Rekmerke op jou voet Julie 1, 2008
Posted by oomherman in Done deals.Tags: Afrikaans
trackback
Een betrokke keer gaan ek en my groot maat LC Kanada toe. Ons moes vir werk soontoe gaan en, om die waarheid te sê, hy was reeds die week voordat ek daar aangekom het in Toronto. Hy was op ‘n konferensie van soorte wat die week voor ons beplande besoek geskied het, so hy het sommer net gebly.
Ek vlieg via Londen Toronto toe en kry hom in die hotel soos bespreek. Ek het amper my tasse neergesit gehad teen die tyd dat hy my na die naaste kroeg toe gesleep het om ‘n Labatt’s Blue te probeer. Sien, Labatt’s is sy gunsteling – meer hieroor later.
So is dit darem paar dae vandat ek nou daar aankom en ons verder moet reis na die plekke waar ons eintlik moet wees. Ek het op die Vrydagaand daar aangekom en ons eerste afspraak was die Maandagoggend. Ons verken die omgewing in die tussentyd, soos wat mens doen. Ons besluit dat Niagara Falls net klein entjie van daar af is en die CA$60 of so werd is, so ons sit af bushalte toe om die bus Naigara toe te kry. Ek moet eers vertel dat ek intussen die groot griep opdoen, op ‘n manier. So, ek voel moeg, vrot, die griep vat my soos ek in die voorjare laas gevat is, binne of buite enige drive-inn. Anyway – ek het goeie moed, maar ek voel vrot.
Op die bus, trek ons opmerklike aksente oudergewoonte vinnig aandag en ons gesels met mooi jong mense wat New York toe reis – very cosmopolitan, né? Die trip is meer as ‘n uur en ‘n half, maar dis alles vreemde land en ons neuse maak sulke wasempies teen die bus se ruit soos ons die landskap verken. Dis Maart in Kanada en, hoewel dit vir die locals begin lente word, is dit verby vrek koud vir ons wat nie hierdie koue ken nie (behalwe vir daai aand buite Colesberg)
Ons kom in Niagara aan om uit te vind Niagara Falls is ‘n dorpie, en die actual waterval is aan die vêr kant van die dorpie en waar die bus ons sopas afgelaai het en, nee, daar is nie ‘n ander bus wat jou nader sal vat vir liefde of geld nie. Daar is wel taxi’s, maar so brand ‘n ou jou dagtoelaag vinnig weg, sonder om ‘n Labatt’s in sig te kry. Ons besluit om die ysige koue aan te durf en te stap na die valle toe. Almal wie ons vra, sê dis glad nie vêr nie. Ons loop en verken die plekke. Later kom ek agter maar die plek is nou verder as wat mense belowe het. Ons het seker 2 kilometer geloop voordat ons die eerste keer die rivier gesien het en nog 4 kilometer langs die rivier af voordat ons begin vermoed het dat ons nou naby die valle is. Nie dat ons sou weet nie, want die hele plek is in mis gehul – jy kan nie 50 meter voor jou sien nie. Just my luck – kom halfpad oor die wêreld na Niagara op die een dag wat ek kan, en dan kan ek nie die fo – sorry – die valle sien nie.
Ons loop en loop en loop. My getroue Hi-Tecs, wat al die battlescars van menige avontuur dra, loop lekker. Ons kom uiteindelik by die valle aan, maar ons kan die goed nie sien nie – te veel mis. Teen dié tyd moes LC red, want ek was bra moedeloos. Ek is moeg, honger, koud en die drugs wat ek vir die griep gevat het, het afgewerk, so ek het ‘n ligte hangover sonder om enige party te onthou. Hiper-poefies.
Staatmaker wat hy is, stel L voor dat dit seker tyd is om weer ‘n Labatt’s te soek. Met karig opsies, stem ek in. Ek voel steeds goor, maar na ‘n steak en meer chips as wat enige drie boerseuns kan eet, (die waitress hou aan terugkom en sê sy dink ons kan maar nog chippies kry, en dan laai sy op) afgespoel met ‘n Labatts en nog griep-pille, voel ek sommer stukke beter.
Intussen het die son ook mooi opgekom en dit lyk of die mis dreig om op te klaar. Die dag lyk sommer beter.
Ons stap terug teen die helse bult af waar ons moes opkom om die restaurant te kry, en gaan by Skylon Tower in. Dis hierdie uitkyktoring wat hulle langs die valle gebou het. Ons betaal die kaartjies en gaan op. Kyk die valle, neem baie fotos en kom weer af.
Daar’s hy. Lekker. Nou wat? Wel, seker maar weer terugloop om die bus huis toe te vang? Ons maak so. Dis nog verder as wat ek onthou. Die mis was ‘n seëning, kom ek agter, want as jy nie kan sien nie, het jy geen verwysing vir hoe vêr jy loop nie. Ons loop en loop en loop en loop – julle kry die idee.
Uiteindelik kom ons by die bushalte uit waar ons die oggend begin het. Ons wil nie te vêr gaan nie, maar ons is immers baie vroeg vir die bus en die volgende Labbat’s-stop is net so 2 of drie blokke vêr terug in die dorp in. Weer ‘n gelopery. Ons kry nog Labatt’s en sit en kuier saam met local mense tot dit tyd raak dat die bus moet kom. Stap terug bushalte toe en vind die regte bus. Ek klim op en raak feitlik onmiddelik aan die slaap.
Ek word wakker toe ons in Toronto aankom en die drywer vinniger as gewoonlik vir ‘n robot stop (dis net ons wat verkeersligte robots noem) Onmiddelik wil ek uitvrek van die pyn – ek het my voet verslaap! My voet wil nie beweeg van waar ek hom onder die voorste bank op die bus ingeprop het nie en hy is vrek seer. Ek vermoed die voet het lekker warm geloop geraak deur die dag en toe hy die aand ontspan toe ek op die bus klim, koue gevat of iets en so gekramp en goed laat ek hom nie kan beweeg nie. Toe ons in Toronto stop, toe kan ek vir alle praktiese doeleindes nie loop nie. Ek huppel-skuifel terug hotel toe en soek goed om my voet te versorg. Niemand in Kanada het al ooit van Vicks of Deep Heat gehoor nie.
Ek sukkel die volgende twee dae so voort en uiteindelik toe ons in Sudbury stop na die sneeu-insident, verkoop ‘n apteker aan my Tiger Balm. Nou, ek het in Thailand geleer waarvoor Tiger Balm goed is, maar ek het nooit gedink ek sou dit op my voet sit nie. Dit was met groot trepidasie dat ek die goed op my voet gesit het, natuurlik uit pure vrees dat my voet nog stywer sou raak. Dis daardie aand, toe ek my skoene uittrek, dat ek oplet dat ek ‘n rekmerk om my voet geloop het. Nou daar het jy dit. Wie wat jy ken het ‘n rekmerk op sy voet? So, net ingeval al die fotos dof raak of per ongeluk delete word, sal ek Niagara nooit vergeet nie, want ek het evidence.
Ek is immers die persoon wat rekmerke op sy voet sal loop om Niagara Falls te sien.
En net ingeval julle dink ek lieg….





LOL, ek het dit nog nooit gesien nie, mmmm, maar funny, ek het nooit vir jou voete gekyk nie, OF so naby bestudeer nie. MAAR ek moet sé ek is beindruk! MAAR jy kan stry, ek is seker jy iets gesien wat baie van ons net wens! Sooo ek dink die rekmerk was die moeite werd!