jump to navigation

Armystories 3: Chris en die 9 biertjies December 21, 2008

Posted by oomherman in People / Mense.
trackback

Ek het vir Chris al lank voor ons armydae leer ken op Landsdienskampe in die Noord-kaap. In die army het ons mekaar op van-terme leer ken, so as ek hier sy naam gebruik, behoort dit voldoende beskerming van sy identitiet te wees. In ieder geval, ons het mekaar al paar jaar geken teen die tyd dat ons army toe gaan, maar ons was nou nie boesemvriende nie.

Ek vermoed Chris het maar baie soos ons grootgeword – daar was nooit sprake van die kinders wat drink in die huis nie (nie wat ma-hulle van weet nie) maar, as jy eers bietjie groter is, het Ma jou probeer tafelmaniere leer deur bietjie wyn op die tafel te sit Sondae. So basies het jy nie veel drank te siene gekry in jou ouerhuis met die grootwordslag nie. Chris was van ‘n plaas daar naby Hopetown se wêreld as ek reg onthou. Dit gebeur toe ook so dat ons in dieselfde battery en dieselfde ‘bungalow’ by Potchefstroom se artillerie brigade opeindig.

Nou ja, dinge gebeur en ‘basics’ was nie die beste van tye nie, maar dis nodig en dit maak jou fiks en sterk. Na ’basics’ mag jy 2 biere per persoon per aand by die kantien drink. Die soldy is bitter skraps, maar ons kry tog kansie om soms te gaan – gewoonlik eenmaal ‘n maand net na betaaldag. Toe gebeur dit een aand so dat iemand opmerk: “Maar Chris verjaar mos vandag?!” Dis net so ‘n maand na ‘basics’ op ‘n Saterdagaand en ons het toevallig onlangs geld gekry, so ons paar vriende van Chris gaan saam met hom ‘n bier drink by die kantien.

Ons tree mooi aan in 2 x 3 formasie voor ons bungalow en een van ons dril die ander af tot voor die kantien. Daar tree ons uit en stap in. Elkeen koop sommer met die instap sy kwota van twee biere en ons gaan agter uit, waar daar bankies en bome is. Sit en gesels lekker. “Lekker verjaar, ou Chris” en als en als… Toe kry een ‘bright spark’ die idee dat, omdat hy niks vir Chris vir sy verjaarsdag gekry het nie, Chris maar sommer sy tweede bier kan kry. Natuurlik doen almal anders om die tafel dieselfde. Nou begin die vermeende vinnige partytjie lyk na ‘n speletjie, want Chris erken sommer ruiterlik dis meer drank as wat hy in sy lewe saam gesien het. Voor hom staan egter nou 9 Castles met sy naam op.

Tot sy ewige krediet doen Chris die eerbare en hy begin by die bier naaste aan hom. Dis al na 6-uur en 9-uur moet ons terug wees by die bungalow vir roll-call. Chris slaan die een Castle na die ander weg terwyl ons hom luidkeels aanmoedig. So net na 8-uur is Chris klaar, maar nou het ons ‘n probleem. Ons held staan nie meer so lekker nie en hy loop nog minder oortuigend. Ons loop-sleep-dra vir Chris die amper half-kilometer terug bungalow toe.

Terug by die bungalow, het ons egter toe eers ons hande vol met Chris – toe die Castletjies nou mooi getrek het, kan jy sê. Chris tree hom voor die eerste bed wat hy sien aan en verklaar raserig dat hy nou gaan slaap – die eienaar van die bed se protes ten spyt. Die ou steier, maar hy vertel vir almal wat wil hoor, en paar ander: “Dis my bed en my kas en my trommel en my rugsak, en ek slaap net hier. Nou raak ons bekommerd, want dis duidelik dat die klong regtig stukkend is. As Chris se kos nou uitval gaan ons die gemors moet skoonmaak, en ons het al genoeg bungalows gepolish soos dit is. Ons hardloop met Chris tot in een van die vier cubicles onder in die bungalow. (Die ouens wat die 64-man ‘opman’-styl bungalow ken, sal weet hoe dit lyk, maar dis basies twee lang gange met beddens teen elke muur en die stort- en toiletgeriewe aan een punt en vier kleiner, meer privaat kamers {cubicles} aan die ander ent.) Ons is in die cubicle aan die onderent – hier sal dit makliker wees om skoon te maak as Chris opgooi. Ons maak Chris staan voor die bed en sê hy moet gaan slaap. Chris gee die bed een kyk en besluit dat wat hy eintlik nou wil doen, is piepie. Hy begin met sy overall se knope peuter. Ons kliek wat gebeur en hardloop weer met om aan die arms deur die bungalow tot bo en maak hom voor die krip staan.

