jump to navigation

Die ander keer toe ons die kar omgegooi het November 21, 2008

Posted by oomherman in Other / Ander goed.
Tags:
trackback

Dis belangrik om hout te hê as jy gaan vuurmaak. Nog meer belangrik is dat jy die hout gaan haal om vuur mee te maak. Die feit daar daar reeds ‘n mini-berg hout reg langs die braaiplek lê, is total irrellevant. Houthaal is ‘n tradisie en is ‘n hoogs belangrike manne-bonding-experience-spansport waartydens jy enige verskeidenheid van wonde kan opdoen wat jou baie simpatie by die girls vir ten minste die res van die naweek gaan kry. Hierdie en ander gedagtes maal in ons koppe rond tussen die brandewyn deur toe ons die middag by die dam sit en visvang. Nie dat ons iets vang nie. Die wind waai so erg, ons kry basies nie die lyne in die water nie.

 

So gesê, so gedaan. Ons pak op en ry huis toe. Laai die visgoed af en al wat man is, is op die bakkie om hout te gaan haal. Dis hoog somer en bloedig warm in die ou Wes Transvaal.

 

Ek en R, die drywer, ry voor in die bakkie en my boetie en neef is agterop. Dis plaas, so ons traak nie en gou is die hemde ook uit in die warm son. Later lyk dit lekker op die bakkie en ek klim sommer so in die ry deur die venster agterop. Ons ry immers vêr van ander mense se paaie op ‘n tweespoor pad in die veld en glad nie vinnig nie. Ry lekker agterop die bakkie – sing en gaan tekere.

Volgende oomblik is daar ‘n vurk in die pad met dik sand. Ons ken die vurk, maar die drywer nie. Ons het vroeër die dag dieselfde pad gery en die afdraai gevat, so die drywer ken net daardie pad, maar ons is hopeloos te vinnig vir die draai. Toe ek die bakkie hoor ‘terug-gear’, toe kry ek sommer daai gevoel van as daar iets met hoë spoed op pad na ‘n ‘fan’ toe is en jy kan dit sien kom…..

 

Ons rol die bakkie en die drie van ons trek soos vrot velle deur die lug. Lucky en my neef land verder in die veld, maar ek kom nie weg nie en die bakkie rol bo-oor my met ‘n hop wat effektief my lewe red. As die ding enigsins anders gehop of geland het, het hy bo-op my kop geland en ek was bokveld toe. Toe ek opstaan, het ek brandmerke op my vingerpunte soos wat ek die ‘propshaft’ vasgegryp het toe die bakkie bo-oor my kop verbykom. Verder het ek nie ‘n vel aan my gat nie, want ek het darem die ergste val gebreek met my aansienlike agterent.

 

Die bakkie lê op sy kant. R steek sy kop by die bakkie se ruit uit en verklaar dat ons nou amptelik in die kak is. Ons ‘tiep’ die bakkie weer regop en ry huis toe – die deure nou toe deur middel van ‘n lekker stuk nylontou aan die twee binneste handvatsels.

 

In nabetragting, is dit seker die gevaarlikste ouderdom in jou lewe – daar wanneer jy wettig mag drink en wettig mag bestuur, (hoewel nie altwee gelyk nie) maar nog nie werklik enige sin vir verantwoordelikheid geleer het nie.

 

In ‘n verdere bewys van sy eie ‘indestructability’, het Lucky net die volgende maand weer in ‘n ander bakkie gerol…. Ons Ma was grys laaaaaank voor sy 40 geword het.

Comments»

No comments yet — be the first.