straat kruis ‘n klein stroompie min of meer reg in die middel. Weerskante van die stroom is die pad redelik steil na beide kante teen die bult op. Aan die een kant van die pad is die winkel, en aan die ander kant is die dam met die leidam en leivore van daar af deur die dorpie se landerye. In die middel, waar die pad die Wolwespruit kruis, is daar gemeenskaplike weiveld vir die dorpie se lewendehawe.
Pa en die Hudsons het die dag by die dam gespeel en teen die middag se tyd begin dit reën en hulle moet huis toe gaan. Twee van hulle klim op die fiets, want Johnny Hudson het nie ‘n fiets gehad nie, so hy sit op die handvatsels voor en pa lift hom huis toe – aan die ander kant van die dorp.
As jy by die dam se hek uitkom, is daar nou ‘n lang afdraend tot in the middel van die dorp se hoofstraat en dan weer opdraende tot by die huis se afdraai. So, uit die aard van die saak trap jy laat dit bars teen die afdraende om soveel as moontlik momentum vir die opdraende te kry. Veral as jy iemand lift, anders gaan jy sukkel.
Pa en Johnny het al baie gelift en hulle het die balans-ding lekker onder beheer. Pa trap dat hy bars, die fietsie sing soos hy loop en toe hy mooi op spoed is – toe loop die beeste van onder die brug en die weiland af reg oor die pad. Klein Johnny Hudson skree, maar pa sien te laat en hy tref die kalf reg in die blad. Daar lê Pa, daar lê Johnny Hudson en daar lê die kalf. Pa en Johnny spring op en gryp die fiets en jaag huis toe.
Dis eers twee dae later dat die oom wie se bees dit was, by die winkel kom verneem het of iemand gesien het wie sy kalf doodgery het, want daar is nie briekmerke of iets gewees nie. Die kalf se rib is afgery en het deur sy long gesteek en die ding het basies net daar gevrek. Pa en die Hudsons het maar stilgebly, want daar was nie geld om mense vir dooi beeste te vergoed nie en Oupa sou sy gatvelle afgetrek het – net vir ‘n ‘opening bid’
Nou ja, nie baie ouens het al beeste met fietse doodgery nie.
Armystories 3: Chris en die 9 biertjies December 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.6 comments
Ek het vir Chris al lank voor ons armydae leer ken op Landsdienskampe in die Noord-kaap. In die army het ons mekaar op van-terme leer ken, so as ek hier sy naam gebruik, behoort dit voldoende beskerming van sy identitiet te wees. In ieder geval, ons het mekaar al paar jaar geken teen die tyd dat ons army toe gaan, maar ons was nou nie boesemvriende nie.
Ek vermoed Chris het maar baie soos ons grootgeword – daar was nooit sprake van die kinders wat drink in die huis nie (nie wat ma-hulle van weet nie) maar, as jy eers bietjie groter is, het Ma jou probeer tafelmaniere leer deur bietjie wyn op die tafel te sit Sondae. So basies het jy nie veel drank te siene gekry in jou ouerhuis met die grootwordslag nie. Chris was van ‘n plaas daar naby Hopetown se wêreld as ek reg onthou. Dit gebeur toe ook so dat ons in dieselfde battery en dieselfde ‘bungalow’ by Potchefstroom se artillerie brigade opeindig.
Nou ja, dinge gebeur en ‘basics’ was nie die beste van tye nie, maar dis nodig en dit maak jou fiks en sterk. Na ’basics’ mag jy 2 biere per persoon per aand by die kantien drink. Die soldy is bitter skraps, maar ons kry tog kansie om soms te gaan – gewoonlik eenmaal ‘n maand net na betaaldag. Toe gebeur dit een aand so dat iemand opmerk: “Maar Chris verjaar mos vandag?!” Dis net so ‘n maand na ‘basics’ op ‘n Saterdagaand en ons het toevallig onlangs geld gekry, so ons paar vriende van Chris gaan saam met hom ‘n bier drink by die kantien.
