jump to navigation

Losieshuisverhale 3: Rotte maak dit amper glad nie Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
1 comment so far

Andy, die ou met wie ek die losieshuiskamer gedeel het, het ‘n groot wit rot gehad wat saam met ons in die kamer gebly het. Die ding het ook eintlik net nominaal in die kamer gebly, want hy was deur die dag glad nêrens te sien nie. Waar hy sy toilet-dinge gedoen het, weet geen mens nie, maar dit was beslis nêrens in die kamer nie. So, dit was maklik om met die rot huis te hou. Hy het in die aande, as ons retire, sommer net iewers skielik verskyn, die aand saam met ons gekuier en in die oggend was hy weer weg. Die rot het nooit ‘n naam gehad nie – dit was net ‘die rot’.

Met dié laat ons so begin wyn drink het saans, was dit half logies dat die rot ook moes saamdrink. Ons het vir hom ‘n Coke-bottel proppie vol gegooi in die aande en dan drink hy saam met ons wyn. Lekker. Hy het meeste aande paar mannewales uitgehaal, maar een aand het jy op die vloer tussen ek en Andy se beddens aan die slaap geraak. Die ou was seker moeg. Toe Anél inkom om nag te sê of seker om vir ons te sê om stiller te wees, toe trap sy op die rot. Ons was baie bekommerd oor ons groot vriend se welstand, maar die ou het dit met mannemoed gevat. Hy was so twee aande weg en ons was regitg bekommerd laat hy iewers loop vrek het, maar die derde aand was hy maar weer daar.

Ek wonder wat van Andy se losieshuis-rot geword het? Andy het voor my uit die losieshuis getrek, en sover ek weet het die rot nie saam getrek nie. Die rot was egter toé al weg.

Losieshuisverhale 2: Vrinne maak dit beter Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

Ek het eers in die losieshuis saam met iemand ‘n kamer gedeel. Dit het, om die minste daarvan te sê, glad nie lekker gewerk nie. Toe betaal ek die tannie meer en bly vir ‘n rukkie op my eie. Toé knyp die geldjie weer en ek trek saam met iemand anders in. Wat ‘n groot verskil kan een persoonlikheid maak! In ou Andy het ek nou opsluit ‘n boesemvriend gevind. Ons het klomp goed saam gedoen. Altwee is heeltemal kar en bike bedonnerd. Altwee kyk girls, druk girls en compare notes agterna, altwee eet lekker en altwee lees graag. Ons altwee kan met goeie herinneringe oor ons armydae praat. Altwee is heeltemal bereid om belt vaster te trek as die geld nie die maand loop nie en ons deel stuff.

Andy het ‘n baie lekker kar gehad. Ons het sommige weke geld gehou om naweke plekke heen te ry en goed te verken – soos lugskoue en ander plekke waar onnodige hoeveelhede petrol in die jag na spoed verbrand word. Eenkeer Kimberley toe om by my ma-hulle te kuier vir die dag – sommer net en omdat ons geld vir petrol min was, het ons stadig gery – Kimberley toe teen 90km/ur. Die halftenk vat ons soontoe en terug.
Die ander keer het ons met die Kotskoets op die berg wyn gesit en drink en toe ons terugkom was die wiel pap. Die kar se spaarwiel was gesteel so ons moes die wiel afhaal, indra dorp toe, laat regmaak, en terugdra teen die koppie uit na die kar toe, aansit en weer terugry. Ons was pootuit en het baie laat daai nag by die huis gekom.

As mens onder sulke onstandighede saamleef, dan ontwikkel jy sommige klein rituele. In die aande, as almal anders wat nog leer gaan swot of uitgaan, dan is ek en Andy na ons kamer toe. Andy pak sy ekstra aandete (wat Anél vir hom gedeps het by die tannie) uit en eet eers klaar. In die eerste week van die maand, stap ons dan winkel op die hoek toe en koop vir ons elkeen ‘n liter Coke. Dis ons bederf vir die aand. Elke aand rustig sit en Coke drink en gesels lang sinne oor hoe cool ons eendag gaan lewe – baie soos die army, mind you… Die tweede week van die maand deel ons die Coke, want nou sit ons geld bymekeer om die Coke te bekostig. In die derde week koop ons elkeen “koei-Coke”. (Melk wat jy per liter uit die tenk koop en sommer in die Coke-bottel gooi.) In week vier deel ons die liter melk ook – volgende week is weer pay-kry se tyd.

