Armystories 2: Stil en rustig…. Oktober 24, 2008
Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.Tags: Afrikaans
trackback
Jy sien, die ding met die army is dat jy eers jou identiteit moet afdoen voordat jy lekker saam met die ander maatjies kan dril en rondhardloop en orders ontvang. As jy dit nie kan doen nie, gaan jy heeltyd wonner oor: “Hoekom moet ek dit doen?” en “Wie de hel is jy? - doen dit self” – en sulke ouens sterf gewoonlik sommer vroeg as daar oorlog is – of so wil hulle vir jou vertel. In nabetragting en na jare se brannewyn, voel ek so oor oorlog: “Those who run today, live to run another day” – daar is geen glorie in oorlog nie, of in doodgaan vir ideologieë waarmee jy jou nie self kan vereenselwig nie. But I digress…
Ek was in die Army en het geleer om ‘n gunner te word – skiet met groot goeters. Lekker. Deel van die partytjie is egter ook dat ons moet leer van ‘onluste beheer’ Dis immers die vroeg 1990’s en die ‘vyand’ is lankal oor die grense en bly op ons voorstoepe. So is een van die meganismes om jou van jou identiteit te distansieer, om jou ‘n nommer te gee en nooit jou naam te gebruik nie. Almal leer mekaar maar so op die van ken. Engels en Afrikaans is deurmekaar en selfs die rou ’souties’ leer later Afrikaans praat.
Dis maande later en ons is ontplooi in Wembezi, ‘n klein maar hoogs aktiewe ’settlement’ net buite Estcourt in Natal. Ons het kamp opgeslaan buite die dorpie maar ons beheerkamer is reg binne die polise se kamp binne die dorpie. Van daar kan ons vinnig saam met die polisie reageer en ook met die ouens by die ‘huis’ in Potch praat oor ons groot radio.
Dit gebeur toe nou eendag so dat Earl (dis sy van – ons het nooit mekaar se name gehoor nie) die radio beman in die beheerkamer. Earl is Engels, maar hy het al paar Afrikaanse terme deur die laaste maande in Potch opgetel, waar selfs Marsmanne later Afrikaans sal moet leer praat. Terwyl mens op patrollie ry, moet jy elke 15 minute berig skryf oor wat aangaan. As daar niks aangaan nie, skryf jy “Alles is stil en rustig…” Earl moes dit iewers gehoor het by sy makkers op patrollie.
Dié betrokke middag was daar fout met die bus-skedule en die Inkhata en ANC-busse kom toe nou terselfdertyd by die busstop op die polisiestasie se hoek aan. Nou, daar is goeie rede om in 1992 (net voor die bully-beef verkiesing) die busse (a) nie terselfdertyd te laat opdaag nie en (b) by die polisiestasie te laat stop. Die rede is dat (c) die mense sommer maklik handgemeen sou raak om hulle politiese oortuigings by die ander spanne tuis te bring.
Toe die busse nou hierdie betrokke middag gelyk by die ‘copshop’ stop, toe het daar sommer kortliks ’n redelik impressive gunfight op die hoek uitgebreek. Dis toe dat Samajoor Kuifie net toevallig uit Potchefstroom bel om te hoor hoe dit gaan en Earl antwoord die radio heel paraat. Die kort gesprek het min of meer so verloop:
Samajoor Kuifie: (radioformaliteite) (Earl antwoord soos ons geleer is. )
Samajoor Kuifie: Earl!, jou rakker, hoe gaan dit?
Earl: Samajoor! Alles is stil and rustig – the bullets are flying heen-en-weer..
Chaos bars los en paar koeëls tref die tent waarin Earl se radio staan. Die gesprek is onderbreuk en Ealr moes later met Sam. Kuifie praat.
Ons het vir jare later nog gespot met “Stil and rustig – the bullets are flying heen-en-weer.”
Ek onthou maar altyd dat dit maar in jou persoonlike lewe en op ander vlakke ook partydae so kan gaan. Alles is nog ’stil and rustig’ while ‘the bullets are flying heen-en-weer…..’
Comments»
No comments yet — be the first.