Ons tree mooi aan in 2 x 3 formasie voor ons bungalow en een van ons dril die ander af tot voor die kantien. Daar tree ons uit en stap in. Elkeen koop sommer met die instap sy kwota van twee biere en ons gaan agter uit, waar daar bankies en bome is. Sit en gesels lekker. “Lekker verjaar, ou Chris” en als en als… Toe kry een ‘bright spark’ die idee dat, omdat hy niks vir Chris vir sy verjaarsdag gekry het nie, Chris maar sommer sy tweede bier kan kry. Natuurlik doen almal anders om die tafel dieselfde. Nou begin die vermeende vinnige partytjie lyk na ‘n speletjie, want Chris erken sommer ruiterlik dis meer drank as wat hy in sy lewe saam gesien het. Voor hom staan egter nou 9 Castles met sy naam op.
Tot sy ewige krediet doen Chris die eerbare en hy begin by die bier naaste aan hom. Dis al na 6-uur en 9-uur moet ons terug wees by die bungalow vir roll-call. Chris slaan die een Castle na die ander weg terwyl ons hom luidkeels aanmoedig. So net na 8-uur is Chris klaar, maar nou het ons ‘n probleem. Ons held staan nie meer so lekker nie en hy loop nog minder oortuigend. Ons loop-sleep-dra vir Chris die amper half-kilometer terug bungalow toe.
Terug by die bungalow, het ons egter toe eers ons hande vol met Chris – toe die Castletjies nou mooi getrek het, kan jy sê. Chris tree hom voor die eerste bed wat hy sien aan en verklaar raserig dat hy nou gaan slaap – die eienaar van die bed se protes ten spyt. Die ou steier, maar hy vertel vir almal wat wil hoor, en paar ander: “Dis my bed en my kas en my trommel en my rugsak, en ek slaap net hier. Nou raak ons bekommerd, want dis duidelik dat die klong regtig stukkend is. As Chris se kos nou uitval gaan ons die gemors moet skoonmaak, en ons het al genoeg bungalows gepolish soos dit is. Ons hardloop met Chris tot in een van die vier cubicles onder in die bungalow. (Die ouens wat die 64-man ‘opman’-styl bungalow ken, sal weet hoe dit lyk, maar dis basies twee lang gange met beddens teen elke muur en die stort- en toiletgeriewe aan een punt en vier kleiner, meer privaat kamers {cubicles} aan die ander ent.) Ons is in die cubicle aan die onderent – hier sal dit makliker wees om skoon te maak as Chris opgooi. Ons maak Chris staan voor die bed en sê hy moet gaan slaap. Chris gee die bed een kyk en besluit dat wat hy eintlik nou wil doen, is piepie. Hy begin met sy overall se knope peuter. Ons kliek wat gebeur en hardloop weer met om aan die arms deur die bungalow tot bo en maak hom voor die krip staan.
Nou moet ek eers verduidelik dis winter in Potchefstroom. Dit raak bitter koud, soos wat ek al elders verduidelik het. Omdat almal se drag buite dieselfde moet lyk, dra jy iets onder jou overall vir die koue. My eie ma het vir my lekker Thermal Underwear gekoop by die Wollie-winkel, maar meeste ouens het sommer net sweetpakbroeke onder hulle overalls aangehad.
Ons staan met Chris voor die krip. Hy vroetel met die knope aan sy overall. Teen hierdie tyd het ons troppie al ‘n mooi skare om ons wat dié petalje gadeslaan, want Chris is nie bekend as ‘n raserige ou nie. Uiteindelik kry hy die knoop los en hy reik binne sy overall in om die nodige te doen om te pie. Dis daai tyd dat Chris die swart Bear International sweetpakbroek onder sy overall se toutjie uithaal en met die ding mik en laat skiet. Chris gee skiet en hy pie die pie van ‘n bierdrinker wat die eerste keer die aand die seël breek. Hy gooi sy kop agteroor van pure verligting. Hy leun later op sy arms teen die muur. Chris is salig onbewus dat totterman nog knus in sy broek sit en dat hy môre sal moet overall, bootse en sweetpakbroek was. Chris pie en hy pie. Dit loop teen sy bene af, in sy bootse in en later weer uit. Hy pie hom sopnat. Toe hy klaarmaak, toe gee hy so ‘n windmaker skud en sit die toutjie mooi terug waar hy vandaan kom. Ek en die ander lê op die grond en rol soos ons lag, want nou is daar geen keer nie.