Dit het lank so aangegaan tot ek die een maand die bright idée kry dat, vir die prys van paar bottels Coke, kan ek vir ons ‘n lekker cheap boks wyn koop. Ek dink dit was daai tyd iets soos R 29,99 by Checkers vir 5 liter. Nou sit ons die kan wyn in die hangkas en dan tap ons sulke klein glasies elke aand uit. Dit het lekker gewerk. Andy se rot het ook sommer sy deel wyn gekry.

As jy in die losieshuis bly, is jy natuurlik basies altyd honger – dis half jou base state. Jy is of minder honger of meer honger, maar heeltyd honger. (ook nogal soos in die army) Ek en Andy was die meesters van eet specials op die dorp. Dinsdae aande is eat-as-much-as-you like special by Pizza Perfect of iets. Woensdae is two-for-one chicken burgers by Barcelos, en so aan. Elke uittog was ‘n groot avontuur, want daar was altyd nog ouens van die losieshuis wat ook wil saam. Soos die aand toeons in die ou agter ons vasreverse het – met my kar hierdie keer – omdat die 4 girl in die agterseat kastig ‘army-outjies’ gesien het en ons vir hulle moes gaan soek.

So maak mens soms heeltemal per ongeluk lekker pêlle. Ek onthou nie eers meer die helfte van die goed wat ons nog gedoen het nie, maar daardie tye was van die min highlights in die losieshuis.

Losieshuisverhale 1: Só spaar mens Mei 21, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

So paar jaar in my werkende lewe in (ek dink dis heeltemal te romanties om dit as ‘n loopbaan te bestempel) besluit ek dat dit wat ek nóu doen, ek nie vir nog baie langer wil doen nie. Ek kry ambisie. Dammit – klink na werk. In alle geval, ek doen aansoeke, voer onderhoude, maak groot besluite en vul vorms in dat dit bars. Nie volle 5 maande later nie, het ek ‘n universiteit, toelating, voorlopige vrystelling op grond van ouderdom (ek het dalk al genoem dat ek in my skooljare beter goed gehad het om te doen) en ‘n beurs en sommer werk in die naaste dorp waar ek al hierdie dinge gelyk kan doen. Daar is nie geld vir net swot nie, so ek moet werk, maar ek wil nie vêr van die oulike meisie wat ek ontmoet het, bly nie – ons gaan dit laat werk, ek is mos immers Sup(H)erman.

Nou moet ek nog net blyplek kry, dan is ek gewax. So trek ek Klerksdorp toe. Pa ken mense van sy werksdae daar, en hulle beveel ‘n losieshuis by ‘n tannie aan. Ek sal haar naam en die straat nie noem nie, want ek is redelik seker sy het nog die plek.

Ek ry Klerksdorp toe, ontmoet die tannie, betaal deposito’s en reël vername dinge. Nou is ek gewax. Pak my Kotskoetsie op die gegewe dag na lang, tranerige afskeid van die meisie en ry soontoe. Nou vir insettle. Daar is ander kinders ook in die losieshuis – 9 om presies te wees, behalwe die tannie se eie kinders en nog twee in die karavaan op die agter grasperk. Lekker – maters. Ek deel ‘n kamer met ‘n ander ou. Ek het getrek met alles wat vir my kosbaar was. My kamera, my Hi-fi en paar stukkies klere. Daar is plek vir alles in die losieshuiskamer. Gou leer ek dis nie so ‘n goeie plan nie. Na ‘n week een is die helfte van my CD’s weg, die ander klomp beskadig, my Hi-fi het ‘n ‘ongelukkie’ gehad en die kamera is, ter wille van oorlewing, vir alle praktiese doeleindes buite bereik verpak.

