jump to navigation

My boetie Lucky – episode 2 Julie 2, 2008

Posted by oomherman in People / Mense.
Tags:
trackback

My boet Lucky het eenmaal ‘n baie mooi leerbaadjie gehad. Hy het die ding by my ‘verwerf’ en ek het dit, op my beurt, by my Pa gekry.

Eers myne: 

Sien, dit was Pa se motorfiets-baadjie van sy jeugdige voorjare. Hy het eendag kaste en ou trommels reggepak en op die ding afgekom. Vinnige meet het gewys die ding pas laaaank nie meer vir hom nie, maar hy sal net mooi vir my pas. Ek was erg trots op die baadjie en my boet Lucky woes jaloers, want dit sou nog jare wees voor dit hom pas. 

Lucky kry die baadjie:

Die jare het inderdaad verbygegaan en ek het die baadjie nie so baie gedra soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Boet Lucky het nooit van die ding vergeet nie en het my gereeld kom pla oor die ding. Hy wou dit so graag hê. Soos wat ons maar was, het ek geweier tot lank nadat die ding nie meer vir my gepas het nie. Eendag kuier ons by my ouers se huis. My beste maatjie en Lucky se maatjie kuier ook daar. Ek kry die gedagte om Lucky te laat “werk” vir die baadjie. As die ding vir hom soveel beteken, sou hy mos alles doen om dit te kry. As ek dit nou nog in bietjie vermaak vir my vriende kan omsit, dan wen almal mos. En ek verloor basies niks, want daai baadjie pas my lank nie meer nie. So, hier is die plan: Lucky moet met sy fiets val – so oortuigend dat ons baie hard lag. Geskat aan die lag van die ‘assembled crowd‘ – ek, my maatjie, sy boetie, en ons sussie, sal ek besluit of hy lekker genoeg geval het om die baadjie te verdien. (klink bietjie soos feeding Christians to the lions of iets, né?) 

Lucky vat sy fiets en ry tot bo in die straat. Hy neem die lang aanloop af tot by ons huis, jaag oor die rooi-grond sypaadjie en ruk die fiets se stang. Hy val dat jy net stof, klippe, spoeg en bietjie bloed sien. Ons giggel bietjie, maar dit was nie goed genoeg nie. Hy moet weer gaan. Lucky wil graag die baadjie hê en gaan weer. Hy ry nog vinniger en val weer. Selfde storie, maar nog nie goed genoeg nie. Miskien as hy in een van die bome op die sypaadjie vasry? Ja, sê Lucky, dit sal werk. Hy besluit vir sy eie beswil om hierdie keer ‘n ou motorfiets valhelm wat hy het, aan te sit. Lucky neem weer die aanloop en ry die fiets op helse spoed teen die boom vas. Daar trek net stof en klippe en stukkies boombas. Lucky lê en kreun op die grond. Nee, nog nie goed genoeg nie. Lucky staan op, stel die fiets reg en gaan weer. Teen hierdie tyd het ek seker maar besluit dat hy nie die toewyding het om regtig oortuigend te val nie, so ek besluit om hom te ‘help’. Toe Lucky weer verby kom, gooi ek hom dus met ‘n baksteen teen die kop (hy het mos ‘n helmet op) Dit werk soos ‘n droom! Lucky val dat die stof en klippe tot in die teerpad spat, die fiets se wiel val uit en paar speke breuk. Die boom wat hy op pad grond toe tref, het ‘n baie groot gash in die bas en ons maatjies kraai van die lag!!! Lucky lê vir ‘n hele rukkie stil voordat hy opstaan- die helmet amper nog op sy kop. Uitstekend! Daar wen Lucky die baadjie. 

Kom hier, ek soek jou al lank. 

Lucky het die baadjie seker so 3 weke gehad voordat een van sy meer shady maatjies die ding gesteel en spoorloos verdwyn het. Seker 4 jaar later sit ek en dieselfde maat van my wat die baadjie wen-episode meegemaak het, by hulle huis en speel. Ons hoor skielik net sy ma skree: “Kom help, kom help, julle swerkaters !!!!” Ons dag iemand rand die tannie aan en storm voortuin toe. Daar vind ons die tannie wat met die tuinslang vir Lucky en ‘n groot ou in die straat staan en natlei (soos wat mens maak om hondjies wat te lief raak vir mekaar, te laat uitskei) Die tannie gil en die vuishoue val tussen die twee in die pad. Hulle rol en stoei en moer mekaar goed. Ek en my maat skei hulle uit en die ander ou hardloop weg. Altwee is sopnat, vuil, vol stof (nou meer soos modder) en bietjie bloedneus.

Ek en my maat vra vir al die ‘eye witnesses‘ wat het gebeur? Die tannie kom met die storie uit: Sy het in die voortuin gestaan en tuin natlei, toe die ander ou in die straat verbygeloop kom. Lucky het hom gewaar en, so met die oor die hekkie spring, geskree: “Hey, jy! Kom hier! Ek soek jou al lank!” Toe val die houe. Lucky sê dis die ou wat sy baadjie gesteel het. Die feit dat die ander ou ‘n goeie kop en ‘n half groter as Lucky is, maak glad nie saak nie.  

Ou Lucky sou daardie baadjie met sy lewe beskerm het. Hy het immers hard gewerk daarvoor en het vandag nog die scars om dit te bewys. Ons spot vandag nog met ou Lucky se uitroep: “Hey, jy! Kom hier! Ek soek jou al lank!” Dit beteken min of meer dat ek ‘n appeltjie met jou te skil het.  

Comments»

1. Adele - Julie 3, 2008

Ag shame, jou boeite is rerig gr8! Ek het hom wel net die een keer ontmoet, maar weet jy, jou boetie Lucky, het my onmiddelik so tuis te laat voel. SHAME op jou, dat jy hom so moes treiter vir ‘n baadjie… SIES vir jou!