Daardie aand is nog steeds waarskynlik die meeste wat ek nog vir een ander mens gelag het. Ons het later vir Chris weggevat en op die kaal staalbedjies in die cubicles laat le, waar hy salig geslaap het tot die volgende oggend. Een ou het sy stem vermom en vir Chris “Ja” geskree by roll-call die aand. Chris het nooit getraak om vir ons te kom vra wat gebeur het nie. Net kom Omo leen om sy klere te was en paar Disprins vir die koppie. Ek dink nie hy het mooi verstaan hoekom hy oornag ‘n legende in die bungalow geword het nie.
Ma red die voëltjie December 8, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
add a comment
Ma gee altyd vir allerhande goeters om. Soos vir kinders met seer knieë en dogtertjies met seer harte en vriendinne met siektes en sulke goed. Ook vir diere.
Kleintyd wou sy blykbaar vreeslik graag met haar ouboet se groot fiets ry. Die feit dat die fiets hopeloos te groot vir haar was, het haar glad nie getraak nie. Ouboet wou egter nie, en sy dêps toe eendag die fiets terwyl hy nie by die huis is nie. Ry lekker rond, maar sukkel, want nou moet sy haar een been deur die raam van die fiets steek en so ‘half-loaf’ ry. Sy is nie lank genoeg om ordentlik bo-oor die fiets te pas nie. So sy sukkel maar sy ry lekker rond. Enigeiemand wat al so fietsgery het sal weet wat die ding, met al jou gewig eenkant, baie makliker na jou kant toe draai as ander kant toe. As jy wél ander kant toe gedraai kry, draai jy nie maklik terug nie.
Maar ma ry lekker rond. Kom paar draaie teë, maar maak hulle sonder moelikheid. Toe sien sy egter op die sypaadjie ‘n ou klein voëltjie wat se vlerkie seergekry het of iets. Ma se hart laat haar nie toe om verby te ry nie, en sy stop om die voëltjie op te tel. Sy gaan hom huistoe vat en versorg.
Nou is ma terug op die fiets. Voëltjie styf in een hand vasgehou en been deur die raam. Sy kom sy na paar probeerslae weg en ry terug huistoe. So op pad is daar ‘n draai verkeerde kant toe. Ma mik-mik, maar kry nie gebriek nie en maak ook die draai net genoeg om die rantsteen min of meer reghoekig te tref. Dáár trek die fiets en dáár trek ma, maar sy los die voëletjie nie. Toe die stof gaan lê en ma oor die ergste pyn is van maermerries wat bloei en knieë met skrape, kyk sy ook na die voëltjie, of liewer dan toe eks-voëltjie, wat sy heeltyd styf in haar hand vasgehou het. Blyk dat sy toe met die vallery effe stywer as betaamlik vasgehou het en daar druk ma toe die voëltjie laat die tannepasta by sy boude uitkom…
Voëltjie is by Liewe Jesus en ma se hart is baie seer, want sy het maar net probeer help.
Toe nou nog net met die stukkende hart en stukkende knieë die stukkende fiets verduidelik…..
Pa is moedeloos November 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
add a comment
Ek het die grootste agting vir my pa se “engineering expertise” Hy was, vandat ek kan onthou, altyd ‘n groot planmaker. Ek skat dis ‘n kombinasie van arm grootword en sy natuurlike nuuskierigheid, maar hy sou altyd ‘n stukkende ding uitmekaar haal om te verstaan hoe dit werk, by tye tot my ma se verstaanbare moedeloosheid. In meeste gevalle, het hy dit wat stukkend was weer reg gekry, of selfs beter laat werk. Van my beste tye saam met hom was toe ons saam aan die huis aangebou het, waar ons elke dag moes planne maak om goed te laat werk wat ons nie heeltemal verstaan het nie. Van daardie gevalle waar bietjie kennis en moerse klomp entoesiasme beter is as enige expert. Dit was ons beste ‘bonding’ tyd, en ek het groot waardering vir sy onbeteulde nuuskierigheid, entoesiasme en genuine intelligensie gekry.