Al hierdie dinge vat ek half in my stride – ek het in die army geleer om met moeilike mense saam te leef. Wat my egter van meet af ondergekry het, was die eindes waartoe die tannie sou gaan om geld te spaar en só meer uit die losiesgeld te kry. ‘n Paar voorbeelde sal dit goed illustreer:
•    Daar is ‘n streng tyd-limiet aan jou stort-tyd in die oggend. 5 minute max – ons is klomp Christen-mense onder een dak en hier is net een geyser. Dis nog fine – ek het in die army ook kort gestort.
•    Die menu is nie so sterk uigebrei soos ek in ma se huis geëet het nie. Lewerkoekies, wat ek nou nog haat, is daagliks op die spyskaart en as ek patats nooit weer sien nie, is dit te gou.
•    Die tannie sit spykers in die gras want die kinders ry oor haar grasperk. Ook net eenkeer gedoen.
•    Die ander kinders steel gereeld my kar vir joyrides. (Die Kotskoets het maklik met ‘n teelepel gestart as jy nie die sleutel kon kry nie) Toegegee – nie die tannie se skuld nie.
•    Die tannie meng die margarine met kookolie om dit meer te maak. (kookolie was nog goedkoop daardie tyd) Dit smeer ook makliker, en die smaak bly in jou mond tot lank na lunchtyd, wanneer jy by die hoekkafee ‘n stuk olierige vis koop om die smaak weg te dryf.
•    Daar is gate in die teelepeles geboor sodat jy nie te veel suiker vat nie.

Ek het nie lank lekker daar gebly nie – ek het nou nog ‘n groot weerwil aan so blatant probeer goedkoper lewe en dit op ander mense uithaal. Ek relish nou nog elke lekker kos-ietsie wat ek eet, in pure celebration van my vryheid en (tot hede, touch wood) afskeid van losieshuislewe.

Why you should study history Januarie 12, 2009

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
add a comment

It took me a long time to learn to appreciate history for what is was. History is the story of what ordinary people like you and me did in extraordinary circumstances. Their responses, considering their circumstances, are almost always reasonable or at least understandable.  

The popular counterargument to the study of history is usually that: ‘the problems of the present cannot be solved by the same thinking that created them...” This implies, of course, that the study of history is a useless waste of time insofar as it’s application to present conditions are concerned.  

On the contrary, however, and taking recent world events as a barometer, I reckon the study of history becomes ever more important. Why? Well, history is the study of people, and people remain forever just people – (a) they make the same mistakes over and over and (b) they also react the same way when problems arise.

This then, is the value of history. The future holds very little surprises insofar as human response to great triumph or great adversity is concerned.

Stoepstories: Hoe om ‘n ‘wendyhouse’ te skuif. December 15, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
6 comments

Ek het baie jare gelede besluit ek wil eendag in Pretoria bly. Dis sommer net omdat my neef dit laat lekker lyk het. Teen die tyd dat ek van die platteland af Centurion toe getrek het, was dit kwalik nog die Pretoria wat ek die eerste paar keer gesien het, maar hier was baie vriende en ek bly sommer gou baie lekker.

Ook sommer vinnig soek ek huis. Werk vir die Staat daardie tyd, so die pryse lyk baie hoog, maar ek knyp oge toe en koop. Koop ‘n bitter klein gehuggie vir ‘n plaas se prys, voel ek. Bly sommer gou lekker daar. Volgende op die agenda is vrou soek en nie te lank nie, of daar is toe die een spesiale persoon wat sommer oorbly/inkruip en nooit weer weggaan nie. Nou maak ek en aspirant-mamma huis en tuin. Speel lekker huis-huis.

My ou huisie is bitter klein, (89vkm) maar ek het ‘n redelike tuintjie en een van die min townhouses in Centurion waar jy ‘n hek het en met jou kar (en ‘n paar ander ) in jou erf kan inry. Die tuin is pragtig en ons bly lekker, maar in my hart verlang ek nog steeds na die plaas wat ek nooit sal hê nie. Oplossing? Ek gaan koop vir my ‘n tuinbankie sodat ek en mamma soggens ons koffie en beskuit op die stoep wat nie bestaan nie, kan nuttig en die dag in oënskou neem. Die EEN stukkie troos in hierdie treurmare is dat ek ‘n pragtige doringboom op my plasie het – net eenvoudig die beste ding van die hele huis en tuin. Ek is mal oor doringbome.