Nou moet ek eers verduidelik dis winter in Potchefstroom. Dit raak bitter koud, soos wat ek al elders verduidelik het. Omdat almal se drag buite dieselfde moet lyk, dra jy iets onder jou overall vir die koue. My eie ma het vir my lekker Thermal Underwear gekoop by die Wollie-winkel, maar meeste ouens het sommer net sweetpakbroeke onder hulle overalls aangehad.

Ons staan met Chris voor die krip. Hy vroetel met die knope aan sy overall. Teen hierdie tyd het ons troppie al ‘n mooi skare om ons wat dié petalje gadeslaan, want Chris is nie bekend as ‘n raserige ou nie. Uiteindelik kry hy die knoop los en hy reik binne sy overall in om die nodige te doen om te pie. Dis daai tyd dat Chris die swart Bear International sweetpakbroek onder sy overall se toutjie uithaal en met die ding mik en laat skiet. Chris gee skiet en hy pie die pie van ‘n bierdrinker wat die eerste keer die aand die seël breek. Hy gooi sy kop agteroor van pure verligting. Hy leun later op sy arms teen die muur. Chris is salig onbewus dat totterman nog knus in sy broek sit en dat hy môre sal moet overall, bootse en sweetpakbroek was. Chris pie en hy pie. Dit loop teen sy bene af, in sy bootse in en later weer uit. Hy pie hom sopnat. Toe hy klaarmaak, toe gee hy so ‘n windmaker skud en sit die toutjie mooi terug waar hy vandaan kom. Ek en die ander lê op die grond en rol soos ons lag, want nou is daar geen keer nie.

Daardie aand is nog steeds waarskynlik die meeste wat ek nog vir een ander mens gelag het. Ons het later vir Chris weggevat en op die kaal staalbedjies in die cubicles laat le, waar hy salig geslaap het tot die volgende oggend. Een ou het sy stem vermom en vir Chris “Ja” geskree by roll-call die aand. Chris het nooit getraak om vir ons te kom vra wat gebeur het nie. Net kom Omo leen om sy klere te was en paar Disprins vir die koppie. Ek dink nie hy het mooi verstaan hoekom hy oornag ‘n legende in die bungalow geword het nie.

Comments»

1. Pikkelik - December 23, 2008
2. Pikkie - December 24, 2008

Herman, vir jou en jou vrou en piekvoet, ‘n Wonderlike Geseënde Kersfees vol blydskap, vreugde en vrede!

oomherman - Januarie 2, 2009

Hi, Pikkie
Baie dankie. Ek vermoed enige ander jaar in onlangse geskiedenis kan maklik beter wees as die een wat pas verby is. Ons hou moed vir beter dae. [toevallig die leuse (in latyn) van die dorp waarin ek grootgeword het.] Die beste vir jou en joune ook.
Herman

3. Leon - Januarie 3, 2009

Oom Herman, ek was net bang jy gaan ons vertel hoe jy Chris se totterman self uitgehaal het !

4. Leon - Januarie 3, 2009

En op ‘n vreemde laterale manier laat die storie my toe natuurlik dink aan ‘n sekere insident langs die pad oppad Sudbury toe in Kanada Maart 2006 !

5. Monch - Januarie 7, 2009

hahahahahaha. rolling on the floor with laughter