Die ander dag bel ek my Pa. Hy vertel hy sukkel met sy kar. Ek weet nie presies wat fout was nie, maar hy reken toe: “Ek is nou so moedeloos, ek hardloop myself sommer dood teen ‘n sink-kakhuis.” Toe ek myself van die vloer af optel van die lag, sê ek: Ja, Pa – die probleem is dat ek jou ken, en jy gaan moeg wees lank voordat jy by die kakhuis uitkom. Dan is jy moedeloos EN moeg.
Ek het gedink dis die snaakste ding wat ek in jare gehoor het – hy het nie verstaan waarvoor ek lag nie, want dis maar sy manier van sê. Soos ek hom ken, het hy ernstig so gevoel.
Nou ja, laat ek nie gou so moedeloos word nie, want dis wragtig erg…..
Pa gooi die kar om November 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
add a comment
My Pa is die sterkste ou in die wêreld. Ek het dit baie ernstig geglo en my boetie Lucky ook. Sien, toe ons klein was (ek minder as 5 en Lucky 3 of so) het ons in ‘n straat langs ‘n oop erf gebly. Sommige mense het die oop erf langs ons vir ‘n rommelwerf gebruik en sommer enige gemors daar gaan aflaai. Soms sou my pa in die werf gaan rondkrap as iemand iets interessant daar gaan weggooi het. Hy het baie aan ander mense se karre gewerk en ook hout- en metaalwerk gedoen om die inkomste aan te vul en het gereeld na onderdele of nuttige material gesoek.
Die een dag toe Pa ons weer uit die erf vat om saam te gaan na die erf langsaan, toe het iemand ‘n hele kar daar weggegooi! Wel, dit was eintlik net die kar se ‘body’ en meeste van die meganiese komponente was al weg. Pa kyk hier en kyk daar, gaan haal skroewedraaiers en ander gereedskap en stroop nog paar komponente af. Toe hy nie mooi onder die kar inkom nie, toe vat hy die kar aan die onderkant regs en gooi hom om!!! Ek en my boetie Lucky was stomgeslaan!! Nou, julle moet onthou, dit was die laat 70’s. Ek dink Sam Casey of een van daai amazing dudes het net op TV gekom – die Man van Staal. Nou, Man van Staal was cool en alles, maar toe ek en my boetie sien hoe ons eie pa ook karre omgooi nes Man van Staal, toe kan daai ou maar gaan slaap – Pa was ons hero en ons was vir baie jare na dit nog baie bang vir hom.
My boetie Lucky: episode 5 November 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
1 comment so far
Ons is nou al mooi groot en my boetie Lucky is nogsteeds met sy mannewales besig. Hy het baie rustiger geword, nou met vrou en kind, maar hy kan ons nog steeds lekker laat lag met sy avonture.
Lucky is, na ‘n heelwat kleurvolle loopbaan, nou ‘n polisieman op ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap, naby waar ons grootgeword het. So paar jaar gelede word hy gebel deur die Kooperasie se mense. Hy moet kom help, want iemand se bokke het losgekom en is besig om die Kooperasie se mooi blomtuin op te vreet. Lucky is nie links nie, en hy vat die vangwa na die Kooperasie. Daar gekom, ‘arresteer’ hy elke bok en sluit hulle almal in die vangwa op. Hy vat hulle stasie toe en sluit die bokke in ‘n sel toe. Lucky kry die eienaar van die bokke en laat hom ‘n boete betaal omdat sy bokke so skade maak voordat hy sy bokke kan terugkry. Niks meer sonde met die bokke nie.