Dis toe ek eendag só sit en uitstaar or my gronde (wel, die 2 meter tot by die silex-heining) dat ek besef maar dié wendy-huis, wat half standaard is vir townhouses met geen stoorplek nie, staan in die beste koelte op my plaas – onder die doringboom. Sommer opsluit maak ek ‘n plan om die wendy te skuif en gras te plant sodat ek self onder my doringboom kan kuier. Mamma stem saam dis ‘n plan en ons bereken hoe dit gaan werk. Ons kry ander plek vir die wendy en ek ry dieselfde naweek nog ‘railway sleepers’ met my kar aan – hulle hang sommer so halfloaf uit die ‘boot’ uit. Nie poefie sleepers nie – B-graad goed – ek soek nie vrottes wat net gaan inmekaarsak nie, maar ek wil ook nou nie planke saag vir ‘n kroeg nie. Nou om die wendy te skuif, en dis hier waar die storie sy draai maak. Sien, ek reken toe ek sal sommer die wendy (‘n kleintjie) met die pik lig aan sy een hoek, dan die ander hoek, en dan drie teerpale kry en die ding rol na sy nuwe staanplek soos op die manier wat Discovery Channel reken die Egiptenare het die piramides gebou.  Jy sit net elke skoot die paal wat nou net agter uitgerol het weer voorin, en daar gaat jy – kan nie moeilik wees nie.

Net daar steek mamma viervoet vas. Néé, kry professionele mense om dit te doen. Jy gaan die wendy breek. Nou hoekom sal ek my eie wendy breek? Toe sy sien hierdie argument wen geen veld nie, toe kom my gesondheid by die agterdeur langs by die gesprek aan – jy gaan jou rug seermaak. Hulle het allerhande toerusting en goeters and gaan dit sommer maklik doen. Ek wil nie – ek weeg nou die R 90 se drie teerpale op teen klomp geld wat iemand my gaan vra vir iets wat ek self kan doen. Die stryery hou so 2 dae aan. Uiteindelik gee ek kop en ek begin rondbel. Daar is paar ouens wat die ding kan skuif, maar net een ou wat reken hy kan dit sommer die volgende oggend doen. Hy vra R 800. Ek knyp my ogies weer baie styf toe en sê: “Ja, kom maar” So met die praat saam vra ek hom of hy sy toerusting in my erf sal inkry en die wendy gelig kry sonder om my boom te beskadig? “Nee, Meneer. Dit sal nie ‘n probleem wees nie.

Die volgende more is ek en mamma vroeg op – haal die laaste paar goedjies uit die wendy en maak koffie. Ons sit op die half-stoepie op my tuinbankie en gesels oor hoe lekker dit gaan wees as die wendy weg is onder my boom en hoe ek hoop hulle nie my boom gaan seermaak nie. Ons praat ook oor watter soort masjien hulle gaan aanbring om die wendy te skuif en hoe dit werk.

Praat nog so, toe stop die ou daar met so klein Bantam bakkie. Hy en een ander knaap – altwee sulke maeres. My moed sak in my skoene – hulle masjien het gebreek en hy kom my net vertel hy gaan dit eers na Krismis doen. “En nou?” sê-vra ek. Nee, hulle kom die wendy skuif. OK, sê ek – hulle is duidelik sterker as wat hulle lyk. Dis daai tyd toe die kleiner knaap die drie teerpale agter van die bakkie afhaal, laat mamma besef nou moet sy hier keer, want toe bokspring ek van pure verontwaardigdheid. Die lae donner !!! Dit was ook seker nie sy skuld nie – hoe moes hy nou weet daar is klaar ‘n kleintjie dood aan wendy’s beskadig en teerpale rondrol op hierdie plaas? Daar pak die twee van hulle die wendy. Lig die een hoek mooitjies op, soos wat ek laaaankal in my geestesoog gedoen het. Sit die eerste paal in – toe die ander drie hoeke en die tweede paal, toe die derde paal, en dáár gaat hulle… Die wendy kreun en kraak en ek staan en spoeg en vloek in die kombuis en mamma kyk liewers anderpad. Hulle spook so kwartier en toe’s hulle klaar. “Dit sal R 800 wees, dankie Meneer.”

Ja, dankie vir jou ook, Hokvark. En ‘n ekstra spesiale dankie Mamma vir die rug uitspaar en die geld wegblaas. Ons het seker vir twee dae nie gepraat nie oor die wendy-ding voor daar weer vrede oor die plaas gekom het.

So, as jy ooit die nood kry om ‘n wendy te skuif, kry drie teerpale en doen die ding en kry klaar – vat dan R 700 en koop vir jou etlike kaste bier en sit in die koelte en hou partytjie vir al die geld wat jy vir ‘n goeie saak geblaas het. Jy kan vir almal vertel jy het hierdie fantastiese raad op die internet nagevors…..Séla.

