jump to navigation

My boetie Lucky – episode 4 Julie 2, 2008

Posted by oomherman in People / Mense.
Tags:
trackback

Ons was nog op laerskool toe my niggie een skoolvakansie van Johannesburg af kom kuier. So ‘n rukkie in ‘n skoolvakansie dink ek die ouers raak ook maar moeg vir die kinders wat so knaend is, want daar was nog nie stories van ons by ‘n mall aflaai of iets nie. Kimberley het nou nog nie ‘n oortuigende mall nie, wat nog van in die 1980’s?

So vra ons eendag vir ma of ons kan gaan piekniek hou in die parkie agter die huis. Die vra is meer dat ma die kos sal pak, sien? Ma stem in en die voorbereidings vir die piekniek begin. Dis omtrent net soos padkos vir vakansie – daar is lekker toebies, klein frikkadelletjies, Simba chips en blou eiers – hardgekook in die dop. Verder het ma nie koeldrank nie, maar daar is die bottel Pine-Nut wat Pa van die visvang naweek teruggebring het. (Onthou julle daai vet 1,5 liter glasbottels? en Pine-Nut?) So daar gaan die kinners vort met die piekniekmandjie en die bottel Pine-Nut. 

Nou moet ek eers vertel hoe die bottel sy weg teruggevind het van die visvangnaweek af. Pa en sy groot fishing-buddy het die laaste drank wat hulle gehad het, moes saam meng om hulle rugsakke so lig as moontlik te maak om op ‘n sekere punt die rivier te kan oorsteek. Dis toe dat hulle die 3/4 bottel vodka met die laaste Pine-Nut meng om net een bottel in die sak te sit. Toe hulle klaar in die stroom geelvis gevang het en ander wal toe gaan om te rus, toe vind hulle dat die mengsel nou hopeloos te veel vodka vir die Pine-nut in het. Hulle was gesoute drinkers, maar het self nie kans gesien vir die mengsel nie, so hulle het dit maar teruggebring huis toe met die idee om nog Pine-Nut te koop om later by te sit.

DIe kinders kom in die parkie aan en speel eers bietjie. Gooi bal, skiet kettie en jaag die honde deur die parkie. Later is die kinners moeg en maak die kombers oop om op te sit. Die kos word uitgepak en almal smul lekker. Nou is dit die koeldrank se beurt. Pine-Nut is niemand se gunsteling nie, maar dis wat ons het, so ons begin by my (wants ek’s die oudste) en pass die bottel aan. Ek proe onmiddelik dat dié goed niks lekker is nie en vra vir Lucky wat dink hy is verkeerd. Nee, hy weet ook nie, maar dit proe snaaks. Pass aan vir Sussie, dalk weet sy. Nee, weet nie, maar stem saam dit proe snaaks. Pass aan vir niggie – sy weet ook nie, maar stem in die goed proe nie heel soos die Pine-nut wat sy onthou nie. Na lang klomp geproe-ery, besluit ons dat daar drank in die Pine-Nut is, en nou is dit mos ‘n groot avontuur! Net grootmense drink, maar ons is nuuskierig oor dit, so ons gooi.

Ek vat nog paar slukke, maar die meisies sê hulle voel nie so lekker nie en hulle gaan nou huis toe om vir Ma te vertel. Ek strompel ook maar huis toe en los vir Lucky daar in die parkie met die bottel Pine-Nut. Ons gaan vertel vir Pa-hulle daar is iets fout met die Pine-Nut. “Maar waar is Lucky?” vra Ma. “Nee, ons weet nie“. Na lang redekawel en Ma wat vir Pa kwaad word want hy lag sodat hy nie kan staan nie – hy en sy maat het nie kans gesien vir die goed nie en Ma gee dit vir die kinners – hoor ons Lucky huis toe kom.

Ons almal hardloop voorhekkie toe want ons hoor ons boetie aankom. Lucky loop in die middel van die straat. Om hom blaf die honde. Hy sing en skree en raas. Hy is bloedneus geval en die stukkies klippies en grond sit in die skrape in sy gesig vas. Dit pla hom niks – hy traak nie, want hy is happy – hy sing en sleep die leë Pine-Nut bottel in die een hand en die piekniekkombersie in die ander hand huis toe.

So dis waar al die kinners die eerste keer saam gekuier geraak het, met Lucky aan die voortou, en Pa en Ma wat nie kan besluit wie se skuld dit nou eintlik is nie…   

Comments»

1. Monch - Julie 2, 2008

that’s where it all started….. O, nee, ons het mos besluit, dit het met die Kellerprins begin

2. Adele - Julie 3, 2008

LMGAF! Ag nee oom H, nou het ek alles gehoor.. DIT EXPLAINE daai rooi wyn van checkers!!!! HAHAHAHAHAHAHA

3. Leon - Julie 6, 2008

Jirre Oom Herman, daai storie het jy al vir my vertel maar dit is moer snaaks…veral die stukkie van pa en ma weet nie wie nou eintlik skuldig is nie ! Ek sal tog graag vir Lucky ontmoet…hy moet is soos
Schalk Burer wees, net sy van is Cornelissen !! Lekker geskryf ou maat !