Stoepstories: Hoe om ‘n ‘wendyhouse’ te skuif. December 15, 2008
Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.Tags: Afrikaans
trackback
Ek het baie jare gelede besluit ek wil eendag in Pretoria bly. Dis sommer net omdat my neef dit laat lekker lyk het. Teen die tyd dat ek van die platteland af Centurion toe getrek het, was dit kwalik nog die Pretoria wat ek die eerste paar keer gesien het, maar hier was baie vriende en ek bly sommer gou baie lekker.
Ook sommer vinnig soek ek huis. Werk vir die Staat daardie tyd, so die pryse lyk baie hoog, maar ek knyp oge toe en koop. Koop ‘n bitter klein gehuggie vir ‘n plaas se prys, voel ek. Bly sommer gou lekker daar. Volgende op die agenda is vrou soek en nie te lank nie, of daar is toe die een spesiale persoon wat sommer oorbly/inkruip en nooit weer weggaan nie. Nou maak ek en aspirant-mamma huis en tuin. Speel lekker huis-huis.
My ou huisie is bitter klein, (89vkm) maar ek het ‘n redelike tuintjie en een van die min townhouses in Centurion waar jy ‘n hek het en met jou kar (en ‘n paar ander ) in jou erf kan inry. Die tuin is pragtig en ons bly lekker, maar in my hart verlang ek nog steeds na die plaas wat ek nooit sal hê nie. Oplossing? Ek gaan koop vir my ‘n tuinbankie sodat ek en mamma soggens ons koffie en beskuit op die stoep wat nie bestaan nie, kan nuttig en die dag in oënskou neem. Die EEN stukkie troos in hierdie treurmare is dat ek ‘n pragtige doringboom op my plasie het – net eenvoudig die beste ding van die hele huis en tuin. Ek is mal oor doringbome.
Dis toe ek eendag só sit en uitstaar or my gronde (wel, die 2 meter tot by die silex-heining) dat ek besef maar dié wendy-huis, wat half standaard is vir townhouses met geen stoorplek nie, staan in die beste koelte op my plaas – onder die doringboom. Sommer opsluit maak ek ‘n plan om die wendy te skuif en gras te plant sodat ek self onder my doringboom kan kuier. Mamma stem saam dis ‘n plan en ons bereken hoe dit gaan werk. Ons kry ander plek vir die wendy en ek ry dieselfde naweek nog ‘railway sleepers’ met my kar aan – hulle hang sommer so halfloaf uit die ‘boot’ uit. Nie poefie sleepers nie – B-graad goed – ek soek nie vrottes wat net gaan inmekaarsak nie, maar ek wil ook nou nie planke saag vir ‘n kroeg nie. Nou om die wendy te skuif, en dis hier waar die storie sy draai maak. Sien, ek reken toe ek sal sommer die wendy (‘n kleintjie) met die pik lig aan sy een hoek, dan die ander hoek, en dan drie teerpale kry en die ding rol na sy nuwe staanplek soos op die manier wat Discovery Channel reken die Egiptenare het die piramides gebou. Jy sit net elke skoot die paal wat nou net agter uitgerol het weer voorin, en daar gaat jy – kan nie moeilik wees nie.
Net daar steek mamma viervoet vas. Néé, kry professionele mense om dit te doen. Jy gaan die wendy breek. Nou hoekom sal ek my eie wendy breek? Toe sy sien hierdie argument wen geen veld nie, toe kom my gesondheid by die agterdeur langs by die gesprek aan – jy gaan jou rug seermaak. Hulle het allerhande toerusting en goeters and gaan dit sommer maklik doen. Ek wil nie – ek weeg nou die R 90 se drie teerpale op teen klomp geld wat iemand my gaan vra vir iets wat ek self kan doen. Die stryery hou so 2 dae aan. Uiteindelik gee ek kop en ek begin rondbel. Daar is paar ouens wat die ding kan skuif, maar net een ou wat reken hy kan dit sommer die volgende oggend doen. Hy vra R 800. Ek knyp my ogies weer baie styf toe en sê: “Ja, kom maar” So met die praat saam vra ek hom of hy sy toerusting in my erf sal inkry en die wendy gelig kry sonder om my boom te beskadig? “Nee, Meneer. Dit sal nie ‘n probleem wees nie.“
Die volgende more is ek en mamma vroeg op – haal die laaste paar goedjies uit die wendy en maak koffie. Ons sit op die half-stoepie op my tuinbankie en gesels oor hoe lekker dit gaan wees as die wendy weg is onder my boom en hoe ek hoop hulle nie my boom gaan seermaak nie. Ons praat ook oor watter soort masjien hulle gaan aanbring om die wendy te skuif en hoe dit werk.
Praat nog so, toe stop die ou daar met so klein Bantam bakkie. Hy en een ander knaap – altwee sulke maeres. My moed sak in my skoene – hulle masjien het gebreek en hy kom my net vertel hy gaan dit eers na Krismis doen. “En nou?” sê-vra ek. Nee, hulle kom die wendy skuif. OK, sê ek – hulle is duidelik sterker as wat hulle lyk. Dis daai tyd toe die kleiner knaap die drie teerpale agter van die bakkie afhaal, laat mamma besef nou moet sy hier keer, want toe bokspring ek van pure verontwaardigdheid. Die lae donner !!! Dit was ook seker nie sy skuld nie – hoe moes hy nou weet daar is klaar ‘n kleintjie dood aan wendy’s beskadig en teerpale rondrol op hierdie plaas? Daar pak die twee van hulle die wendy. Lig die een hoek mooitjies op, soos wat ek laaaankal in my geestesoog gedoen het. Sit die eerste paal in – toe die ander drie hoeke en die tweede paal, toe die derde paal, en dáár gaat hulle… Die wendy kreun en kraak en ek staan en spoeg en vloek in die kombuis en mamma kyk liewers anderpad. Hulle spook so kwartier en toe’s hulle klaar. “Dit sal R 800 wees, dankie Meneer.”
Ja, dankie vir jou ook, Hokvark. En ‘n ekstra spesiale dankie Mamma vir die rug uitspaar en die geld wegblaas. Ons het seker vir twee dae nie gepraat nie oor die wendy-ding voor daar weer vrede oor die plaas gekom het.
So, as jy ooit die nood kry om ‘n wendy te skuif, kry drie teerpale en doen die ding en kry klaar – vat dan R 700 en koop vir jou etlike kaste bier en sit in die koelte en hou partytjie vir al die geld wat jy vir ‘n goeie saak geblaas het. Jy kan vir almal vertel jy het hierdie fantastiese raad op die internet nagevors…..Séla.
- Beste boom-koelte + wendy = poef
- 3 mooi nuwe sleepers vir die wendy om op te staan.
- Ja, so kom dit my toe oor…. kon dit self gedoen het!
- Die wendy opgedollie met ‘n nuwe laag of 2 timberseal
- Plek onder die boom met gras en ’sightscreen’





Puik!!! Admiraal Nutsman! Jy kan dan ‘n storie soooo lekker skryf…
Baie dankie – ek waardeer. Dis baie lekker om terugvoer te kry – bly het die storie geniet.
Oom Herman…ek het nog nooit hierdie Wendy se huis in jou erf gesien nie…blaas jy hom af elke keer as ek kom kuier want jy is bang ek roll hom weg saam met my met my eie drie teerpale !!! lol
Nee, is op my ou plaas. Ek dink nie jy was ooit daar nie.
so let’s do it like they do on the Discovery Channel….
Oom Herman, ek het vir my nuutste storie jou idee van die drie teerpale ge-”plagiaat”…ek hoop nie jy maaind te veel nie !!