Hemmingway se Ducati en avokado vir brêkvis Oktober 24, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
add a comment

My vrou het met die ding begin toe ek Sondag lus kry vir avokado. Ek is nooit lus vir avo nie – ek hou nie van avo nie – nooit nie. Toe ek nou Sondag wakker word met ‘n lus vir avo en vir haar beskryf hoe ek my oggend sien ontvou: .. so met brekvis van bacon en avo op open toasted ciabatta en baie koffie op ‘n stoep iewers waar mense verbyloop en ek die stad kan sien wakker word…. Toe sê sy: “Ja, Hemmingway…”

So, dit het my laat dink aan die een Ernest Hemmingway storie wat ek wel ken. Die storie gaan min of meer oor hierdie ryk vrou en haar man wat kom jag in Afrika (ek dink net ‘n paar van Hemmingway se stories begin so – sekerlik nie meer as 98% nie) Die vrou raak heel gek oor die jagter wat hulle die bos invat nadat hy ‘n leeu skiet wat op haar man afstorm of so iets. In alle geval, sy ‘vat’ toe die nag die jag-oom soos in die voorjare en haar man is baie kwaad. Die volgende dag gebeur iets soortgelyk, maar haar man staan sy, wel, man en hy skiet die buffel wat hom storm. (Hy voel toe nou natuurlik naby selfmoord want sy vrou is so los soos ‘n tuinhekkie en, en, en…) Later die dag sien sy toe nou die veranderign in haar man. Hy het self geen meer vrees gehad nie, want die ’near-death experience’ het hom losgemaak van sy vrese. Toe sy besef dat sy geen meer houvas op hom sal hê nie, toe skiet sy hom dood terwyl hy nie kyk nie.  

Dit alles is ‘n lang manier om by die storie uit te kom. Vir my is die kruks van die saak oor die vrees oorkom en ook, meer belangrik, dat ons baiekeer bang is vir goed wat eintlik glad nie so erg is nie. Of mens later net gewoond raak aan die vrees en dit maar ignoreer en of jy dit werklik oorkom en vrede maak daarmee, is ‘n ope vraag.

Ek wonder net soms as ek so op my motorfietsie werk toe ry of Hemmingway dieselfde storie sou kon skryf oor ‘n bang ou wat al paar keer deur karre en trokke in die verkeer getref is, maar aanhou motorfiets ry…..van vrese oorkom en dinge.

Armystories 2: Stil en rustig…. Oktober 24, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
add a comment

Jy sien, die ding met die army is dat jy eers jou identiteit moet afdoen voordat jy lekker saam met die ander maatjies kan dril en rondhardloop en orders ontvang. As jy dit nie kan doen nie, gaan jy heeltyd wonner oor: “Hoekom moet ek dit doen?” en “Wie de hel is jy? - doen dit self” – en sulke ouens sterf gewoonlik sommer vroeg as daar oorlog is – of so wil hulle vir jou vertel. In nabetragting en na jare se brannewyn, voel ek so oor oorlog: “Those who run today, live to run another day” – daar is geen glorie in oorlog nie, of in doodgaan vir ideologieë waarmee jy jou nie self kan vereenselwig nie. But I digress…

Ek was in die Army en het geleer om ‘n gunner te word – skiet met groot goeters. Lekker. Deel van die partytjie is egter ook dat ons moet leer van ‘onluste beheer’ Dis immers die vroeg 1990′s en die ‘vyand’ is lankal oor die grense en bly op ons voorstoepe. So is een van die meganismes om jou van jou identiteit te distansieer, om jou ‘n nommer te gee en nooit jou naam te gebruik nie. Almal leer mekaar maar so op die van ken. Engels en Afrikaans is deurmekaar en selfs die rou ‘souties’ leer later Afrikaans praat.

Dis maande later en ons is ontplooi in Wembezi, ‘n klein maar hoogs aktiewe ‘settlement’ net buite Estcourt in Natal. Ons het kamp opgeslaan buite die dorpie maar ons beheerkamer is reg binne die polise se kamp binne die dorpie. Van daar kan ons vinnig saam met die polisie reageer en ook met die ouens by die ‘huis’ in Potch praat oor ons groot radio.

