Pa is moedeloos November 21, 2008
Posted by oomherman in People / Mense.Tags: Afrikaans
trackback
Ek het die grootste agting vir my pa se “engineering expertise” Hy was, vandat ek kan onthou, altyd ‘n groot planmaker. Ek skat dis ‘n kombinasie van arm grootword en sy natuurlike nuuskierigheid, maar hy sou altyd ‘n stukkende ding uitmekaar haal om te verstaan hoe dit werk, by tye tot my ma se verstaanbare moedeloosheid. In meeste gevalle, het hy dit wat stukkend was weer reg gekry, of selfs beter laat werk. Van my beste tye saam met hom was toe ons saam aan die huis aangebou het, waar ons elke dag moes planne maak om goed te laat werk wat ons nie heeltemal verstaan het nie. Van daardie gevalle waar bietjie kennis en moerse klomp entoesiasme beter is as enige expert. Dit was ons beste ‘bonding’ tyd, en ek het groot waardering vir sy onbeteulde nuuskierigheid, entoesiasme en genuine intelligensie gekry.
Die ander dag bel ek my Pa. Hy vertel hy sukkel met sy kar. Ek weet nie presies wat fout was nie, maar hy reken toe: “Ek is nou so moedeloos, ek hardloop myself sommer dood teen ‘n sink-kakhuis.” Toe ek myself van die vloer af optel van die lag, sê ek: Ja, Pa – die probleem is dat ek jou ken, en jy gaan moeg wees lank voordat jy by die kakhuis uitkom. Dan is jy moedeloos EN moeg.
Ek het gedink dis die snaakste ding wat ek in jare gehoor het – hy het nie verstaan waarvoor ek lag nie, want dis maar sy manier van sê. Soos ek hom ken, het hy ernstig so gevoel.
Nou ja, laat ek nie gou so moedeloos word nie, want dis wragtig erg…..
Comments»
No comments yet — be the first.