Toyrun 2008 December 8, 2008
Posted by oomherman in Done deals.Tags: Afrikaans
trackback
Jy sien, ek is ‘n leerling biker. Toe ons jonger was en ek begin krap het vir ‘n motorfiets toe al my pêlle bikes gekry het, het Ma altyd gesê ons kan bikes kry die dag as die goed safetybelts inkry. Nou ja – niks fifty’s vir niemand met die grootword-slag nie. Ek dink dat, soos baie ander dinge, ons later die goed explore wat ons nooit as kinders gehad het nie as ons die geleentheid kry.
Ek het wel soms my vriende se bikes gery as daar kans was. So het ek Jonna se AR50 paar keer gery, ons het paar keer met Bloulig se 50 geval in die mynhope en ek het ‘n moerse scary trip saam met Franks op sy 1300 gehad toe ons al uit die skool was. Ek het ook laat een aand een van Lucky se pélle se MB-50 sit en oorverf nadat ek met die ding geval het. So, ek het wel bike gery, maar ek sou my eerste pogings nou nie ‘n oorweldigende sukses bestempel nie.
Die netto resultaat is dat ek ‘n ewige vrees vir bikes het. Ek is baie, baie bang vir die goed.
Ek bly 40 kilometer van die werk af en teen Februarie hierdie jaar het ek genoeg gehad van die verkeer en die petrolprys. Na lang redekawel met die vrou, koop ek ‘n klein fietsie om mee te leer. Dit gaan alles goed en teen November het ek my behoorlike lisensie en ‘n groter, nuwe bike. Tot dusver betreklik pynloos. Ek is al paar keer in die verkeer getref deur ouens wat nie kyk voor hulle van baan verander nie, maar ek bly nog tot dusver bo.
Toe die Toyrun dus hierdie jaar weer kom, en ek het vir die eerste keer in my lewe ‘n behoorlike bike, toe MOES ek net eenvoudig gaan. Mamma gaan saam.
Ons pak die dag baie lig – basies net ‘n kamera en hoede – brêkvis by McD’s en laai die pienkvoet by ouma af vir die dag. Ek maak die speelgoed aan die fiets vas sodat almal kan sien ons is toyrunners en die res van die speelgoed gaan agter in die topbox.
So klim ons op die bike en ry Brightwater Commons toe in Randburg. (Ek dink nog steeds dis ‘n poef naam vir die Waterfront) Op pad is daar heelwat ander bikers en almal waai vriendelik. Ek moet bieg ek was heel verbaas met Mamma wat ook saamspeel en saam waai vir die ander. Ek vermoed sy geniet heimlik die bietjie ekstra aandag.
Ons kom in Randburg aan en die marshall van die Harley club laat ons eers wag totdat hulle bende die plek kry, wat hulle nogal ‘n rukkie vat. Vir mense wat nie die pad ken nie, is hulle heel arrogant, dink ek so by myself. Nadat hulle die verkeer vir etlike minute opgehou het, kom almal by die Commons aan en ons parkeer. Daar is al die vorme van bikers te siene. Van gewone ouens soos ek wat net werk toe en terug ry, tot die serious biker–Harley-gangster-moenie-vir-my-kyk-nie–of–ek-moer-jou-once tipe dudes. Daar is tot laaities met pitbikes wat saamry. Almal het presente vir die arm kinders gebring. Schweet.
So tussen die rook en petroldampe en geraas deur, kom daar ‘n rot oor die pad gebokspring na veiliger plekke anderkant die bikers teen die bult uit. Die vrou lag haar gat af, want die rot lyk half nervous en ek dink sy voel dié sentiment is nie onvanpas so tussen al die petrolkoppe saam nie.
Toe die Harley bende nou eers almal mooi hulle sit gekry het en hulle marshalls voor in die ry kan kom staan, toe blaas hulle die toeter en ons kan almal die onmeetbare voorreg hê om hulle te volg. Ons ry maar stadig en ek voel half trots dat ek die bike teen loopspoed of minder beheer kry sonder om eendvoet te loop én met mamma agterop. So kom ons uiteindelik by die freeway en die cops is daar om die verkeer te stop – schweet van hulle. Een ou op ‘n bike wat obviously onlangs geval het, kom teen moerse spoed langs ons verby en voer ‘n sierlike ‘stoppie’ by die robot uit. Die cops lyk ook impressed.
Ons is op die freeway en baie ander bikers sluit by die groep aan. Daar is letterlik duisende bikes. Langs ons is ouens met hulle laaities agterop die bikes en ek dink onwillekeurig dat my eie pienkvoet dit ook sal geniet as sy die dag groot genoeg is.
Ons ry soos wat meeste groot groepe voertuie ry – almal ry met verdrag vinniger en vinniger totdat een hou nervous raak en die briek vat-vat. Dan stop die hele spul, so jy ry effektief in sulke groot tsjortse aan. Ry-stop-ry-stop.
