Pa ry die bees dood Januarie 20, 2009
Posted by oomherman in People / Mense.trackback
Pa het op Witpoort grootgeword. Witpoort is ‘n bitter, bitter klein dorpie so amper halfpad tussen Leeudoringstad en Wolmaransstad. Om te sê daar is niks nie, is om niks orals lelik te beledig. Die dorpie het in die 1990’s eers elektriese krag gekry.
Ouma het vir baie jare nadat pa weggetrek en self sy gesinnetjie begin het, nog op Witpoort gebly. As kinders het ons dus ook die plek leer ken en baie kattekwaad daar aangevang, soos Lucky wat deur Oupa se staldak geval het en ekself wat etlike veldbrande persoonlik gestig het. Met die gebrek aan elektrisiteit, het ons as kinders geglo Witpoort is die plek in die wêreld waar al die duisternis bymekaar kom om die kerse bang te maak.
Zoom back tot die tyd toe pa self laaitie was op Witpoort. Hy het sommer baie maatjies gehad en hy vertel ons gereeld van die twak wat hulle aangejaag het. Een van sy meer kleurvolle verhale is die keer toe hy en klein Johnny Hudson die bees doodgery het.
Nou, om ‘n bees dood te ry is op sigself gewoonlik redelik traumaties en kan selfs dodelik wees. Wat Pa se storie soveel beter maak, is dat hulle dit met ‘n fiets gedoen het. Ja, ‘n trapfiets en Ja, ‘n hele bees.
Sien, Witpoort het net een teerstraat – so ‘n lange wat reg deur die middel van die dorp loop. Die straat kruis ‘n klein stroompie min of meer reg in die middel. Weerskante van die stroom is die pad redelik steil na beide kante teen die bult op. Aan die een kant van die pad is die winkel, en aan die ander kant is die dam met die leidam en leivore van daar af deur die dorpie se landerye. In die middel, waar die pad die Wolwespruit kruis, is daar gemeenskaplike weiveld vir die dorpie se lewendehawe.
Pa en die Hudsons het die dag by die dam gespeel en teen die middag se tyd begin dit reën en hulle moet huis toe gaan. Twee van hulle klim op die fiets, want Johnny Hudson het nie ‘n fiets gehad nie, so hy sit op die handvatsels voor en pa lift hom huis toe – aan die ander kant van die dorp.
As jy by die dam se hek uitkom, is daar nou ‘n lang afdraend tot in the middel van die dorp se hoofstraat en dan weer opdraende tot by die huis se afdraai. So, uit die aard van die saak trap jy laat dit bars teen die afdraende om soveel as moontlik momentum vir die opdraende te kry. Veral as jy iemand lift, anders gaan jy sukkel.
Pa en Johnny het al baie gelift en hulle het die balans-ding lekker onder beheer. Pa trap dat hy bars, die fietsie sing soos hy loop en toe hy mooi op spoed is – toe loop die beeste van onder die brug en die weiland af reg oor die pad. Klein Johnny Hudson skree, maar pa sien te laat en hy tref die kalf reg in die blad. Daar lê Pa, daar lê Johnny Hudson en daar lê die kalf. Pa en Johnny spring op en gryp die fiets en jaag huis toe.
Dis eers twee dae later dat die oom wie se bees dit was, by die winkel kom verneem het of iemand gesien het wie sy kalf doodgery het, want daar is nie briekmerke of iets gewees nie. Die kalf se rib is afgery en het deur sy long gesteek en die ding het basies net daar gevrek. Pa en die Hudsons het maar stilgebly, want daar was nie geld om mense vir dooi beeste te vergoed nie en Oupa sou sy gatvelle afgetrek het – net vir ‘n ‘opening bid’
Nou ja, nie baie ouens het al beeste met fietse doodgery nie.
Ek dink ek moet hierdie stories van my vriend Herman vir die Beeld, of Huisgenoot stuur, want sulke stories verdien ‘n groter ‘audience’, en hopenlik betaling vir sy kreatiwiteit, en vertellings in Afrikaans, met ‘n geurtjie van Engels daarby…..
My raad is, as jy afval van die fiets (motorfiets), klim maar weer op, al is dit bewerig …..
Sien uit na volgende skrywe
Net nie Huisgenoot nie ASSEBLIEF TOG, ek sal dit NOOIT afleef nie. HUISGENOOT: Die tydskrif pasgemaak vir tandarts wagkamers en met trots aan jou gebring deur verveelde huisvrouens van regoor die droogste dele van die land. Dan eerder Hustler of Sarie – ‘n issue waarin Anna-Mart van der Merwe uitpraat oor haar jarelange begeerte om in ‘n pornmovie te verskyn en sodoende die hele land se ekonomie tot stilstand te bring deur elke man hand aan eie ploeg te laat slaan. Net nie die Huisgenoot nie……
Eintlik moet ek saamstem, want jy sal moet ver gaan om Steve Stofsuier se reputasie te ewenaar! Ek moet jou egter reghelp met die verveelde huisvrouens, want geen huisvrou is regtig verveeld nie, net mans wat nie duidelik nie verstaan dat iemand die gemors agter hulle moet regmaak nie….(Sweepslag!) As jy in Hustler wil verskyn, sal jy baie meer eksplisiet moet begin skryf, en nou ja….jy het kenners nodig….HA-Ha. So dalk kan ons vir jou ‘n rubriek kry in die Rapport, net so vir die vervelige mans wat niks beter het om te doen op ‘n Sondag middag nie…..
Hey Harry,
Net ‘n nota om te laat weet…. Tada! Ek het uiteindelik op jou website ingekom. Nee wat, die skryfding het jy goed onder die blad. Sal darem vir die p’s ook afskrifte maak… met die hoop dat iets ‘n briek sal aandraai aan hul gewoonte om vir jou leesstof te gee vir jou blog. Soos ma wat Sondag weer neergeslaan het voor mense wat doodonskuldig hul muur verf. Toe Peet wil hê hulle moet huis toe gaan, reken sy: “Nee, ek sal die duiwel wys, ek sal steeds gaan!” Nou ja, duiwel die been gewys (en ‘n baie mooi ou vinger in die oog sommer op die koop toe!).
Hoor hoor Letesia op jou eerste comment. My neef se stories is die beste. Ek dink nie eers oom Herman Charles Bosman se stories is so kleurvol nie
Oompie, puik soos altyd! ‘n Lekker koffiedrink voete op die lessenaar storie! Thanks, maak weer so! (Ek weet ek is laat, maar wat….)