Die ander dag, hoor Lucky by ‘n oom op die dorpie dat sy visvangbootjie soek is na die rivier in vloed afgekom het. Lucky kommandeer die stasie se boot en gaan soek in die river af na die boot, wat hy toe later kry en terugroei na die dorp toe. Local hero number 1.
My boetie Lucky – episode 4 Julie 2, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
3 comments
Ons was nog op laerskool toe my niggie een skoolvakansie van Johannesburg af kom kuier. So ‘n rukkie in ‘n skoolvakansie dink ek die ouers raak ook maar moeg vir die kinders wat so knaend is, want daar was nog nie stories van ons by ‘n mall aflaai of iets nie. Kimberley het nou nog nie ‘n oortuigende mall nie, wat nog van in die 1980’s?
So vra ons eendag vir ma of ons kan gaan piekniek hou in die parkie agter die huis. Die vra is meer dat ma die kos sal pak, sien? Ma stem in en die voorbereidings vir die piekniek begin. Dis omtrent net soos padkos vir vakansie – daar is lekker toebies, klein frikkadelletjies, Simba chips en blou eiers – hardgekook in die dop. Verder het ma nie koeldrank nie, maar daar is die bottel Pine-Nut wat Pa van die visvang naweek teruggebring het. (Onthou julle daai vet 1,5 liter glasbottels? en Pine-Nut?) So daar gaan die kinners vort met die piekniekmandjie en die bottel Pine-Nut.
Nou moet ek eers vertel hoe die bottel sy weg teruggevind het van die visvangnaweek af. Pa en sy groot fishing-buddy het die laaste drank wat hulle gehad het, moes saam meng om hulle rugsakke so lig as moontlik te maak om op ‘n sekere punt die rivier te kan oorsteek. Dis toe dat hulle die 3/4 bottel vodka met die laaste Pine-Nut meng om net een bottel in die sak te sit. Toe hulle klaar in die stroom geelvis gevang het en ander wal toe gaan om te rus, toe vind hulle dat die mengsel nou hopeloos te veel vodka vir die Pine-nut in het. Hulle was gesoute drinkers, maar het self nie kans gesien vir die mengsel nie, so hulle het dit maar teruggebring huis toe met die idee om nog Pine-Nut te koop om later by te sit.
DIe kinders kom in die parkie aan en speel eers bietjie. Gooi bal, skiet kettie en jaag die honde deur die parkie. Later is die kinners moeg en maak die kombers oop om op te sit. Die kos word uitgepak en almal smul lekker. Nou is dit die koeldrank se beurt. Pine-Nut is niemand se gunsteling nie, maar dis wat ons het, so ons begin by my (wants ek’s die oudste) en pass die bottel aan. Ek proe onmiddelik dat dié goed niks lekker is nie en vra vir Lucky wat dink hy is verkeerd. Nee, hy weet ook nie, maar dit proe snaaks. Pass aan vir Sussie, dalk weet sy. Nee, weet nie, maar stem saam dit proe snaaks. Pass aan vir niggie – sy weet ook nie, maar stem in die goed proe nie heel soos die Pine-nut wat sy onthou nie. Na lang klomp geproe-ery, besluit ons dat daar drank in die Pine-Nut is, en nou is dit mos ‘n groot avontuur! Net grootmense drink, maar ons is nuuskierig oor dit, so ons gooi.
Ek vat nog paar slukke, maar die meisies sê hulle voel nie so lekker nie en hulle gaan nou huis toe om vir Ma te vertel. Ek strompel ook maar huis toe en los vir Lucky daar in die parkie met die bottel Pine-Nut. Ons gaan vertel vir Pa-hulle daar is iets fout met die Pine-Nut. “Maar waar is Lucky?” vra Ma. “Nee, ons weet nie“. Na lang redekawel en Ma wat vir Pa kwaad word want hy lag sodat hy nie kan staan nie – hy en sy maat het nie kans gesien vir die goed nie en Ma gee dit vir die kinners – hoor ons Lucky huis toe kom.