Uitendelik kom ons by Nasrec se afdraai aan en van hier af gaan dit amper meer bedaard. Ons parkeer en haal die speelgoed af. Nou loop soek ons die toy dump. Kry die plek en gooi ons speelgoed op die hoop saam die ander – bitter min seremonie aan die hele affêre, maar dis immers nie waarvoor ons hier is nie.
Nou verken ons die stalletjies met bikes en bike goeters, maar eers kry ons bloedig warm. Daar is ‘n knaap wat roomys verkoop en ons stop daar by hom. Ek koop ietsie klein vir mamma en my gewone favourite orange sucker vir myself. Niks Magnums of sulke luukse goed nie. R26.00, dankie. Die lae bliksem!! Ons is hier vir liefdadigheid en hy buit ons blatant uit. As daardie selle twee roomyse meer as R10.00 op die straat gekos het, het ek hom in sy moer gestuur! Vark! Nou ja, beggars can’t be choosers, I guess. Maar ek bedoel; Hel, man! Ek weet dis vir liefdadigheid en alles, maar ek vermoed hierdie jakkals se liefdadigheid begin en eindig sommer by homself. Lekker shortcut gevat, né?
Ons loop en eet stadig aan ons duur roomyse. Ons drentel deur die stalletjies en ek kyk bike goete terwyl Mamma self mik vir ‘n lekker baadjie, want sy het nie een nie en ek vermoed daar is effe van ‘n trek agterop die bike.
Later is ons geld opgekoop aan R10.00 koeldranke en ons is verveeld want daar is nie juis ander maatjies om saam te speel nie. Verder is dit steeds bloedig warm en ons klere is gekies vir die wind, nie die stilstaan in die son nie. Ons kontant is op en om by Nasrec ‘n OTM te kry, is soos om plein koffie in Starbucks te koop – dit gebeur nie. Na nog bietjie rondloop en goed kyk, besluit ons om te verkas. My work here is done and all and all.
Op pad uit, loop ons by die ‘Christian Stuntmen’ of iets verby. Dis soos dudes wat dissipels is deur stunts op hulle bikes te doen. Ek dink ek het in Efessiërs of iewers van hierdie lot gelees…. Anyway – ons wil bly om te kyk, maar hulle het obviously nie te goed beplan nie, want toe moet hulle eers toestemming by die Nasrec safety dudes kry om hulle stunts te doen- en die skare wag – en dit was aand en dit was more – die tweede dag. Tien punte vir die boodskap, dudes, nul vir beplanning.
Ons besluit om maar eerder na die bikes te kyk op pad uit, want die hele Nasrec parkeerterrein staan vol fantastiese fietse – van ouer classics en nie-so-classics nie, tot nuwe ongelooflike fietse waaroor ek net kan kwyl.
Ons saal op en ry terug huis toe. Dis nou vêr van hier af en daar is nie weer ‘n stop tussenin soos op pad hiernatoe nie. Ek ry redelik stadig, want my fietsie brul onder ons gewig. Ek en Mamma is nie juis lightweights nie.
Nou kyk, my vrou slaap maklik in ‘n voertuig – baie maklik. Soms, voor die baba, sou ons sommer middernag lus raak vir roomys of iets en gou garage toe ry (veral toe daar ‘n Woollies by die garage oopgemaak het) vir lekkernye. Ek het altyd gespot dat, as ek haar garage toe vat vir ‘n roomys, ek haar moet wakker maak om te vra watter soort? Mamma slaap sommer maklik as die wiele draai.
Dit is ook seker redelik vervelig agterop die fiets want die scenery verander ook nie baie nie, maar ek het wragtig nie verwag dat my vrou actually aan die slaap sou raak nie – nie agterop die bike nie. Ek ry nog so, toe voel ek net hoe leun sy nou al swaarder en swaarder teen my rug! Sy slaap wragtag! Ai, ai, ai!! So much vir my ‘wild en exciting’ image.
Een Toyrun dus gewax. Ons het dit baie geniet, maar sal volgende jaar seker meer geldjie vat om koue goed te koop, en ook dalk by ‘n groep aansluit voor die tyd sodat ons maatjies het by die plek en meer kan kuier.
Altyd vir ‘n goeie saak en soms selfs wakker bly vir die hele performance….




Puik man! Dit is so goed geskryf…
@ mamma wat agter op die fiets aan die slaap raak! Dit WIL gedoen wees!!! Ek dink die tourun is amazing en dit was lekker om te lees!
Baie dankie – die Oom probeer.
ek dink jy moet vir mamma maar liewer ‘n side car aanskaf….
hoop nie jy het weer ‘n Tequila Stuntman by die ‘Waterfront’ probeer pull nie