Losieshuisverhale 1: Só spaar mens Mei 21, 2009
Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.trackback
So paar jaar in my werkende lewe in (ek dink dis heeltemal te romanties om dit as ‘n loopbaan te bestempel) besluit ek dat dit wat ek nóu doen, ek nie vir nog baie langer wil doen nie. Ek kry ambisie. Dammit – klink na werk. In alle geval, ek doen aansoeke, voer onderhoude, maak groot besluite en vul vorms in dat dit bars. Nie volle 5 maande later nie, het ek ‘n universiteit, toelating, voorlopige vrystelling op grond van ouderdom (ek het dalk al genoem dat ek in my skooljare beter goed gehad het om te doen) en ‘n beurs en sommer werk in die naaste dorp waar ek al hierdie dinge gelyk kan doen. Daar is nie geld vir net swot nie, so ek moet werk, maar ek wil nie vêr van die oulike meisie wat ek ontmoet het, bly nie – ons gaan dit laat werk, ek is mos immers Sup(H)erman.
Nou moet ek nog net blyplek kry, dan is ek gewax. So trek ek Klerksdorp toe. Pa ken mense van sy werksdae daar, en hulle beveel ‘n losieshuis by ‘n tannie aan. Ek sal haar naam en die straat nie noem nie, want ek is redelik seker sy het nog die plek.
Ek ry Klerksdorp toe, ontmoet die tannie, betaal deposito’s en reël vername dinge. Nou is ek gewax. Pak my Kotskoetsie op die gegewe dag na lang, tranerige afskeid van die meisie en ry soontoe. Nou vir insettle. Daar is ander kinders ook in die losieshuis – 9 om presies te wees, behalwe die tannie se eie kinders en nog twee in die karavaan op die agter grasperk. Lekker – maters. Ek deel ‘n kamer met ‘n ander ou. Ek het getrek met alles wat vir my kosbaar was. My kamera, my Hi-fi en paar stukkies klere. Daar is plek vir alles in die losieshuiskamer. Gou leer ek dis nie so ‘n goeie plan nie. Na ‘n week een is die helfte van my CD’s weg, die ander klomp beskadig, my Hi-fi het ‘n ‘ongelukkie’ gehad en die kamera is, ter wille van oorlewing, vir alle praktiese doeleindes buite bereik verpak.
Al hierdie dinge vat ek half in my stride – ek het in die army geleer om met moeilike mense saam te leef. Wat my egter van meet af ondergekry het, was die eindes waartoe die tannie sou gaan om geld te spaar en só meer uit die losiesgeld te kry. ‘n Paar voorbeelde sal dit goed illustreer:
• Daar is ‘n streng tyd-limiet aan jou stort-tyd in die oggend. 5 minute max – ons is klomp Christen-mense onder een dak en hier is net een geyser. Dis nog fine – ek het in die army ook kort gestort.
• Die menu is nie so sterk uigebrei soos ek in ma se huis geëet het nie. Lewerkoekies, wat ek nou nog haat, is daagliks op die spyskaart en as ek patats nooit weer sien nie, is dit te gou.
• Die tannie sit spykers in die gras want die kinders ry oor haar grasperk. Ook net eenkeer gedoen.
• Die ander kinders steel gereeld my kar vir joyrides. (Die Kotskoets het maklik met ‘n teelepel gestart as jy nie die sleutel kon kry nie) Toegegee – nie die tannie se skuld nie.
• Die tannie meng die margarine met kookolie om dit meer te maak. (kookolie was nog goedkoop daardie tyd) Dit smeer ook makliker, en die smaak bly in jou mond tot lank na lunchtyd, wanneer jy by die hoekkafee ‘n stuk olierige vis koop om die smaak weg te dryf.
• Daar is gate in die teelepeles geboor sodat jy nie te veel suiker vat nie.
Ek het nie lank lekker daar gebly nie – ek het nou nog ‘n groot weerwil aan so blatant probeer goedkoper lewe en dit op ander mense uithaal. Ek relish nou nog elke lekker kos-ietsie wat ek eet, in pure celebration van my vryheid en (tot hede, touch wood) afskeid van losieshuislewe.
Comments»
No comments yet — be the first.