Ma red die voëltjie December 8, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
trackback
Ma gee altyd vir allerhande goeters om. Soos vir kinders met seer knieë en dogtertjies met seer harte en vriendinne met siektes en sulke goed. Ook vir diere.
Kleintyd wou sy blykbaar vreeslik graag met haar ouboet se groot fiets ry. Die feit dat die fiets hopeloos te groot vir haar was, het haar glad nie getraak nie. Ouboet wou egter nie, en sy dêps toe eendag die fiets terwyl hy nie by die huis is nie. Ry lekker rond, maar sukkel, want nou moet sy haar een been deur die raam van die fiets steek en so ‘half-loaf’ ry. Sy is nie lank genoeg om ordentlik bo-oor die fiets te pas nie. So sy sukkel maar sy ry lekker rond. Enigeiemand wat al so fietsgery het sal weet wat die ding, met al jou gewig eenkant, baie makliker na jou kant toe draai as ander kant toe. As jy wél ander kant toe gedraai kry, draai jy nie maklik terug nie.
Maar ma ry lekker rond. Kom paar draaie teë, maar maak hulle sonder moelikheid. Toe sien sy egter op die sypaadjie ‘n ou klein voëltjie wat se vlerkie seergekry het of iets. Ma se hart laat haar nie toe om verby te ry nie, en sy stop om die voëltjie op te tel. Sy gaan hom huistoe vat en versorg.
Nou is ma terug op die fiets. Voëltjie styf in een hand vasgehou en been deur die raam. Sy kom sy na paar probeerslae weg en ry terug huistoe. So op pad is daar ‘n draai verkeerde kant toe. Ma mik-mik, maar kry nie gebriek nie en maak ook die draai net genoeg om die rantsteen min of meer reghoekig te tref. Dáár trek die fiets en dáár trek ma, maar sy los die voëletjie nie. Toe die stof gaan lê en ma oor die ergste pyn is van maermerries wat bloei en knieë met skrape, kyk sy ook na die voëltjie, of liewer dan toe eks-voëltjie, wat sy heeltyd styf in haar hand vasgehou het. Blyk dat sy toe met die vallery effe stywer as betaamlik vasgehou het en daar druk ma toe die voëltjie laat die tannepasta by sy boude uitkom…
Voëltjie is by Liewe Jesus en ma se hart is baie seer, want sy het maar net probeer help.
Toe nou nog net met die stukkende hart en stukkende knieë die stukkende fiets verduidelik…..
Comments»
No comments yet — be the first.