Dit gebeur toe nou eendag so dat Earl (dis sy van – ons het nooit mekaar se name gehoor nie) die radio beman in die beheerkamer. Earl is Engels, maar hy het al paar Afrikaanse terme deur die laaste maande in Potch opgetel, waar selfs Marsmanne later Afrikaans sal moet leer praat. Terwyl mens op patrollie ry, moet jy elke 15 minute berig skryf oor wat aangaan. As daar niks aangaan nie, skryf jy “Alles is stil en rustig…”  Earl moes dit iewers gehoor het by sy makkers op patrollie.

Dié betrokke middag was daar fout met die bus-skedule en die Inkhata en ANC-busse kom toe nou  terselfdertyd by die busstop op die polisiestasie se hoek aan. Nou, daar is goeie rede om in 1992 (net voor die bully-beef verkiesing) die busse (a) nie terselfdertyd te laat opdaag nie en (b) by die polisiestasie te laat stop.  Die rede is dat (c) die mense sommer maklik handgemeen sou raak om hulle politiese oortuigings by die ander spanne tuis te bring.

Toe die busse nou hierdie betrokke middag gelyk by die ‘copshop’ stop, toe het daar sommer kortliks ’n redelik impressive gunfight op die hoek uitgebreek. Dis toe dat Samajoor Kuifie net toevallig uit Potchefstroom bel om te hoor hoe dit gaan en Earl antwoord die radio heel paraat. Die kort gesprek het min of meer so verloop:

Samajoor Kuifie: (radioformaliteite) (Earl antwoord soos ons geleer is. )

Samajoor Kuifie: Earl!, jou rakker, hoe gaan dit?

Earl: Samajoor! Alles is stil and rustig – the bullets are flying heen-en-weer..

Chaos bars los en paar koeëls tref die tent waarin Earl se radio staan. Die gesprek is onderbreuk en Ealr moes later met Sam. Kuifie praat.

Ons het vir jare later nog gespot met “Stil and rustig – the bullets are flying heen-en-weer.”

Ek onthou maar altyd dat dit maar in jou persoonlike lewe en op ander vlakke ook partydae so kan gaan. Alles is nog ‘stil and rustig’ while ‘the bullets are flying heen-en-weer…..’

Blikke sonner skille… Julie 7, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
2 comments

Sien, my Pa was vir lang jare ‘n eiseondersoeker by die Spoorweg gewees (later Transnet, Spoornet, Net-Net, julle ken die grappies) ‘n Eiseondersoeker se werk is om te gaan kyk wat die skade is as daar iets fout gaan op die trein en dan al die papierwerk doen om die regstellings daarna te maak. Byvoorbeeld, in die dae van stoomlokomotiewe, was baie van die eise van boere wie se velde afgebrand het van kooltjies wat uit die trein gekom het. Dan het die eiseondersoeker die boer se eis gaan ondersoek, afgemeet presies hoeveel veld van wat is afgebrand (weiland, koring, wat ookal), en ‘n aanbeveling gemaak oor wat die Spoorweg die boer moes uitbetaal. Waar die trein in ‘n ongeluk betrokke was en die vrag beskadig is, moes die eiseondersoekers ook gaan verslag doen, die beskadigde goedere in stoor neem en die sender uitbetaal vir die verlies.  Wanneer so ‘n eis uitbetaal is, word die beskadigde goedere die Spoorweg se eiendom om oor te beskik soos wat dit goeddink.

So het dit gebeur dat Pa, as eiseondersoeker, telkens die ‘inside track‘ gehad het op goed wat na die stoor gegaan het en wat moontlik handig kan wees vir ‘n familie wat op ‘n staatsamptenaar se salaris oor die weg kom.

Die een keer het hy kuikens gekoop teen 5 sent een. Dié goed was veronderstel om na Ouma op die plaas te gaan en hoenders te word sodat ons hulle kan eet. Pa koop omtrent R5 s’n. Pa kom met ons hele stasiewa vol kuikens by die huis aan en almal raas en almal is NOU honger en meeste loop en skyt so vêr soos hulle gaan. Kan nie onthou wat was erger nie – die gemors of die lawaai.

