Armystories 4: Van wagstaan en brandslaan Mei 20, 2009
Posted by oomherman in Done deals.trackback
Ek het al in vorige verhale vertel hoe koud dit in Potch raak. Dis, naas Colesberg, die koudste plek waar ek ooit enige tyd spandeer het. So, oor naweke, moet ons troepies wagstaan. Wagstaan is totale rubbish. Dis ‘n armykamp, hel! Die groot vrae wat by jou behoort op te kom is; (a) wat gaan iemand hier steel? en (b) wie gaan dit waag? Miskien benader ek hierdie vrae in hindsight bietjie ligtelik, maar werklik, ouens, wagstaan is soos die 100% nommer 1 tipe mors van enige regdenkende persoon se tyd. In alle geval. Ons staan wag.
As jy wagstaan–diens trek, dan het die army vir jou klomp ekstra spesiale bederfies opgeline. Die eerste is dat jy jou kos mag saamvat. Die kombuis maak die wagte se kos voor die tyd en jy laai die hotboxes saam met jou op die Samil op pad wagpos toe. Lekker – nou hoef jy nie te wag vir kos nie. Probleem is as jy die eerste skof trek. Sien, die ander ouens is nou los en dis vroeg die aand. Hulle het nie nodig om te wag vir kos nie, so hulle help hulleself. As jy nie skep VOOR jy op wagduty gaan en jou dixies vol kos saamvat nie, gaan jy vanaand honger slaap. Verder gee die army jou dan regte bullets ook vir die wagstaan. Lekker – nou moet die vyand net kom laat ek die helsems kan skiet. Hel, sommer iets wat net roer in die bosse sal doen. Ek, opperheld van die bo-Potch. Ha!

Ons held, heavy GV voor die bungalow in Potch
Terug tot by koudkry en wagstaan. Om een of ander rede, as jy by die kamp se hoofhek staan, staan jy outomaties dubbel skofte – dis 4 ure aaneen. Trek jy die midnight shift – van 12:00 – 04:00 en dis winter, dan bars jy. Daar is nie ‘n aapjas of onderbaadjie of vessie of thermals hierdie kant van die poolgebied wat jou warm hou nie. Miskien sal die gelooide vel van ‘n seeleeu of ysbeer help, of dalk die sagte, warm lyf van ‘n Eskimo se vet vrou, maar ek betwyfel dit. Ek het dit net eenkeer oorgekom, en ek onthou dat my voete so geswel het in my boots dat ek nie my tone kom wikkel nie.
‘n Lekker deel van wagstaan is dat jy tyd kry om by jouself te wees. Jy dink sommer enige goed, maar meesal hoe lekker dit gaan wees om weer huis toe te kan gaan. Wat ookal, ek het nie halfpad soveel stront uitgedink soos my makkers nie.
Ons staan nog so wag by die ammunisiedepot in die Bloubos by Potch een nag, toe daar die reuk van rook oor die nagwind aangedryf kom. Ek en my 3 makkers is toevallig op skof. Ons deel op in twee groepe van twee – een groep loop kloksgewys om die dump en die ander anti-kloksgewys. Elke half-sirkel ontmoet ons mekaar, compare notes oor die bôggerol wat ons sopas gesien het en bevestig dat alles nog tot vervelens toe rustig is. Die een rakker, wat verewig daarna in my opinie een van die natuur se ‘sonskynkinders’ sal wees, is aan die ander kant van die ammo dump. Dis verseker meer as ‘n kilometer se stap rondom die ding. Soos wat ons dit getime het, is dit omtrent 4 minute se vinnig stap vandat ons die rook ruik totdat ons op die petalje afkom. Dié ou het ‘n bynes in die boom net buite die ammo dump opgemerk en het besluit om die heuning daarin te soek. Daarvoor het hy los droë gras gevat en dit aan die brand gesteek. Dit was nie lank nie, toe hy besef dat hy nou ‘n kooltjie, grassie of iets laat val het. Teen die tyd dat ons daar aankom, was daar al klaar so kwart rugbyveld aan die brand, en die wind is redelik sterk. Onthou dat hierdie nou oop veld naby ‘n groot ammunisie-opslagplek is. Voorts is dit ook dieselfde veld waarin die skietbaan is, en daar is baie ammunisie wat nie ontplof het soos dit op die boks adverteer nie. Man, was dít nou ‘n storie. Dit was 11:00 die nag. Teen 04:00 die volgende more, was die hele kamp wakker en ons slaan steeds brand soos ons kan. Water bunkers kom oor die bult, troepe wat klere gewas en uitgehang het deur die nag is vir ons die moer in, want die roet is orals, en orals hardloop mense rond en skree op mekaar.
Die laaste brand wat hieruit voortgespruit het, is eers meer as 2 dae later geblus.
Comments»
No comments yet — be the first.