Verhale van die Kotskoets 2: Ongeluk Mei 21, 2009
Posted by oomherman in 1.trackback
Soos vroeër vertel, het ek ‘die Kotskoets’ gekoop met ‘n lening van United daardie tyd. Woes trots op my eerste kar en daar is ‘n oulike meisie wat ek al lank in die oog het. Ek bel haar en hoor van uitgaan payday se aand. Ja, dis reg.
So gesê, so gemaak. Laai haar op, op die aand wat die eerste aftrekorder van my salaris afgaan vir my eerste kar. Sy sit langs my, ek gedra my mooi en ons besluit so ry-ry waarnatoe ons gaan vir aandete. Ons sit nog so by ‘n rooi robot, toe hoor ek iewers agter my tires skree nou soos varke wat verwurg word. Ek had net tyd gehad om in die spieël te sien hoe twee Ford-Cortina voorligte dip soos die ou briek aanslaan – hopeloos, hopeloos te laat.
Die Ford tref ons met ‘n moerse slag van agter af, Hy stamp ons in die kar voor ons vas, wat wegjaag. Nou is dit ‘n f$%op. Ek kan niks sien nie – my bril is weg. Die meisie is half verslae. Ons het altwee ons koppe hard teen die voorruit gestamp. Ek soek my bril. Ek klim uit die kar om te kyk wat aangaan. Agter my staan die Ford en pie sy bodily fluids die hele pad vol. My kar het ‘n identiteitskrisis – van agter lees hy nou Ford, van voor Volkswagen, en teen die kante Corolla. Die ligte is uit, die agterdeur werk nie meer nie, die bonnet het ‘n baie prominente knop, of daar iewers dalk ‘n supercharger wegkruip. Altwee die sitplekke het vir die res van die kar se lewe so half skuins agteruit gelê. Ai! Ek loop paar keer om die kar – in skok en verslae. Elke keer as ek by my deur verbyloop, steek ek my kop by die deur in en vra die girl my twee standaard vrae vir die aand:
‘Is jy OK?’
‘Ja.’
‘Waar is my bril?’
‘Ek weet nie.’
Ek kry uiteindelik die bril en voel toe gemakliker. Die ou in die Ford is so getrek soos ‘n brastrap – hy staan met moeite regop. Die polisie, wat gou op die toneel was, merk dit skynbaar nie op nie. Anyway – gedane sake. Ek leen iemand se selfoon, wat daardie dae nog baie skaars was, en bel my pa om ons te kom haal.
Die girl en ek sit nog so op die sypaadjie en wag, toe hoor ons ‘n helse geraas nader kom. Dis die geloei van ‘n brandweerlorrie – die grootste, rooiste lorrie wat Kimberley het. Hulle kom met ‘n helse vaart om die draai (die ongeluk was omtrent net 2 blokke van die brandweerstasie) en jaag tot tussen waar die twee gebuigde karre staan. Vinnige woordewisseling met die Polise en, siende dat daar nie regtig werk vir hulle is nie, spring twee van hulle af met besems en vee die stukkende ligte van die pad af. Dit gedaan, 20 sekondes later, en daar trek die lorrie weer, sirenes steeds op volle volume. Ek lag só dat ek alles vergeet van die kar en my penarie met die girl en dat ons tydelik gestrand is.
My oorle swaer het later lang dae spandeer om die kar weer reg te maak – daar was nie geld vir panelbeaters nie. Ek het ‘n ander een op ‘n speelgrond by ‘n kerk gevind en hom by die kerk gekoop vir parte om myne reg te maak. Ek het ‘die Kotskoets, wat toe sy naam selfs nóg meer gestand gedoen het, vir jare so gery, totdat ek my eerste nuwe kar gekoop het.
ai,nou weet ek dat ’spesiale kinders’ ook brandweer manne kan word. Hahahahahahaha. but then again,hierdie tipe goed gebeur ook net in Kimberley…