Armystories 1; Koudkry Julie 1, 2008
Posted by oomherman in Hoort nie in ander kategorie nie.Tags: Afrikaans
trackback
DIe twee kere wat ek regtig koud gekry het in my lewe, was albei toe ek in die army was.
Die eerste keer: Potch se Bloubos. Ek was ‘n gunner – ‘n kanondonkie, soos my pa sal sê. Ons het lekker groot ‘gunne’ van die army geskiet. Die artillerie brigade buite Potchefstroom is tussen Potch en Ventersdorp. Agter die Artillerie Brigade is daar ‘n groot skietbaan (net Lohatlha is groter) waar mens met hierdie kanonne kan oefen. Dis winter in Potchefstroom en ek is in die army – daar is nie huis toe gaan na ma-hulle se huis met die lekker kaggel van kleintyd nie. Saam met ons ry tegniese outjies – hulle dra sulke groot rekenaars by hulle op die heup waarmee hulle allerhande slim somme maak laat ons die bomme raakskiet. Hierdie outjies het ook so ‘n kar waarin daar instrumente is, waaronder twee; die natbol- en droëbol termometers is. (Hoop julle onthou aardrykskunde)
Ons is in die bos en skiet gedurende die dag alles deurmekaar. Dis Augustus in Potchefstroom. Dit raak al kouer soos die maand se bosopleiding aangaan. Die standaard prosedure is dat ons tussen die lae van ‘n camo-net op die grond slaap. Die camo-net is groot en swaar, so 4 van die 5 spanlede kruip solank in, en die 5de ou moet die klomp toegooi. Jy kan nie beweeg as jy eers toe is onder die net nie. Jy trek jouself eers aan: thermal ‘longjohns’ wat ma gestuur het, frokkie, t-hemp, kouse, nog kouse, hemp, broek, bosbaadjie, jas, handskoene, boots. Slaapsak ‘inner’ en dan slaapsak, alles bo-op die een helfte van die camo-net. Die res vou maatjie netnou oor jou. In die oggend rapporteer die tegniese spannetjie dat die droëbol temperatuur in die nag by -7 grade gedraai het en die natbol by -22 grade !! Dis baie koud. Net ouens wat dit deur is sal weet hoe koud ‘n “scooter’ se seat in die oggend is, nog voordat jy moet gasvlam hou onder die Samil om die watertenk te ontvries vir skeerwater.
Die ander keer is ek opgeroep vir ‘n kamp in Grahamstad. Kamp was lekker, maar liefie by die huis klink lekkerder. Ons is drie ouens wat besluit om eerder te ryloop as om vir die trein (waarvoor ons kaartjies het) te wag. Ons begin heel suksesvol en kry ‘n geleentheid saam met een ou tot by die Paarl. (Die vlug van Grahamstad het ons tot in Kaapstad gevat.) Van daar tot in Beaufort-Wes agterop ‘n trok, maar dit maak nie saak nie – die huis (en liefie) kom nader. Op Beaufort, is dit nog ek en een ou – die ander het intussen ander pad moes vat. Ons wil altwee noord op die N12 Kimberley se kant toe, hy na Hanover en ek na Kimberley self. Al die vragmotors wat stop, gaan egter Bloemfontein toe en kan ons nie oplaai nie. Ons staan tot 8-uur die aand voordat ons besluit om op die Bloem-pad te gaan en van daar Kimberley toe te gaan.
Die volgende vragmotor stop en ons klim in. Stel onsself voor en dit gebeur toe so dat ons al drie dieselfde voornaam het – ek, my reisgenoot, en die drywer! (mens noem mekaar in die army mos maar op die van, so ek het nie eers geweet my reisgenoot, met wie ek sopas vir ‘n maand op kamp was, het dieselfde naam as ek gehad nie) Die drywer van die vragmotor het die oggend uit Johannesburg vertrek Worscester toe om druiwe te gaan haal. Die goed moet die heeltyd by 3 grade celcius gehou word om nie te vries nie, want dan bars dit. Hy het die oggend uit Johannesburg gery, die druiwe gelaai in Worcester, en dit was 8-uur die aand toe hy ons oplaai in Beaufort op sy pad terug. Naby Hanover laai ons die ander outjie af en nou is dit net ek en die drywer.
By Colesberg kan die drywer nie meer nie – die ou is erg vaak en moeg. Ons stop om te rus. Die vragmotor het so ‘n ’sleeper-cab’ en die drywer bied een van die nou bedjies (daar is twee – bomekaar) aan. Ek gaan lê, maar daar is nie komberse of enigiets nie. Die vragmotor moet ons afsit om diesel te spaar en die drywer gaan nie sy kombersie opoffer vir ‘n army-outjie nie. Twee goed onthou ek van daardie aand: (1) Ek het moer koud gekry – die outomatiese koeltrok wat ons gesleep het, moes heelnag loop om die druiwe WARM te hou, en (2) die ander is dat die polisie ons 3-uur die oggend uit die vragmotor kom pluk het om die vragmotor te ondersoek, want daar het blykbaar ‘n plaaslike meisie weggeraak in die vroë oggendure en mense het gesê sy is “na die trokke se kant toe”.
Daai aand in die trok is die koudste wat ek in my lewe gekry het, maar was nie halfpad so koud soos die koue wat om my hart kom sit het toe ek een dag vroeër as beplan in Kimberley aankom en vir Liefie in ‘n ander man se arms vang nie.
O donner! Verskoon my frans, maar hel Oom H, hierdie het jy my nog nooit vertel nie. Dit is eintlik erg weet jy, jy suffer op kamp, en jou liefie kuier in ander mans se arms. Ai jong. Toemaar gelukkig het jy nou ‘n liefie wat jou baie lief het!