Ons almal hardloop voorhekkie toe want ons hoor ons boetie aankom. Lucky loop in die middel van die straat. Om hom blaf die honde. Hy sing en skree en raas. Hy is bloedneus geval en die stukkies klippies en grond sit in die skrape in sy gesig vas. Dit pla hom niks – hy traak nie, want hy is happy – hy sing en sleep die leë Pine-Nut bottel in die een hand en die piekniekkombersie in die ander hand huis toe.
So dis waar al die kinners die eerste keer saam gekuier geraak het, met Lucky aan die voortou, en Pa en Ma wat nie kan besluit wie se skuld dit nou eintlik is nie…
My boetie Lucky – episode 3 Julie 2, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
1 comment so far
Die Basics van Bungee – jumping:
Toe ons al mooi opgeskote kinders was, toe hoor ons die eerste keer van Bungee-Jumping. Wat is dit? Nee man, mense maak rekke aan hulle voete vas en dan spring hulle van hoë plekke af. Oooo…
Dis paar weke later en ons het intussen ook uiteindelik op die nuus gesien wat bungee-jumping is en hoe dit werk. Dit was nog lang jare voordat DSTv en ander goed op die TV was. As Riaan Cruywagen dit nie gesê het nie, het dit nie gebeur nie.
Gewapen met hierdie kennis sit ek en boet Lucky toe een Sondagmiddag met nie veel om te doen nie. Hoe presies die gesels daardie middag verloop het, kan ek nie mooi onthou nie, maar die kort weergawe van die storie is dat ons besluit om self te probeer bungee-jump.
Ons het darem die presence of mind gehad om nie onmiddelik te probeer uit die boom spring nie. Ons sou eers die stelsel toets. Om dit te doen, begin ek en my sussie die ‘volunteer’ (Lucky, natuurlik) in die olienhoutboom in die voortuin ophys met ‘n stuk nylontou. Die tou is vas aan die ‘bungee-cord’ (‘n ou fiets binneband) wat om sy enkels vasgemaak is.
Dié plan werk nie so lekker nie want Lucky is swaarder as wat ek en Sus kan ophys, so ons kry hom tot net bo sy skouers opgehys en dan sleep sy kop net bietjie deur die grond onder die boom. Ons kom nie verder nie.
Ons maak hom eers los en maak ‘n ander plan. Ons gaan dit doen soos hulle op die TV maak – hy moet opklim in die boom, homself vasmaak en dan spring. Goed. Lucky klim in die boom, maak homself so goed hy kan vas, en spring. Lucky was nooit ‘n man van veel woorde nie, so hy spring sonder enige krete of goeie wense en heel onseremonieël uit die boom grond toe. Hy val (voorspelbaar) op die grond dat sy gat klap. Intussen swaai hy ook nog rond, en hy word erg vol stof en skrape van die grond en klippers onder die boom. Hy begin eers later skree van seer en losmaak en goed…. Ek en Sus kraak ons natuurlik op hierdie stadium.
Dit sou baie jare later wees voordat ons begin worry het oor die fundamentals soos presies hoe swaar hy is, hoe lank die rek moet wees, hoe hoog hy in die boom moet opklim in die eerste plek en hoeveel dit gaan rek as mens die twee bymekaar bring.
In alle geval – nog nie een van ons kinders het daarna ooit regtig gaan bungee nie – ons het klaar die voorsmaak gehad en dit was nie so lekker nie, dankie. Buitendien, my gat het te veel gebrand toe my pa uitgevind het hoekom my boetie al die pleisters in die huis op sy gesig het. (“Jy is die ouboet – jy moet van beter weet….”)
My boetie Lucky – episode 2 Julie 2, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
1 comment so far
My boet Lucky het eenmaal ‘n baie mooi leerbaadjie gehad. Hy het die ding by my ‘verwerf’ en ek het dit, op my beurt, by my Pa gekry.
Eers myne:
Sien, dit was Pa se motorfiets-baadjie van sy jeugdige voorjare. Hy het eendag kaste en ou trommels reggepak en op die ding afgekom. Vinnige meet het gewys die ding pas laaaank nie meer vir hom nie, maar hy sal net mooi vir my pas. Ek was erg trots op die baadjie en my boet Lucky woes jaloers, want dit sou nog jare wees voor dit hom pas.
