Die Karoo November 21, 2008
Posted by oomherman in Other / Ander goed.Tags: Afrikaans
trackback
Ek was nooit baie in die Karoo nie. Ek het in jonger dae dit altyd gehaat as mense sê ek lyk soos Coenie de Villiers – ek het ook daai knaap en sy musiek nooit verstaan of waardeer nie. Dit het een betrokke warmbloedige persoon geneem om my te laat stil sit en besef dat Coenie se musiek actually heel skaflik is, en die herinneringe wat ek aan daardie tyd het, het my op ‘n keer self in Coenie se musiek laat belê. In ieder geval, die draai by Coenie kom maak sy stop hier by gedagtes aan die Karoo. Ek kan nie anders as om die twee altyd met mekaar te vereenselwig nie. So, ek was nooit in die Karoo soos ‘n Karoo-mens nie, maar ek kan heeltemal verstaan hoekom mense ‘snaaks’ raak oor die plek. My eie vrou, stadskind gebore, het al blykbaar daar deurgery en bemerk – ‘maar hier is dan niks nie’ (met ander byvoeglike naamwoorde) Meer onlangs, toe die familie van heinde en verre opruk na Oudtshoorn vir my boetie Lucky se troue, het my neef ook die geleentheid gebruik om die familie die Karoo te wys. Sy telleurstelling was skynbaar net so groot oor die niks.
Die ding met die niks is dat dit meesal ‘n kwessie van perspektief is. My vrou, stadskind, sal jou sommer maklik vertel watter dinge haar ‘landscape’ beter maak. Die Foschini by Brooklyn is nader aan die Edgars en die baba-klere afdeling is links as jy uit die coffee shop met die lekker kaaskoek kom…. Hoe is dit anders as die subtiele verskille en ‘nuances’ wat Karoo-mense in hul omgewing opmerk? Ekself het altyd waardeer hoe my pa, wat op sy tyd ook baie dae in die veld spandeer het, klein dinge opmerk waarop ons dorpskinders nooit ingestel was nie. Klein uilnessies op die grond, waaroor ons eenvoudig sou geloop het as hy nie gekeer het nie, of voëltjies in die veld wat op ‘n sekere manier uitwys dat daar letterlik ‘n slang in die gras is. Dis vir my amazing, maar dis een van daai ‘carburettor’ probleme – ek weet dis daar, maar ek hoef nie te weet hoe dit werk om die kar te laat ry nie.
Dit alles is ‘n lang manier om te sê dat ek, hoewel ek seker nie die Karoo of sy mense kan verstaan nie, of selfs ooit daar kan bly nie, tog kan verstaan hoe mens jou landskap leer ken en herken. Dis iets wat ingeleer word. Met ‘n onlangse besigheidstrip na Beaufort-wes, het ek weer besef dat mense daar op ‘n heeltemal ander skedule as ons in die groot dorp werk. Ja, hulle praat ons taal, maar hulle verstaan ander dinge as ons.
So, Coenie, hoe verduidelik ek dat ek nie presies verstaan wat jy bedoel nie, maar tog weet waarvan jy praat?
Comments»
No comments yet — be the first.