Die ander keer kry Pa geleentheid om blikkies kos wat in ‘n vragwa was wat omgeval het, te koop. Die goed was saam met ‘n vrag kookolie gelaai, so al die etikette het afgegaan van die olie – die oorspronklike no-name brand! Pa kan die naamlose, geduikte blikkies kry vir 1 sent een, en hy reken toe hy vat so R 3 s’n. Weer kom die stasiewa swaar gelaai by die huis aan een middag laat. Pa gloei trots en die kinners moet kom help aflaai. Daar was blikke orals, in die kaste, op die kaste, langs die kaste, onder die beddens, in die garage is net blikke en niemand weet wat is in watter blik nie – dis Lucky Draw elke keer.

Toe ons by die huis nou later uitgeëet raak aan al die blikkieskos (ek dink dis toe Ma geblikte ertjies in ons ontbyt probeer wegsteek het, dat Pa sela geroep het) toe word die goed tot die visvang-trommel bestel. Ons het kinderjare baie naweke saam met my Pa gaan visvang (ek en Lucky) en ons het Pa se kookvernuf by die water baie geniet. Pa maak die beste kos by die water of op kamp. So is meeste blikkies toe nou vistrommel toe. Elke keer voor ons gaan visvang, dan vat ons net paar blikkies uit die ‘stash‘ uit vir die naweek. Om die risiko van alles dieselfde soorte blikkieskos te probeer verminder, moes ons blikkies uit verskillende oorde van die huis loop haal. Om dubbeld seker te maak en as ons eers by die viswaters is, kon ek, Lucky en Pa gewoonlik elkeen een blik kies. Pa het dan die 3 blikke op maniere wat net hy weet, in die beste aandetes omskep. Dit was een betrokke aand op die oewer van die Vaalrivier waar ek en Lucky en Pa, na nog ‘n lang dag op die water en doodmoeg, ons beste lewer en elkeen toe ‘n blik ertjies trek…. Wonderlike aandete van ertjies met ertjies en bietjie ertjies langs die kant en vir nagereg, nog ‘n helping ertjies. 

Ek dink dit alles is dalk deel van die rede waarom geblikte ertjies vandag nog nie my favourite is nie….

Desnieteenstaande die ertjie-episode, was daardie aande en naweke by die viswater altyd die beste tye saam met my Pa en boetie. Ons maak vandag nog moeite om saam vis te vang as die geleentheid hom voordoen, hoewel ons probeer om net blikke met etikette op te vat en nooit weer ertjies koop nie.

Armystories 1; Koudkry Julie 1, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
1 comment so far

DIe twee kere wat ek regtig koud gekry het in my lewe, was albei toe ek in die army was. 

Die eerste keer: Potch se Bloubos. Ek was ‘n gunner – ‘n kanondonkie, soos my pa sal sê. Ons het lekker groot ‘gunne’ van die army geskiet. Die artillerie brigade buite Potchefstroom is tussen Potch en Ventersdorp. Agter die Artillerie Brigade is daar ‘n groot skietbaan (net Lohatlha is groter) waar mens met hierdie kanonne kan oefen. Dis winter in Potchefstroom en ek is in die army – daar is nie huis toe gaan na ma-hulle se huis met die lekker kaggel van kleintyd nie. Saam met ons ry tegniese outjies – hulle dra sulke groot rekenaars by hulle op die heup waarmee hulle allerhande slim somme maak laat ons die bomme raakskiet. Hierdie outjies het ook so ‘n kar waarin daar instrumente is, waaronder twee; die natbol- en droëbol termometers is. (Hoop julle onthou aardrykskunde)

Ons is in die bos en skiet gedurende die dag alles deurmekaar. Dis Augustus in Potchefstroom. Dit raak al kouer soos die maand se bosopleiding aangaan. Die standaard prosedure is dat ons tussen die lae van ‘n camo-net op die grond slaap. Die camo-net is groot en swaar, so 4 van die 5 spanlede kruip solank in, en die 5de ou moet die klomp toegooi. Jy kan nie beweeg as jy eers toe is onder die net nie. Jy trek jouself eers aan: thermal ‘longjohns’ wat ma gestuur het, frokkie, t-hemp, kouse, nog kouse, hemp, broek, bosbaadjie, jas, handskoene, boots. Slaapsak ‘inner’ en dan slaapsak, alles bo-op die een helfte van die camo-net. Die res vou maatjie netnou oor jou. In die oggend rapporteer die tegniese spannetjie dat die droëbol temperatuur in die nag by  -7 grade gedraai het en die natbol by -22 grade !! Dis baie koud. Net ouens wat dit deur is sal weet hoe koud ‘n “scooter’ se seat in die oggend is, nog voordat jy moet gasvlam hou onder die Samil om die watertenk te ontvries vir skeerwater. 