Lucky kry die baadjie:
Die jare het inderdaad verbygegaan en ek het die baadjie nie so baie gedra soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Boet Lucky het nooit van die ding vergeet nie en het my gereeld kom pla oor die ding. Hy wou dit so graag hê. Soos wat ons maar was, het ek geweier tot lank nadat die ding nie meer vir my gepas het nie. Eendag kuier ons by my ouers se huis. My beste maatjie en Lucky se maatjie kuier ook daar. Ek kry die gedagte om Lucky te laat “werk” vir die baadjie. As die ding vir hom soveel beteken, sou hy mos alles doen om dit te kry. As ek dit nou nog in bietjie vermaak vir my vriende kan omsit, dan wen almal mos. En ek verloor basies niks, want daai baadjie pas my lank nie meer nie. So, hier is die plan: Lucky moet met sy fiets val – so oortuigend dat ons baie hard lag. Geskat aan die lag van die ‘assembled crowd‘ – ek, my maatjie, sy boetie, en ons sussie, sal ek besluit of hy lekker genoeg geval het om die baadjie te verdien. (klink bietjie soos feeding Christians to the lions of iets, né?)
Lucky vat sy fiets en ry tot bo in die straat. Hy neem die lang aanloop af tot by ons huis, jaag oor die rooi-grond sypaadjie en ruk die fiets se stang. Hy val dat jy net stof, klippe, spoeg en bietjie bloed sien. Ons giggel bietjie, maar dit was nie goed genoeg nie. Hy moet weer gaan. Lucky wil graag die baadjie hê en gaan weer. Hy ry nog vinniger en val weer. Selfde storie, maar nog nie goed genoeg nie. Miskien as hy in een van die bome op die sypaadjie vasry? Ja, sê Lucky, dit sal werk. Hy besluit vir sy eie beswil om hierdie keer ‘n ou motorfiets valhelm wat hy het, aan te sit. Lucky neem weer die aanloop en ry die fiets op helse spoed teen die boom vas. Daar trek net stof en klippe en stukkies boombas. Lucky lê en kreun op die grond. Nee, nog nie goed genoeg nie. Lucky staan op, stel die fiets reg en gaan weer. Teen hierdie tyd het ek seker maar besluit dat hy nie die toewyding het om regtig oortuigend te val nie, so ek besluit om hom te ‘help’. Toe Lucky weer verby kom, gooi ek hom dus met ‘n baksteen teen die kop (hy het mos ‘n helmet op) Dit werk soos ‘n droom! Lucky val dat die stof en klippe tot in die teerpad spat, die fiets se wiel val uit en paar speke breuk. Die boom wat hy op pad grond toe tref, het ‘n baie groot gash in die bas en ons maatjies kraai van die lag!!! Lucky lê vir ‘n hele rukkie stil voordat hy opstaan- die helmet amper nog op sy kop. Uitstekend! Daar wen Lucky die baadjie.
Kom hier, ek soek jou al lank.
Lucky het die baadjie seker so 3 weke gehad voordat een van sy meer shady maatjies die ding gesteel en spoorloos verdwyn het. Seker 4 jaar later sit ek en dieselfde maat van my wat die baadjie wen-episode meegemaak het, by hulle huis en speel. Ons hoor skielik net sy ma skree: “Kom help, kom help, julle swerkaters !!!!” Ons dag iemand rand die tannie aan en storm voortuin toe. Daar vind ons die tannie wat met die tuinslang vir Lucky en ‘n groot ou in die straat staan en natlei (soos wat mens maak om hondjies wat te lief raak vir mekaar, te laat uitskei) Die tannie gil en die vuishoue val tussen die twee in die pad. Hulle rol en stoei en moer mekaar goed. Ek en my maat skei hulle uit en die ander ou hardloop weg. Altwee is sopnat, vuil, vol stof (nou meer soos modder) en bietjie bloedneus.
Ek en my maat vra vir al die ‘eye witnesses‘ wat het gebeur? Die tannie kom met die storie uit: Sy het in die voortuin gestaan en tuin natlei, toe die ander ou in die straat verbygeloop kom. Lucky het hom gewaar en, so met die oor die hekkie spring, geskree: “Hey, jy! Kom hier! Ek soek jou al lank!” Toe val die houe. Lucky sê dis die ou wat sy baadjie gesteel het. Die feit dat die ander ou ‘n goeie kop en ‘n half groter as Lucky is, maak glad nie saak nie.
Ou Lucky sou daardie baadjie met sy lewe beskerm het. Hy het immers hard gewerk daarvoor en het vandag nog die scars om dit te bewys. Ons spot vandag nog met ou Lucky se uitroep: “Hey, jy! Kom hier! Ek soek jou al lank!” Dit beteken min of meer dat ek ‘n appeltjie met jou te skil het.
Zibi dra vellies Julie 1, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
2 comments
Sommige van julle sal onthou dat daar jaaaaaaaare terug ‘n volstruis was wat ge-adverteer het dat mens asseblief nie moet mors nie. Sy naam was Zibi en sy slogan was “Zirts hom in die Zibi blik…” of “Zap it in a Zibi Can”, op die rooitaal.
Om die baie lang storie kort te knip, my se Pa is op ‘n langnaweek weg na ‘n visvang kompetisie by ‘n groot dam iewers. Dit gaan blykbaar lekker, maar hy neem om een of ander rede nie deel aan die kompetisie vir die hele naweek nie. Iets soos die uitdunne nie gemaak nie of so iets. In alle geval, hy kyk toe nou maar dat sy spanlede wat wel nog in die kompetisie is, se eet- en drinkgoed vol bly en doen ander takies rondom die kamp.
Dit is toe Pa een uur so op sy eie sit en dink oor goete dat een van die Zibi-span se mense hierdie vriendelike oom alleen by die kamp sien en kom vra of die oom hulle nie dalk wil help vir die dag nie? Hoe help? vra Pa. Man, ons soek ‘n Zibi vir die dag, sê-vra die Zibi rep vir Pa. OK, sê Pa. Nie te lank daarna nie, het hulle vir Pa in die Zibi costume. Hy verduidelik die vere-gedoente is baie warm in die son, en die kop-gedeelte is van veselgas gemaak en nogal swaar – mens is mos nie gewoond so klomp nek hier bo-op jou kop nie. Verder het hulle nie vir hom skoene wat soos volstruis-voete lyk nie. Hy sal sommer so met sy vellies loop.
Alles was klaar, en Pa – skuus, Zibi – loop oor na daar waar die tannies en kinners kuier op die grasperk by die swembad of iets. Net so naby gekom, toe storm daar ‘n klein laaitie van seker so 4 en sy sussie van so 6 op Zibi af “Zibi, Zibi, Zibi, Zibi!!!!!!!!!. Dis toe Pa half instinktief afbuk na die laaitie toe, dat Zibi se kop half swaar raak, en daar pik Zibi die outjie ‘n helse harde hou reg op die kop. WWWWHHHHAAAAAA!!! begin die outjie skree en hy hol weg van die wrede Zibi af.
Pa weet nie regtig wat om te doen nie, want hy voel half sleg. Dis nie net dat jy ‘n kind per ongeluk seergemaak het nie, jy is persoonlik verantwoordelik vir die krenk van ‘n nasionale simbool… Hy staan nog so in die warm kostuum en tob oor die volgende plan, toe die dogtertjie tot sy redding kom.
Die kleinding het haar boetie gaan haal waar hy ookal weggekruip het, en sleep hom nou aan die arm en teen sy wil nader aan Zibi terwyl sy hom probeer oortuig: “Is man, kyk, dis nie Zibi nie. Hy het vellies aan…..” Toe lag Zibi anyway so dat daar niks verder aan die illusie te redde was nie.
Ou Zibi, jou geheim is veilig by ons….
H