Die ander keer is ek opgeroep vir ‘n kamp in Grahamstad. Kamp was lekker, maar liefie by die huis klink lekkerder. Ons is drie ouens wat besluit om eerder te ryloop as om vir die trein (waarvoor ons kaartjies het) te wag. Ons begin heel suksesvol en kry ‘n geleentheid saam met een ou tot by die Paarl. (Die vlug van Grahamstad het ons tot in Kaapstad gevat.) Van daar tot in Beaufort-Wes agterop ‘n trok, maar dit maak nie saak nie – die huis (en liefie) kom nader. Op Beaufort, is dit nog ek en een ou – die ander het intussen ander pad moes vat. Ons wil altwee noord op die N12 Kimberley se kant toe, hy na Hanover en ek na Kimberley self. Al die vragmotors wat stop, gaan egter Bloemfontein toe en kan ons nie oplaai nie. Ons staan tot 8-uur die aand voordat ons besluit om op die Bloem-pad te gaan en van daar Kimberley toe te gaan.

Die volgende vragmotor stop en ons klim in. Stel onsself voor en dit gebeur toe so dat ons al drie dieselfde voornaam het – ek, my reisgenoot, en die drywer! (mens noem mekaar in die army mos maar op die van, so ek het nie eers geweet my reisgenoot, met wie ek sopas vir ‘n maand op kamp was, het dieselfde naam as ek gehad nie) Die drywer van die vragmotor het die oggend uit Johannesburg vertrek Worscester toe om druiwe te gaan haal. Die goed moet die heeltyd by 3 grade celcius gehou word om nie te vries nie, want dan bars dit. Hy het die oggend uit Johannesburg gery, die druiwe gelaai in Worcester, en dit was 8-uur die aand toe hy ons oplaai in Beaufort op sy pad terug. Naby Hanover laai ons die ander outjie af en nou is dit net ek en die drywer.

By Colesberg kan die drywer nie meer nie – die ou is erg vaak en moeg. Ons stop om te rus. Die vragmotor het so ‘n ‘sleeper-cab’ en die drywer bied een van die nou bedjies (daar is twee – bomekaar) aan. Ek gaan lê, maar daar is nie komberse of enigiets nie. Die vragmotor moet ons afsit om diesel te spaar en die drywer gaan nie sy kombersie opoffer vir ‘n army-outjie nie. Twee goed onthou ek van daardie aand: (1) Ek het moer koud gekry – die outomatiese koeltrok wat ons gesleep het, moes heelnag loop om die druiwe WARM te hou, en (2) die ander is dat die polisie ons 3-uur die oggend uit die vragmotor kom pluk het om die vragmotor te ondersoek, want daar het blykbaar ‘n plaaslike meisie weggeraak in die vroë oggendure en mense het gesê sy is “na die trokke se kant toe”.

Daai aand in die trok is die koudste wat ek in my lewe gekry het, maar was nie halfpad so koud soos die koue wat om my hart kom sit het toe ek een dag vroeër as beplan in Kimberley aankom en vir Liefie in ‘n ander man se arms vang nie.     

Ways in which owning a Land-Rover is like courting a glamourous, beautiful woman Junie 25, 2008

Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.
Tags:
2 comments
For all my Landy-Loving mates, though I think there might be such a list already out there….
  • She will fail to keep appointments with you, yet somehow you will keep trying
  • She will leave you in the lurch often, and somehow you will think this is part of her charm
  • She will drag you through the dirt, and somehow you will think this is fun
  • Money-wise, she is very expensive to keep happy.
  • Your friends will see right through her, and tell you to move on, but you will maintain that you know her better, and her heart is with you.
  • You will spend lot of time and money on her, yet somehow end up not ‘enjoying her company’ as much as you would like 
  • When she ages, she will develop creaks, groans, moans and squeals, and somehow you will think this adds character, as if you could give each wrinkle the name of an adventure that you shared.
  • When you finally decide to move on to someone else, you look for someone similar, because her allure has you trapped, and she haunts you forever.
  • Follow

    Get every new post delivered to your Inbox.